Alzheimer en Parkinson as vennote (Brons)
Alzheimer en Parkinson as vennote
tussen spierwit lakens en sagte kussings
dwaal jou menswees rusteloos
agter toegetrekte gordyne
drentel herinneringe doelloos oor woestynduine
waar jou lewenspendulum
eensaam – alleen – verstote
tik-tak-tik-tak
ek skryf jou laaste Ars Moriendi
met my liefdevolle laaste gedig
die laaste letters, woorde, sinne, paragrawe en gedigte
vir altyd voltooi
as die dodelike uitwissing van jou onthou
gate vreet uit jou eens giniale meestersbrein
ruik ek die doodsgeur tussen vier mure
met Parkinson jou eens vlugvoetige voete
slegs skuifelstappies sou word
jou bewende hande vasgevang in Parkinson
lē nou blou gemartel met naalde doodstil
terwyl jou blou vensters nou toegegrendel is
verby die mylpale van
geen geloof
wanhoop
ongeduld
gestroop van geestelike trots
gierigheid
en pyn
op die drumpel
van jou oorstap na die ewigheid
na jou Ewige Liefde en nuwe Metgesel
waar my gedig nou saam sterf
met jou laaste asem
wat sag oor jou lippe
vlerke kry …
@Linda du Plessis 11/2023
2 Kommentare
-
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Linda du Plessis
November 2023: Oop projek