Breiers Bpk
Ná die Staaldraad-fiasko, en die gekweste Bok-gees
Enter Jake die toneel, ‘n man sonder vrees
Met visie en styl transformeer hy die kamp
Oor politieke inmenging wel koppe gestamp
‘n Knap mensbestuurder, die man vir die uur
T’was voordat ambisie sy reputasie versuur
Hoewel ook maar skuldig aan die stampkar geploeter
Wag William Webb Ellis by Parys se eind-toeter
Ou hardegat Snorre, van meet af omstrede
Verregaande uitlatings versaak alle rede
Hy wou nooit erken hy’s nie daar op meriete
Verskil net van hom, en jy hoor die Liviete
Deur hom kry prestasie ‘n bespotlike klank
as die wêreldklas Bismarck moet sit op die bank
Ironies genoeg was sy fout by die Bokke
sy hardnekkige trou aan White se ou krokke
Met nekare wat bult wyl hy skree oor die mic
wys Heyneke hoe hy sy “wenrakbie” like
Dis hoogskop en storm, en stamp, maal en rol
As niks van dit werk nie dan moet hul maar hol
Met ge-indoktrineerdes te min in sy groep
gaan haal hy ou bulle op Avbob se stoep
Tot die einde ‘n koppige tradisionalis
Dit het Eddie gekos om sy Blou waan te blus
Skoolmeester Coetzee is die volgende held
Hy’s kort van postuur, heelwat langer die belt
Praat maklik, oortuig almal hy het die staal
Sonder drieë kom sy Stormers dan in die finaal
Dié was geen prestasie, al dawer sy koor
Ná hom speel die Kaap net om nie te verloor
Goedgelowig ordentlik, maar geen visionêr
Jan Alleman sien sy gespartel van vêr
So het ons gevorder van ‘n hans tot ‘n wors
Al dieper gesink in die gameplan gemors
Dit begin al by skole ; hulle vreet kreatien
In plaas van te dink en ‘n gaping te sien
Die stadions loop leeg ten spyte van spiere
Ons huil oor ons helde van ouds teen die mure
Nou kort ons ‘n visie om die val te besweer
nog ‘n walglike wêreldbeker-komedie te keer
(2019 addendum)
Van vroeg af is Rassie ‘n man met ‘n plan
Sy berekende vertroue vryf af op die span
Hy kom uit die Suide, Despatch se stofstrate
maar die Vrystaatse styl is sy eintlike bate
Nie bang om te waag maar die vraag bly tog spook
of sy voorkeur-kaptein wel die pyp sou kon rook
Maar die res is geskiedenis ; ons tone het gekrul
toe die Bok weer sy roemryke belofte vervul
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.