Jan in die hospitaal
Mense julle sal dit nie glo nie. Die arme Jan was in die hospitaal. Ek kom nounet van hom af, nie van die hospitaal nie, maar van sy woonstel af, maar wag, nou begin ek mos die ding by die einde.
Wel, soos ek gesê het, Jan was in die hospitaal. Hy bel my vanoggend douvoordag, kyk dit was nog so koud my koud het koud gekry, toe lui my foon. Ek sien dis Jan en dadelik bespeur ek onraad, want ek weet Jan hou net so baie van sy slaap as van sy kos. Die ou kan mos slaap net waar hy kom, en as hy slaap onspan die liggaam en dan blaas hy af en dan slaap hy nog lekkerder. Die probleem is natuurlik die omstanders en bystanders moet gewoonlik op die vlug slaan, maar hiervan vertel ek later.
Jan bel my en sê my hy het geweldige pyn en die ambulans het hom kom haal en hulle is nou oppad hospitaal toe. Ek slaap toe maar verder nadat ek belowe het om te kom inloer as dit besoektyd is en ook sommer ‘n tjokkie of ‘n eetdingetjie saam te bring. Ek ken mos vir Jan, ‘n soetigheidjie is mos altyd welkom.
Ek stort toe maar en trek aan en so skuins voor elf is ek by die hospitaal en begin navrae doen na Jan. Die suster vertel my toe hy is reeds ontslaan, maar die uitdrukking op haar gesig vertel my sommer dat sy nie ooghare het vir Jan nie, en ek bespeur die moontlikheid van ‘n probleempie.
Ek’s dadelik daar weg op soek na Jan, en vind hom toe by sy huis waar hy rustig op die bank sit en rugby kyk. Ek va hom wat aangaan en wat gebeur het, want ek is natuurlik bekommerd oor my vriend.
Met die skaterlag Jan. Hy sê hy het so ‘n vreeslik pyn op sy bors gekry en ontbied toe maar die ambulans, die manne was baie vinnig en het hom sommerso lê-gemaak en hulle is op ‘n vaart daar weg met loeiende sirenes. Jan reken dit was nogal ‘n baie “exciting” storie, die sirenes en die gejaag. Hy sê die ambulans ou het hom ook suurstof gegee, en dis juis dit tesame met die geskommel deur die oggendverkeer wat toe die “pyn” so bietjie verplaas vanuit sy bors tot in sy buik, waar dit ook toe begin grom. (Die “pyn” was seker kwaad dink ek, maar ek sê niks)
Jan reken toe hulle by die hospitaal aankom en in die trauma eenheid instorm toe weet hy hier kom nou groot moles. Hy sê hy wou nog iets sê, maar hulle het hom daar agter ‘n gordyn in en ses manne gryp sy lakending en lig hom tot op ‘n hospitaalbed. Jan reken hulle moes dit nie gedoen het nie. Hy reken die “pyn” het nie van die beweging gehou nie en kom toe uit, en oudergewoonte het hy maar bietjie “force” bygesit om seker te maak alles, maar alles word geevakueer.
Op die oomblik, ‘n breukdeel van ‘n sekonde na die impak van die klank die omstaanders getref het, tref die stank hulle, want hy het mos weer gaan ribbe & tjippe eet die vorige aand, met uieringe. Ons weet natuurlik wat dit beteken. Jan reken die eerste ambulans ou het so ligter skakering van groenpers geword, die ander ou, was ‘n omstaander, toe word hy ‘n omsitter, sommer net daar op ‘n stoel, met sy bleek gesig in sy hande. Die verpleegsuster het blykbaar begin hoes en is daar weg met helfte van die gordyn om haar, die ander verpleegsterjie het wankelrig weggestap, met sulke snaakse rukbewegings, soos ‘n hond wat wil braak.
Hy voel toe sommer net daar weer perdfris en gesond en staan op en stap na die deur. Die verpleegssuter by die deur wou nog keer, maar die walms wat hom agtervolg het, het haar oorrompel soos ‘n vae onsigbare mis, en sy het half vinnig die deur oopgemaak dat hy daar kon uit. ‘n Hele paar ander mense het blykbaar ook die trauma eenheid geevakueer op die spesifieke oomblik.
Jan dink dit was ‘n baie goeie ondervinding, en dat hy nou seker is van twee dinge. Eerstens is die ambulansdiens en die hospitaal gereed indien hy hulle weer sou nodig kry, en tweedens is al die mense in die trauma eenheid nou werklik siek en het dokters nodig.
Ek het maar net te lekker gelag, bly dat my ou vriend hom nie deur ‘n windjie laat onderkry het nie.
© Grootvissie
Julie 2017