Appels en Pere
Aflaai, opgradeer, groter, beter , vinniger
stoor alles in ‘n wolk, boks of driehoek
geduldig en geborge wag die data daar
terwyl toestelle sync
en dit is waar my moed sink…
Sirkel sirkel sirkel terwyl niks gebeur
vee skerm halfpad/ van onder na bo/
vee links/ vee regs
maar my skerm verdwyn
Onkunde saai paniek en woede,
ontlok middeljarige vloermoere
ek tas in die duister, ek smeek, ek soek
gevolg deur ‘n groot gevloek
laastens die geween en gekners van tande
maar die vyand lê vreedsaam in my hande
Waar is ‘n tiener in my uur van nood?
dan flikker die skerm, sowaar
al die GIFs, fotos en videos is daar
gevolg deur die lêers en dokumente
Ek tik die eerste WhatsApp
die Vyand reken hy weet van beter
ek tik “niks”, hy kies “Nike”
ek tik “daardie”, hy kies “Deidre”
ek tik “beter”, hy kies “sweater”
Alles begin mettertyd tog in plek val
dat die foon toe oulik is en my geval
hy raak selfs bekend met die Afrikaanse taal
saam-saam begin ons ‘n lewe deel
en na twee jaar is die vertroue geheel
Dan weer opgradeer, aflaai, vinniger en beter
tog te pragtig verpak
sit aan, sit sim in
die eerste skerm verskyn
ek weet selfs dat ek nou moet vee
maar, aarde tog, nee!
die sirkels verskyn, die skerm verdwyn
Die Vyand lê vreedsaam in my hande
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Seirdna
Puik