Bosbokkie-oe
My bene skanier outomaties inmekaar en ek sak soos ‘n sak aartappels in die skadu van ‘n wilde proteabos neer. Hierdie gloeiende rooi gesig het ek te danke aan my vriend se avontuurlistigheid.
“Plaas het jy nie nét gehardloop as iemand jou jaag nie,” lag Jonathan ten koste van my eie ou grappie, “dan was jy nou heelwat fikser, Dude.” Ek glimlag net, te moeg om saam te lag. Ons het geklim tot naby die grot se ingang. Destyds het Jonathan se oupa ontdek dat die grot twee openinge het en dat dit met ‘n enkele deurgang verbind is. Hier reg voor ons, grynslag die Grot tandloos met ‘n gapende oop bek. Ek kan sweer dat twee rotsformasies soos hol oë lyk. Dit voel kompleet asof hy vyandig vir my grinnik en ‘n voorbode gryp met koue vingers beklemmend om my hart. Hy wág vir ons, wag vir dit wat gaan gebeur.
“Ek hou nie van die Grot se bakkies nie,” probeer ek op ‘n ligter noot sê terwyl ‘n rilling oor my lyf draf.
“Ja, jy kan nie so ‘n gesig vertrou nie. Sy oë sit nét te naby aan mekaar,” skerts Jonathan so onderlangs. Ons is al beste vriende van Graad 1 af en ons kom baie goed oor die weg, maar soms kan ek hom verwurg oor sy onvermoë om enige iets ernstig op te neem.
In ‘n gemoedelike stilte tussen ons, kraak ‘n takkie onverwags. Ek wip orent. Sagte bruin bokkie-oë kyk stip in myne. Tania! skiet dit deur my gedagtes. Net so skielik as wat sy verskyn het verdwyn sy, onsigbaar ingesluk deur die fynbos.
“Bosbokkie,” sê Jonathan. “Hulle loop volop hier rond en verniel die wingerd.”
Onbepland takel ek die olifant in die vertrek. Dit was immers my plan om hierdie langnaweek finaal te besluit. “Ek het besluit om my en Tania se verhouding te verbreek,” los ek die bom.
“Jy is seker nie ernstig nie?” kom dit geskok oor Jonathan se lippe. “Tania is jou trouvrou. Julle kom al so ‘n ver pad saam en almal kan sien dat julle baie lief is vir mekaar.”
“Dit is nie vir my maklik nie. Ek kan my nie ‘n lewe sonder haar…”
“Jy moet mooi dink my ou. Sy is al in haar dertigs en…”
“Dit is júís! Sy wil kinders hê en ek gee te veel vir haar om. Wat as ek haar eendag in die steek laat? Jy weet my pa … ek het nog altyd verwerp gevoel.”
“Ja, ja, jou pa het verdwyn na jou ‘Downie’ sus se geboorte, maar ek ken jou. Moenie dat Tania deur jou vingers glip, net omdat jy ‘moontlik’ soos jou pa is nie.”
Ons haal die flitse uit die rugsakke en kom orent. ‘n Angstige gevoel spoel soos ‘n golf oor my toe ons die Grot binnegaan. Ek is só ‘n sissie. Bang vir die donker, bang vir hoogtes, bang vir engtes, bang vir ‘n vaste verbintenis met Tania … Hoe verskil ek en Jonathan nie van mekaar nie. In teenstelling met my korter, dikker lyf, is hy lank, lening en fiks, sonbruin geboer. ‘n Netjiese lang poniestert hang laag in sy nek. Jonathan is eerste om sy flitslig aan te skakel en hy lig opgewonde in die donker rond. Die reuk van klam grond en verrottende blare hang dik en versmorend in die lug.
“Nogals groter as wat ek gedink het,” merk Jonathan verbaas op. “Amper so groot soos my buitekamer.” Onverwags skyn hy sy lig, regs bo in ‘n hoë spleet in die rotsdak. ‘n Swerm vlermuise tornado na buite en hulle vlieg blitsvinnig en deurmekaar, ‘n skril geraas wat meng met doelgerigte chaos. ‘n Onaardse gil eggo deur die hol ruimte. Ek besef die geluid moes by mý keelgat uitgekom het.
“Vrugtevlermuise,” lag Jonathan. “Hulle slaap bedags in grotte … duh. Ontspan,” sê hy “ hulle ongeluksyfer is zero. Lyk of hier allerhande ander gediertes ook skuil,” lig Jonathan met sy flits onder teen ‘n wand waar klossies hare en geknaagde bene lê. Ek probeer om die spiere in my skouers en nek te ontspan. Onskuldige diertjies wat net vrugte vreet se voet.
Aan die verste punt van die vertrek vorm daar ‘n skeur in die rotswand. Dit lyk soos ‘n rowwe gleuf tussen die dak en die vloer en lei na die donker geheimenisse van die Grot se ingewande. Dáár waar hy sy lokvak gaan strik. Komaan Dawid, spreek ek myself aan. Alles lyk baie erger in die donker. Hoe erg kan dit nou eintlik wees? Ek moet nou net deurdruk. Dit kan nie só erg wees nie. Die enigste geluid wat die Grot maak is ‘n eentonige drup-drup-drup vanuit sy rotsplafon en ou boomwortels in rotsgleufies.
“Dit het vir drie weke aaneen gereën, die moddervloer kan op plekke glibberig wees,” waarsku Jonathan.
“Dit lyk my ons gaan eerder klim en klouter” sê ek en bekyk die tonnel.
“Uiteindelik! Ek kan nie wag om hierdie bielie se onbekende te verken nie” en Jonathan klouter oor die eerste skerp rotstande. Dieper na binne lyk die Grot se gemoed erg somber en donker. Ek dink daaraan dat dit net ons flitse is wat tussen ons en totale duisternis staan. Ek voel met my vingerpunte al langs sy growwe vel en ‘n koue rilling hardloop onwillekeurig teen my arm op.
“Pragtig, nê?” vra Jonathan en wys die verskillende kleure in die rotsformasies uit. “Kan jy glo? Daar woon spinnekoppe in die derms van berge.” Sy flits skyn op die gebreekte spinnewebbe wat van die grotdak afhang. Ek moet erken dat die webbe interessante patrone vorm en probeer om ’n instemmende “hmmm” uit te kry. Ons beweeg gebukkend deur die kronkels en draaie wat die rotsplate as ‘n deurgang vir ons vorm. ‘n Doolhof wat swart en geel vertoon in die lig van ons flitse.
“Jô! Dude!” eggo Jonathan se stem. “Wie’t kon dink hierdie berg lyk so indrukwekkend van binne? Hallooooo!” eggo hy die vertes in.
“Jy nog okei hier agter?” vra Jonathan.
“Ja, kort op jou hakke … Sh#t!” Ek voel met die een hand oor my voorkop.
“Eish, die Grot het jou lelik gehap,” lag Jonathan en lig met sy flitslig in my oë. “Toemaar, jy sal leef, ou pêl.”
Ek druk ‘n sakdoek teen my kop om die bloeding te stop. “Is jy seker daar is ‘n ander uitgang?”
“My oupa het dit maklik gekry. As hy eers van sy avonture in die Grot begin vertel het, was daar geen remme aan hom nie.”
“Nou ja, voorwaarts, klouter!” probeer kry ek braaf uit kry. As mens A sê moet jy ook B sê, dink ek by myself. Die gedagte laat my weer aan Tania dink. Jonathan is reg. Ek moet dalk heroorweeg voor ek finaal besluit. Ek het net hierdie een kans om dinge nie op te mors nie. In my twyfel wonder ek hoekom dit voel asof ek die beste deel van myself mis wanneer sy nie by my is nie. Daardie deel van myself waarvoor ek die meeste omgee. Ek bekyk die rotsformasies. Dit ís besonders, maar ek kan sweer die lug word nou skielik baie dikker. Ek haal stadiger en dieper asem. Konsentreer net daarop om in en uit te asem, spreek ek myself aan. Ten spyte van die klam koue kleef my hemp aan my rug vas. Kalm bly Dawid. Die mag van die verbeelding kan jou grootste vyand wees.
“Ek hoor water wat iewers loop. Sal dit as gevolg van die reën wees?” vra ek. Ons loop nou regop en die kronkelende pad word al wyer vorentoe. Daar is genoeg spasie sodat ons langs mekaar kan loop “Dit is glaaaaaaad!” wou ek waarsku maar land op my knieë en maag. Nerfaf, sien ek nadat die sakdoek weer sy werk moes doen.
“Ek dink dis ‘n ondergrondse bergstroom,” wys Jonathan met sy flitslig in daardie rigting. “Daar blink mos altyd ná goeie reen lang strepe water teen die kranse af. Dit moet íéwers vandaan kom. Hierjy! Ons beweeg al meer afdraand,” sê Jonathan, terwyl ons albei stoei om nie te gly oor die glibberige nat grond nie. Jonathan begin stadigaan al vinniger vooruit loop. Ek voel hoe sy opgewondenheid groei, soos dié van ‘n ingehoue karperd en sy voetstappe beweeg al verder weg. Verlig sak ek af tot op my hurke. Uiteindelik kan ek asem skep. Vog syfer deur die Grot se growwe vel. Hy voel klam en natgesweet en sy gees is humied en vreemd bedompig. Ek skakel die flitslig af om die batterye te spaar. Dik donkerte omvou my dadelik. Ek hoor Jonathan se stem wat al verder vooruit eggo en weergalm asof die Grot se ribbekas dit hol tot hier terugkaats. Het my ore dalk toegeslaan? Is ek wakker, of is alles net ‘n droom? Dit voel asof die Grot selfs my vrees ingesluk het. In die donker tref dit my dat my lewe vandag gaan verander. Ek sal hierdie roete móét voltooi omdat die gevolge van faal baie swaarder gaan weeg as die risiko’s. Vandag is die eindbestemming baie belangriker as my vrese. Om die man te wees waarmee Tania saam sal wil oudword, moet ek die veiligheid van my gemaksone opgee en bereid wees om risikio’s te neem.
“’n Rivier, dude!” weergalm Jonathan tot hier. Ek druk weer die flitslig aan.
“Ek kom! Is nóú daar!” eggo ek terug.
“Wow!…wow! Is dit nie spesiaal nie?” Ons flitse verlig ‘n breë spasie en vanuit die klipplafon bo ons koppe hang daar plek-plek klein stalaktiete. Onder, tussen twee plat klipbanke, kabbel ‘n rivier.
“Ek skat dit is so drie meter wyd.” Jonathan lig met sy flits in die water.
“Ek kanni glo die water is so helder skoon nie. Mens kan tot op die bodem sien. Kyk! Daar beweeg iets tussen die klippe!” sê ek in verwondering.
“Waterdiertjies van iewers. Hulle moet dink hulle is in die sewende hemel! Dink nie die rivier vloei permanent nie. Vloei maar net hierdie tyd van die jaar, in die reënseisoen hier. Ek skat die water is so heuphoogte diep. Okei, ek voel gou hoe sterk die stroom is,” bied Jonathan aan en trap agterstevoor, met die een been ondertoe terwyl hy aan die klipbank vashou. “Hoeiii! Mapstieks, dis koud, dude! Dit voel nie asof die stroom só sterk trek nie. Moenie reguit oor beweeg nie,” skree hy bo die geraas. “Trap so effens stroomaf saam. Die grot is gelukkig heelwat breër hier.”
Ek draai agterstevoor en sak met my een been na onder. Die koue slaan my asem heeltemal weg en skok my onmiddelik springlewendig. Tree vir tree loop ek versigtig saam met die stroom. Onder my tekkies rol rivierklippe en beweeg saam met my voete. “Ons moes dalk ons tekkies en kouse uitgetrek het!” skree ek met my arms en flits bokant my kop, maar dit is te laat. Ek slaan wild agteroor neer en begin water sluk. Die nat rugsak word so swaar soos ‘n klip en verhinder my desperate gespartel om vastigheid onder my voete te vind. Ek kan nie! Die stroom bly beweeg en trek my stadig saam. In die donker is alkant nou bo en onder. Ver weg deur die harde gedruis bereik ‘n dowwe “Dawid! … Dawid! …Dawid!” my. Skielik kry ‘n arm my stewig om die bors beet en pluk my orent. Ek is bewus daarvan dat Jonathan my teen die rotsbank optrek en deur vae newels verbeel ek my dat sy lippe in die flou lig beweeg. Ek hoes ‘n boog water uit en snak na my asem. Dit het so vinnig gebeur.
Jonathan sit op sy knieë. “Die Grot se dak is heelwat laer hier. Lê, ou pêl … word net weer jouself. Daar is nou net een lig tussen ons,” beduie hy na my nat rugsak en leë hande, “maar ons gáán anderkant uitkom. Die ander uitgang kan nie meer te ver wees nie.” Ek begin beter voel en is dadelik woedend vir die Grot. Hy gebruik selfs dít wat opportunisties hier vloei om my te probeer snoeker. Druipnat begin ons stadig in die suinige liggie terugkruip na die spelonk, dáár waar ons roete vorentoe lê.
In die halfdonker eggo die Grot ons voetstappe ‘shloesh-shlas-shloesh-shlas’ na ons toe terug. Vir my klink dit kompleet asof sy rotswande sag daarmee saam fluister. Sy woorde klink terselfdertyd spookagtig, maar tog vol lewe. Ek beweeg saam met ‘n liggaam wat nie meer aan myself behoort nie. My voete, wat nie meer myne is nie, beweeg een tree voor die ander en probeer sin maak van dít wat ek in Johnathan se flou liggie kan sien.
“Hô! hô! hô!… wag! Hier is iets nuuts, of laat ek eerder sê … iets ouds en vervalle!” Jonathan se flitslig beweeg oor ‘n primitief saamgeflanste bruggie. ‘n Tipe oorgang van verweerde en lendelam pale, wat teen hierdie tyd al gedisintegreer het in ‘n wankelrige kontrepsie uit vergange dae.
“ ‘n Groep uit die Khoisan moes hierdie grot voorheen gebruik het. Moontlik as stoorplek, of vir een of ander van hulle rituele,” noem ek. Jonathan luister nie eens nie.
“Dude, ek het nuus vir jou. Hierdie oorgang lê bo-oor ‘n vertikale tonnel.”
Onheil hang in die lug, asof die Grot ook sy asem ophou in afwagting vir dít waarvoor hy wag om te gebeur. Ek bekyk die oorgang en outomaties skop die ingenieur in my nugter wakker.
“As die Khoisan nie kon nie, sal ons ook nie hieroor kan spring nie, ou. Ons sal die stewigste paal in hierdie nagmerriebrug moet probeer identifiseer en dit dan as middelpunt moet gebruik om báie stadig hieroor te kruip. As ons teen ‘n stadige spoed kan beweeg, sal ons die spanning wat ons gewig op die swak struktuur gaan plaas verminder en kan ons die stabiliteit van die lendelam brug probeer behou.”
“Wow, jou eerste sinvolle woorde, ou,” stamp Jonahan my speels in die ribbes. “Jy sal my nou maar net met ons enigste lig moet vertrou, terwyl ek braaf eerste moet voorgaan met hierdie ekspedisie.”
Ek sien verbaas dat dit lyk asof selfs Jonathan nou die ritteltit het. Ek ken hom te goed om voor te stel dat ons eerder omdraai. Hy lig met sy flitslig heen en weer oor die brug. My keel wil toetrek en ek begin weer sukkel om asem te haal. Ek weet ek is wakker want ek kan voel hoe ek myself knyp. Hierdie onmoontlike missie lê bo-oor dieptes wat strek tot wie weet waar. Die drie meter lange houtpale lyk vir my almal erg verweerd.
“Hiérdie lyk soos die breedste strook met die minste gebreekte houtpale,” wys ek vir Jonathan uit. “Ek stel voor ons kruip stadig op ons knieë om ons gewig te probeer versprei.” Jonathan lig egter eers in die gat af en gee ‘n lang fluit. Ek loer ook en verwyt myself onmiddellik. Hóé gaan ek oor so ‘n diep gat kruip? Ek sal dit nie eens oor splinternuwe pale kon doen nie! Jonathan hang die flitslig om sy nek en begin so stadig soos ‘n verkleurmannetjie oor die bruggie kruip. Sy flitslig skyn na onder en verlig net-net ‘n area van dertig sentimeter voor hom. Een van die houte maak ‘n sieklike kraakgeluid en verdwyn in die diep gat af.
“Sal seker iewers in China uitval. As dáár ook ‘n gat is!” grap hy senuweeagtig.
‘n Ewigheid later staan sy twee voete weer op terra firma. Naakte vrees hol nou my binneste uit en vul dit met ’n oorweldigende naarheid. Ek gee ‘n harde sluk en besef dat ek myself nou, soos nooit tevore nie, bymekaar moet hou. Fokus! fokus net op Jonathan se flitsstraal.
“Kom, dude. Kyk net voor jou en hou my lig dop. Jy gaan dit maak.”
Ek sak af tot op my knieë en maak instinktief my oë toe. Nee … ! Ek sal moet konsentreer op die houte sodat ek vinnig kan reageer as dit nodig is. Ek begin kruip. O-gorreltjie-pietatjie. Sentimeter vir sentimeter beweeg ek en hou die pale stip dop. Skielik gryp Jonathan by arms vas.
“Jy’t dit gemaak. Óns het dit gemaak! Jahoeeeeei!” eggo hy die onbekende ruimtes in.
“Jou Oupa was ‘n brawe man,” is al wat ek sê.
Die rotsplate lê nou nie meer so ver en wyd voor ons oop nie en soos wat ons voetstappe hol eggo, omvou die growwe rotswande ons geleidelik. Jonathan loop en fluit ontspanne, want die opening is net om die draai. Altans, dít is wat hy vertel. Die rotswande groei al nader en nader na mekaar en ons deurgang word al nouer. In die flou lig verbeel ek my die Grot ontwikkel, net soos ek, ‘n donker, swaarmoedigheid. Ek probeer aan Tania dink om myself op te beur. Hoe maklik kan ek haar nie ook verloor nie. In ‘n oogwink het ek my flits verloor, in onvoorsiene omstandighede. Maar met Tania het ek ‘n keuse. Waarvoor is ek dan so bang? Ek is bang vir myself en nié vir ‘n verbintenis nie, besef ek skielik verbaas. Ek is bang dat ek na myself deur ‘n gekleurde bril kyk, maar op die ou end tog soos my pa sal uitdraai, sou die lewe my ook in ‘n onvoorsiene knyptang vasdruk.
“Dawid, dit word bietjie nouer hier, maar dit is ons enigste deurgang. Ek gaan die flits in my regterhand vashou, sodat jy kan sien waar jy loop.” Jonathan draai dwars en glip deur die opening. Ek begin wild asemhaal. Ek het ‘n onlogiese vrees vir engtes en beknopte spasies. Kloustrofobie, het die dokter destyds gesê, toe my ma gedink het ek kry ‘n hartaanval, as kind. Ek knyp my oë toe en begin dwars deurbeweeg. Ek beweeg darem, dink ek. Maar toe word my grootste nagmerrie waar. Ek sit vas. Verward probeer ek myself deur die nou opening forseer, maar niks wil beweeg nie. My jelliebene bestaan nie meer nie. Ek is net ‘n groot torso wat wild asemhaal. Ek besef dat ek vandag, net hier in die Grot se ystergreep, gaan doodgaan. Hy hét my uiteindelik. Alles swem voor my oë en toe … onthou ek niks verder nie.
“Dawid! Dawid!” hoor ek van iewers af. Is ek nou in die hemel?
“Word wakker!” Jonathan se beeld swem voor my oë. Ek begin dadelik spartel, want die Grot hét my in sy ystergreep.
“Jy het flou geval, jou botterkop. Ek kon jou maklik uitkry toe jou liggaam slap word. Jy het net gehiperventileer.”
Na ‘n rukkie voel ek hoe ‘n glimlag van verligting stadig op my bakkies vorm en ek gryp Jonathan aan sy arm vas. “Jonathan, jou doring!” Ek druk met my palms teen my oë om die trane daarin weg te steek. Met bewerige bene hervat ek ons roete. Soos wat ons verder beweeg, begin ek al meer soos myself voel. Ek kyk na my toekoms met nuwe oë en dink daaraan dat ek moontlik al die tyd nog my eie grot was. My eie grootste vyand wat besig is om my drome en dít wat mooi kan wees, gevange te hou. Moontlik het die Grot my dalk net gewys wat kan gebeur, watter verkeerde besluite ek kán maak, as ek nie die vermoë ontwikkel om myself te verander nie.
“Amper daaááár … ,” begin Jonathan, maar die volgende oomblik swik sy enkel op ‘n los klip en slaan hy soos ‘n os neer. Hy sit dadelik orent en probeer weer opstaan, maar uiter ‘n pynkreet toe hy sy gewig op die enkel plaas. Hy byt op sy tande terwyl hy dit probeer warm vryf. Ek kan sien die enkel swel vinnig en dat dit in ‘n onnatuurlike rigting staan.
“Ek dink jou enkel is ‘n goner, ou,” sê ek versigtig. Hy lyk tegerlykertyd verslae en verwese. Ek krap my hare deurmekaar en probeer aan my opsies dink.
“Jy sê mos ons is amper daar,” praat ek hom moed in. “Gelukkig is die dak nou hoër en ons kan weer regop loop. En saam-saam is ons twee ysters!” Ek lig hom onder sy twee arms regop. “Moenie op die enkel trap nie, ek het jou.” Ek hak my skouer onder sy gewig in en Jonathan begin stadig saam hop-hop.
My vriend is nie swaar nie, want my hart is lig. Tania met die bosbokkie-oë, vir jou het ek lief “en ek kom om jou te haal.”
Rika Gerryts (3377 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek