Badtyd
Badtyd, deur Stephan Uys
Die laaste keer wat ek gebad het, was…laaaank, laaaank gelede. Om die waarheid te sê, die laaste badsessie wat ek kan herroep was op my huweliksnag. As ek egter oor daardie storie praat gaan julle binnekort om ‘n sesvoet diep gat vergader, met die komplimente van die een waaroor daardie storie sou gaan. Ek kan wel dit sê, ek en Liefie kon daardie aand saam in die bad pas, én daar was nog so ‘n bietjie spasie oor om in te beweeg.
In ieder geval, ek bevind my een en twintig jaar later weer in ‘n badkamer sonder ‘n stort. Neef het ons genooi vir vakansie, en toe hy en sy vroutjie gaan badkamerdinge en goete koop, het hul nooit aan ‘n stort gedink nie. Die badkamertjie is mooi uitgeteël en lyk al te netjies, maar daar is geen stort nie. Met die mooiste herrineringe aan wat eens was, nooi ek toe vir Liefie om saam met die baas te kom bad. Haar snorklag en neerhalende kommentaar oor my ronde lyfie find ek alles behalwe respekvol. Ek strip daardie ding wat meganiese manne gebruik om boute mee vas te maak en begin water in die bad tap. Nou probeer ek onthou waar die watervlakke laas min of meer gelê het toe ek in my prulle jeug gebad het. Toe ek reken dit lyk omtrent reg draai ek die krane toe. Ek trek rustig uit en wonder of ek nie maar weer vir Liefie moet probeer oortuig nie – die herinneringe het al varser geword soos die stoom uit die bad my sinusse opgemaak het. Ek besluit dan daarteen; ‘n man het darem sy trots, jy weet!
Ek sukkel bietjie om my been oor die hoë badrand gelig te kry, en moet so bietjie handbysit met die regterhand. Ek steek half uitasem van inspanning my voet in iets wat jy kan gebruik om die hare van ‘n vark se karkas af te verwyder! Ek brand die tone van my regtervoet dat dit lyk of ek hul in ‘n kan rooi verf gedompel het. Skok en pyn laat my agtertoe steier todat ek my kop teen die badkamermuur stamp. Vir ‘n oomblik sien ek myself in die vollente spieël. My regter onderbeen is opgebuig na bo, terwyl my linkerhand my tone vryf. My regterhand hou die bebloede agterkant van my kop vas, en dan is ek nog besig om rond te slinger in ‘n desperate poging om my balans te behou. Ek lyk soos daai draaiende balerina in ma se juwelekassie van jare gelede; net nie heeltemal so grasieus en tenger nie! Ek dartel onfraai tot op die toilet en vat my hand versigtig van my kop af weg, bang ek bloei dalk uit as ek drukking van die wond afhaal. Ek kyk verstom na my onbebloede hand en besef dit was seker net die kondensasie teen die muur wat my kop so natgemaak het. Met groot verligting vestig ek nou my aandag op daardie rooigebrande tone van my, maar na verdere ondersoek (wou nadere ondersoek doen, maar my maag weerhou my daarvan) is ek oortuig dat hulle sal herstel en weer ten volle sal kan funksioneer binne afsienbare tyd.
Nou moet ek plan maak om die water kouer te kry. Ek kan natuurlik drie ure wag, maar Liefie en die kroos moet ook nog kom bad. Ek besluit om die hitte met my vinger te toets – die linkerhand se pinkie. As ek ‘n vinger moet opoffer, sal dit dan maar hy wees! Versigtig steek ek hom in, maar by die tweede lid raak die pyn eens te erg. Terwyl ek hom onder die koue water lawe sien ek die kraan sit reg oor die prop, en ‘n plan skiet my te binne. Ek smeer my regterarm vaseline; lekker dik, sodat hy sommer vir my swaarder voel as vantevore. Toe draai ek die kouewater vol oop. Ek gee die water so tien sekondes om deur te werk, toe druk ek my arm in die bad in, reguit op pad na die prop. Superman en Flash sou stadig lyk teen my. Ek gryp die prop en pluk so hard dat ek weer met my rug teen die muur beland, maar die prop is veilig in my hand. Ek laat genoegsaam water uit en vra al wat ‘n Waterraad is omverskoning vir die verkwisting te midde van die droogte. Toe die watervlak weer reg lyk om koue water in te tap, herhaal ek my prosedure, maar die keer plant ek daardie prop dat ek nie seker is of Superman self hom weer sal kan uittrek nie. Soos Noag van ouds die watervlakke getoets het deur elke keer ‘n voëltjie uit te stuur, toets ek die water se hitte met my vingers. Toe ek en my wysvinger ooreenstem oor wat aanvaarbare temperatuur is, gebruik ek weer my regterhand om my been oor die rand te tel. Die ander been kom maklik oor, maar ek skop my tone teen die bad se boonste rand. Ek dag ek is veilig oor en ek het met spoed my been oorgepluk. ‘n Paar warm woorde verlaat my lippe! Nou is altwee my voete se tone seer. Een voet se tone is rooi gebrand, die ander sin is blou gestamp. Goed ongelukkig met Liefie, die bad en sommer die hele wêreld gaan sit ek lekker agteroor in die bad – of altans dit was die plan! Toe my agterkant met die bad se bodem kontak maak, veroorsaak ek ‘n mini-tsunami in daardie badkamer. Die water stort aan alle kante oor die bad se rand, jy sien net shampoos, conditioner, seep, bubblebath en wie weet watter ander geite oorboord spoel. Maar teen dié tyd is ek so die dinges in vir alles, ek besluit om dit te ignoreer tot later. Ek sak saligluk agtertoe om my kop op die bad se rand te rus, maar skielik steek ek halfpad vas! Dit kos my om my skouers dwars te draai net om myself weer te kan laat regop sit. Regop sit maak ‘n groot man soos ek vreeslik vinnig uitasem. Jy sien jou longe en jou maag deel nie graag dieselfde spasie nie, en dit is wat nou gebeur. Net voor alles swart word voor my, kry ek myself op my elmboë bo-op die bad se rand gestut. Ek sit vir ‘n minuut of wat en veg om my asem terug te kry, terwyl ek verskillende senarios in my kop afspeel. In geen een van hulle kom ek by ‘n plek uit waar ek myself en al my benede dele skoon genoeg gewas kan kry dat ek sou kan sê ek voel skoon nie. Ek besluit toe op die een wat die meeste potensiaal vir sukses beloof, en gaan stoei myself op my knië. Ek begin by my skoonste dele seep aansit en werk myself af na die dele wat seep en water die nodigste het. In die tussentyd sien ek hoe gister en vandag se vuil om my begin ronddryf, en ek het nog nie eens begin afspoel nie. My asem raak al korter hoe meer ek my lyf moet verwring om by weggesteekte plekke uit te kom in die vasgeknelde klein badjie. Ek neem ‘n melkbeker wat eenkant in die hoek staan (gelukkig, anders was die ook weg in die tsunami) en skep dit vol water. Nou begin ek die seep van my af te was deur die water oor my te gooi. Meer water stort oor die bad se rand, maar ek druk deur. Toe die meeste seep af is, stoei ek myself tot op my voete. Ek wag ‘n oomblik of twee om my hartklop te stabiliseer, en tap toe so ‘n mengsel warm en koue water saam in die houertjie. Die water gooi ek oor my kop uit sodat dit orals oor my lyfie afloop. Al die stoei en spartel met kniel en opstaan, en buk en strek, werk soos ‘n aerobiese sessie in op my. Ek begin myself afdroog, maar soos ek die handdoek van my tenger lyfie wegvat, pop die sweetdruppels uit en begin teen my lyf afloop. Ek droog af so veel ek kan sonder om my hartklop verder te verhoog, trek my swembroek aan en gaan staan buite in die tuin. Terwyl ek die tuinslang oor my kop oopmaak, hoor ek Liefie vloek omdat die badkamer se vloer glo soos ‘n visdam lyk, maar ek voel ‘n veer vir haar. “Hoekom?” vra jy my? Het jy al gevoel hoe warm is die water wat uit ‘n tuinslang kom wat heeldag in die son gelê en niksdoen nie? Toe ek daardie kraantjie oopdraai, toe vind ek uit!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.