Jongste aktiwiteit:

Breinbesit: Feit of foefie

589 woorde

S-k-r-y-w-e-r-s-b-l-o-k. Dus is ek nie dom of abnormaal nie! Klaarblyklik beleef alle skrywers dit! Ek voel skoon eksentriek en mallerig tesaam. Lekker! Of dié gevreesde blokkige naam of ‘breinbesit,’ soos ek dit noem, ‘n feit of ‘n foefie is… wel, dit is die groot vraag. Maar, as dit beteken om soos ‘n omgedopte leë eierdop voor jou skootrekenaar te sit en wit wolke soos dik mis voor jou oë te sien rys, dan sou ek my skaar by diegene wat beweer dat dit wel bestaan.

Volgens Die Afrikaanse Skryfgids, saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn, is daar ‘n hele aantal mites rakende die skryfproses wat romanties en eksoties klink en die verbeelding aangryp, maar volgens hulle pure twak is. Een van die sogenaamde mites is: ‘Ek kan nie skryf nie, want ek het skrywersblok.’ Dan sit ons en wag dat die muses ons moet besoek. Dit gaan nie gebeur nie, sê hulle. Hulle reken ‘n skrywer is iemand wat skryf. As jy nie ‘n opwindende idee het of geïnspireerd is nie, stel hulle voor dat jy begin skryf. Skryf enigiets, skryf lukraak woorde neer, maar maak sinne van ‘n enkele woord wat vir jou opwindend is. Skryf ‘n brief aan jou buurman se hond wat heelnag blaf. Skryf ‘n inkopielys of dieselfde sin ‘n honderd keer oor. Die oomblik wanneer jy begin skryf, begin jou breingolwe in aksie kom. Ek stem volmondig saam met laasgenoemde siening. Nog ‘n mite vanuit bogenoemde bron is, dat ‘n rustige uitkyk oor die see, berg of tuin jou sal help skryf, absolute onsin is. Skrywers se skryfruimtes is dikwels uiters oninspirerend. George Sand se studeerkamer was in ‘n hangkas. Koos Kombuis het jare lank in koffiewinkels geskryf. Hulle mening is as volg : ‘n Skrywer wat wil skryf, kan dit doen op lughawens, op stasies, in gange en by kombuistafels, selfs in tronkselle. Wat belangrik is, is jou persoonlike ruimte.’

Wat wel vir mý werk, is stilte… verkieslik nie op die lughawe of in besige koffiewinkels nie. Daarvoor is ek heeltemal te veel aandagafleibaar. Ek haal wel my hoed af vir van ons bekroonde en begaafde skrywers wat onder sulke ongewone omstandighede kan of kon skryf. My persoonlike ruimte en waardering vir stilte loop hand aan hand. Wat ook in my guns tel, is dat ek onder druk floreer. Ek wag gewoonlik byna tot op sperdatum, voordat ek my rekenaar aanskakel vir die onafwendbare dinkskrum. Dan neem ek breinbesit vas met albei hande. Dis byna soos balbesit tydens ‘n rugbywedstryd. Die spelers se fokus is op die bal en nie net op die man nie. In my geval is dit ook so. Ek raak stil en fokus net op die bal. Kort voor lank gly my vingers sonder ophou oor die sleutelbord. Kry net eers die storielyn en lees dan weer deur en voeg by. Dit is soos om ‘n prentjie se buitelyne te skets en daarna die kryte te neem en mooi in te kleur. Die geoefende feit dat ek ook onvoorwaardelik glo dat die groot Uitgewer Onbeperk keer op keer in staat is om my te help, skep ‘n geruste hart in my en ‘n hart vol vaste vertroue daarby, skep spasie vir woorde om te vloei vanuit Sy biblioteek. Hy is immers die Lewende Woord en deur Hom het alles ontstaan.

My konklusie spreek dus vanuit persoonlike ondervinding dat skrywersblok beslis bestaan, maar nie onoorkomelik is nie. Met voortgesette wilskrag, ywer en genoeg ruimte vir stilte, kan die kreatiewe sappe vloei en die bal sekuur tussen die pale tref.




2 Kommentare

  • Ineke

    'n Mond vol oor skrywersblok, elkeen ervaar dit op sy/haar eie manier. Dis beslis waar dat as jy die eerste woord geskryf het kom alles vanself. Ons skryfgroep het altyd 5 woorde gekry waarvan jy een kies en dan daaroor skryf. Daardie woord wat jy kies sluit jou geheue oop met 'n towersleutel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed