Charles Skeen (Teárlach)
BRONS KLAS
Augustus 2019 – Wilde wind projek
1.Mistig
pikante, dekadente visgereg
sag soos sy geweef in diep blou see
so laai die miswolke op oor die baai
met dagbreek is sigbaarheid min
stadig blaai sonstrale daardeur
open die baai soos ‘n boek
met bladsye van ragfyn
strale oranje lig
wat woorde
in kleure
verf
©Teárlach
3.dit is gedoen
in die omte van my duin
het ek gefilosofeer en gedroom
my gees het behoorlik gesweef
gedagtes het woorde geword
woorde het gedigte gemaak
gedigte het stories vertel
party word gelees
ander vergeet
gedoen
maar
nie
volbring
©Teárlach
September 2019 – Verplasings projek
2.Lente by die see
soos dit in een dag winter geword het
is dit vanoggend van vroeg af al lente
my duin straal klein hittegolwe uit wat
blinkend refrein teen die see se deining
naby in die swartland staan die koring
geil-groen,regop en reg om saad te skiet
plek-plek in droeër kolle begin die geel
waar minder reën geval het plante kwyn
die baai is so kalm soos voor ‘n storm
lê soos ‘n spieël uitgestrek tot horison
met groot met gwano wit-geverfde rotse
wat soos renosters net stil staan en wei
hierdie naweek op my duin is daar lewe
die eerste maand met ‘n R is mos hier
nou kom hengelaars en naweekgangers
weer see toe na die koue suid-ooster lê
tussen wit huisies van oos na wes roer
daar mense wat bou en plant in tuine
grys sand-tuine in kleure begin optooi
winter klere word weg gepak vir somer
so vlieg nog ‘n jaar verby oor my duin
maar sit sal ek sit – tot die laaste sonlig
my duin nog kan verlig in oggend gloed
©Teárlach
Maart 2021 – Liefdes projek
3.oikos
uit openbare wildernis
het my huis sy plek
gevind op ‘n duin
woorde hul
oikos
gevind
waar risiko
gulsig verslind
die algoritme
van my
siel
*(oikos verwys na huis of blyplek)
©Teárlach
Mei 2021 – OOP Projek
Eervolle vermelding
Visie
wye lens kyk ek oor die see
van oos na wes streep wit branders
heen en weer in reëlmaat opgewen
soos die klanke van ‘n wals
–
wat ek sien neem visueel op
bêre dit vir die oudag van swak sien
herhalende beelde van mooi en rein
soos die musiek van ‘n refrein
–
in elkeen se tonnel van smarte
kyk baie mense die enigste Lig mis
dié met tonnelvisie sien dit dalk raak
soos musiek van die triomf mars
–
waar branders strand ontmoet
vorm silwer soom van dankbaarheid
suig sand en slakke gulsig daaraan
soos die musiek van finale noot
–
©Teárlach
SILWERKLAS
Oktober 2023 – KORT projek
1.lit
die lit is lid
van my liggaam
wat dit beaam
©Teárlach
Mei 2024 – OOP projek
3.gewaarwording
die gevoel
kom en gaan
soos bloed, suurstof
dra van long tot spier
so kom en gaan die pyn
ook die euforie van lewe
wat soggens vroeg verskyn
so asof die sonlig alles wat sleg
onaangenaam is, kan verdoof
salig die gewaarwording
van hernude lewe
wat die saad dra
van hoop, liefde
en geloof
Ó Tearlach.
JULIE 2024 – OOP PROJEK
2.mistroostig
kibbel kabbel
reēndruppels teen sinkdak
laat spoortjies oor stofbelaaide glas
musiek van die wind wat daar waai
prent rustigheid in my gemoed
gee spoed aan my verdunde
bloed
kwik sak in rasse skrede
fyn sneeuvlokke sif uit die mis
land sag op die dorre sand duine
klanke van bibberende voëltjies
wat nes skrop in die nat weer
en grysbok ooitjie se blêr
roep
verkrummel sit mak kat
met vies gesig teen ‘n muur
min lus om buite te gaan urineer
sagte klanke van ketels wat kook
hitte strepe styg uit skoorstene
versprei rooikrans stompe se
reuk
ÓTearlach.
November 2024 – OOP projek
3.kreukels
“in die kroes van jou kreukels
neem jou sagte antwoorde
die grimmigheid weg”
stropers oes daagliks my woorde
uit gedagtes nognie ontvou
wat my laat struikel
oor die klawers
van my drome
ontneem my
die uitkoms
bedink ek
beplan ek dit
in katas wat speel
voor my aangesig verby
selfs in meetkundige lemmas
wat Euklides in verbasing sou laat
laat dit my met net nog ‘n kadawer
“my katatoniese katapleksie kom kaplaks, maar nie onverwags”
Ó Tearlach.
Katapleksie – word gekenmerk deur ‘n skielike verlies aan spiertonus
Katatonies – ‘n toestand van onbeweeglikheid en onreaksie op eksterne stimuli, wat dikwels gepaard gaan met rigiditeit, postuur en ‘n gebrek aan verbale kommunikasie.
Kata – bestaan uit verskillende gestileerde oefenreekse, dit wil sê reekse aanvals- en verdedigingsbewegings.
Klaudios Euklides, ook bekend as Euklides van Alexandrië, fl. 300 v.C., was ‘n Griekse wiskundige wat algemeen gesien word as ‘Die vader van meetkunde’.
Lemmas – Trefwoord of leksikale item in ‘n naslaanwerk; die kanonieke of eenvoudigste vorm van ‘n woord of frase.
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
1.hand
uit jou hand
weerklink dit van kant tot kant
weinig is bekommerd
of dit links of regs
gaan val
elke gedagte
van links of van regs
word soms interpreteer
as aweregse snert
o my hert
© Tearlach.
OKTOBER 2026 – OOP PROJEK
3.tyd
die enigmatie van tyd
ruis oor my duin vanoggend
soos augustus winde wat waai
wie weet waarvandaan of waarheen
tyd in gisters, daagliks en van mōres
tyd wat stadig verloop in jou jeug
wat soos storm en drang swiep
en verbygaan – dan net waai
oor dae, weke maande
en jou laaste jare
dan geld tyd
maar min
elke
gedagte en sin
word onsterflike
bagasie
© Tearlach.
FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK
1.stilte
eers sagte dreun geluid
van ver oor die see vibreer dit
vermeerder in intensiteit nie toon
word naderhand so erg dat dit oorneem
alles en almal oorneem tot in diepste siel
dit voel asof my breinlobbe saam vibreer
soos ‘n selfoon se vibrasie net baie meer
sag, onheilspellend dreun die golwe
op strand is daar net grys mis
oor wit huise hang die mis
alles in en om my is net mis
elke gedagte versper deur geluid
dan skielik, asof dit nooit was
verdwyn die geluid en is daar niks
geen geluid – tot naguil skielik skor
sy onderbroke jagtog hervat
stadige hervat van ander
gewone nag geluide
dit was mos
die mishoring
wat alle skepe
waarsku, oor die
gevaar van onsigbaarheid
op die baai se mistige see
© Tearlach.
JUNIE 2026 – STREEK/OMGEWING PROJEK
2.bergrant
waar ek aan jou voete rus
jou blou skynsel in my oë
is jy van klynsaf heel getoë
toegevou in skadus so knus
stap ek oor jou hemelboog
op voetpaadjies van weleer
al word my hart nog so seer
kan ek jou prentjie nie afsoog
o, bergrant van my hart se punt
jou liejie draal nog deur my lyf
van elke spier gespanne of styf
sal ek jou ooit kan afskryf my kind
sing ek my liedjie dralend aan
my bergrand wat nooit vergaan
kan iemand dit ooit verstaan
© Tearlach.
3.bedrewendheid
sag dog dringend
laat hul die skuite uit
op golwende watervlak
kalm soos ‘n meer lê dit
blink soos ’n spieël van glas
die oggendmis lê laag en dig
in die ooste dring sonstrale
dreig om deur mis te breek
my ore tel mense stemme
wat haastig nog skel
bevele gee
dan brul
motors
en wit boë spat
voor boë klein en groot
diepsee toe waar skole snoek
aandag trek op digitale skerms
onmisbaar groot strek die skole
haak, breek sy nek en gooi weer
een vir een per handlyn getrek
val die slap lywe in die boot
tyd vir kopkrap is daar nie
vanmiddag is dit vol gelaai
dan begin die vlek
en verkoop
alles
deel van
’n bedrewenheid
eie aan die
weskus
© Tearlach.
JULIE 2026 – LAAT EK JOU VERTEL PROJEK
1.Spieëlbeeld
jou woorde val soos klippe in ‘n oopgemaakte hand
jy bou ‘n hoë vesting om jou eie klein verstand
jy dink jy ken die rigting en jy dink jy sien die pad
maar agter al die grootheid lê ‘n leë, breekbare skat
verwaandheid is die skild van ‘n hart wat eintlik bewe
‘n harde, dowe stem wat in sy eie vrees bly lewe
want wie homself miskyk en sy eie foute vrees
sal altyd op ‘n troon bo sy medemens wil wees
wie ander plat wil trap om net self ‘n duim te groei
sal nooit die regte vrugte van ‘n ware vriendskap bloei
sonder deernis vir ‘n ander gaan jou eie liggie dood
dan krimp jou eie siel in jou selfgeskepte nood
respek is nie ‘n titel wat jy sommer net kan vat
dit lê nie in jou rykdom of die klippe op jou pad
dit leef in stilte luister en die sagtheid in jou oog
dis hoe jy voor ‘n ander se seer en menswees buig
jy verdien dit in die loopvlak van jou daaglikse handel
in die opregte spore waarin jou voete wandel
sorg eers vir eie waarde, kyk diep na binne toe—
want eers as jy jóú respekteer, sal ander dit ook doen
© Tearlach.
SEPTEMBER 2026 – OPINIE PROJEK
2.wetenskap
weet en skep
indikasie – kennis
goed nagevors, toegepas
wetenskap is geen idiologie
eerder die vrug van Godgegewe
ontwikkelende mensebrein
solank dit aangewend word
om die mens se lewe
te verbeter
bly dit
aktueel-
wyk dit af
na allerhande
ontploffende valswaarhede
word dit die idiologie
van mense-idiotika
daarteenoor staan
cochlear inplantings
vir die wat nie kan hoor
bioniese oë vir die blindes
kunsledemate, organe
vir die wat wil leef
dalk
brein-stimulant-inplantings
vir die slagoffers van
dwelmverslaafde
ouers
in die oë
van ’n dwaas
is wysheid vaag
en onbekombaar
selfs ’n bedreiging
vir sy voortbestaan
© Tearlach.
(11)