Jongste aktiwiteit:

ʼn Legende, Tina Turner.

ʼn Legende, Tina Turner.

Biografie
Op 26 November 1938 word Anna Mae Bullock gebore in Tennessee. Op 24 Mei 2023 sterf die “Queen of Rock and Roll” op die ouderdom van 83. Sy staan bekend as Tina Turner, die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer wat met ʼn ster vereer is op ‘Hollywood Walk of Fame.’

Kinderjare
Anna-Mae Bullock se kinderjare was moeilik. Sy was die jongste dogter van Floyd Richard Bullock en Zelma Priscilla Bullock. Sy het twee ouer susters gehad, Evelyn Juanita Currie and Ruby Alline Bullock, ʼn liedjieskrywer. Die gesin het in die klein gemeenskap van Nutbush gewoon. Haar pa was opsigter van die deelboere by Poindexter Farm. Sy kon later onthou hoe sy op ʼn baie jong ouderdom saam met haar gesin katoen moes pluk.

Toe Anna-Mae baie klein was, word die gesin opgebreek toe haar ouers by ʼn fasiliteit gaan werk gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Anna-Mae het by haar streng, christelike grootouers, Alex en Roxanna Bullock gaan woon. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog word die gesin herenig en gaan vestig hulle in Knoxville. Na twee jaar verhuis hulle weer en vestig hulle in Nutbush waar Anna-Mae skool bywoon. Sy doen haar skoolopleiding tot graad 8.

Anna-Mae sing in die kerkkoor van die Baptiste kerk. Toe sy elf jaar oud is, verdwyn haar ma. Haar ma besluit dat sy genoeg gehad het van mishandeling en geweld en gaan woon in St. Louis. Skaars twee jaar later het haar pa weer getrou en hy en sy nuwe vrou verhuis na Detroit. Die dogters word na hulle ouma, Georgeanna Currie, in Brownsville gestuur om daar te gaan woon. Later het sy in ʼn outobiografie, “I, Tina” onthul dat sy nooit beplan was nie. Sy sê haar ma, Zelma wou toe al van haar pa skei, maar het swanger geraak en besluit om by Floyd te bly.

Vroeë jare
Gedurende haar tienerjare het sy as huishulp gewerk by die Henderson-gesin. Anna-Mae was ʼn regte rabbedoe wat baie van kuier gehou het. Toe sy sestien jaar oud was, het haar ouma gesterf en sy gaan bly by haar ma in St. Louis. In 1958 voltooi sy haar hoërskool opleiding en gaan werk sy as verpleegster by die Barnes-Jewish Hospitaal.

Anna-Mae en haar susters hou van die sosiale lewe en besoek talle nagklubs in St. Louis. Dit is hier waar sy kennis maak met Ike Turner en sy orkes: Kings of Rhythm. Sy is gaande oor hom en sy musiek. Afgesien van die feit dat min vroue in orkeste opgetree het, vra sy Ike om saam hulle te sing. Hy het egter nie ingestem nie, maar een aand in 1957 kry sy die mikrofoon van Eugene Washington in die hande. Sy begin sing: “You Know I Love You”, en Ike is baie beïndruk. Sy het die hele aand saam met die orkes gesing. In 1958 verskyn haar liedjie onder die naam van Little Ann, op die enkelsnit “Boxtop”.

Huwelike
In 1962 tree Anna-Mae en Ike in die huwelik. Ike besluit dat Anna-Mae onder die naam: Tina Turner sou optree. Uit hierdie huwelik word haar tweede seun gebore. Haar eerste seun, Ronnie is in Oktober 1960 gebore. In 1963 verhuis hulle na ʼn huis in die View Park area. Ike, Tina, hul seuns: Ronnie, Craig en Ike Jnr en Michael tesame met Ike se vorige meisie, Lorraine Taylor woon saam.

Tina het later in haar biografie, I, Tina onthul dat Ike beledigend en wreed was tydens hulle huwelik. Dit het gelei daartoe dat sy in 1968 ʼn oordosis Valium-pille neem om haar lewe te beëindig. Alhoewel sy baie lief was vir Ike het hy haar groot ongelukkigheid veroorsaak.

Een aand tydens hul reis na die Dallas Statler Hilton, rand Ike haar verskriklik erg aan. Dit was die laaste strooi en Tina wag tot hy slaap, sy verlaat hom met haar donkerbril op haar gesig en 36 sent in haar sak. Sy doen aansoek om te skei. Op 29 Maart 1978 is sy finaal van Ike geskei.
In 1986 ontmoet Tina vir Erwin Bach. Hy is meer as sestien jaar jonger as Tina en Julie 2013 tree hulle in die huwelik nadat hulle 27 jaar in ʼn verhouding was.

Kinders
Tina het twee biologiese seuns: Raymond Craig, gebore op 20 Augustus 1958 by die saksofoonspeler, Raymond Hill. Haar tweede seun is saam met Ike Turner, Ronald “Ronnie” Turner, gebore op 27 Oktober 1960. Tina het ook Ike Turner se kinders aangeneem. Ike het Tina se oudste seun aangeneem en sy naam verander na Craig Raymond Turner. In Julie 2018 is Craig dood gevind nadat hy oënskynlik selfmoord gepleeg het. Haar jonger seun, Ronnie was getroud met die Franse sangeres Afida Turner. Ronnie is in Desember 2022 dood aan komplikasies van kolonkanker.

Geloof
Tina Turner het na haarself verwys as ʼn Boeddhis-Baptis. Sy het opgegroei in die Baptistekerk waar haar pa ʼn diaken was, sy het as volwassene die Boeddhisme-geloof aangeneem.

Gesondheid
In haar 2018-memoir: “My Love Story” het sy aan die lig gebring dat sy verskeie lewensbedreigende siektes gehad het. Sy het sedert 1978 hoë bloeddruk gehad wat gelei het tot nierversaking. Drie weke na haar troue met Erwin Bach, het sy ʼn ernstige beroerte gehad en sy moes van vooraf leer loop. In 2016 word dermkanker by haar ontdek. In 2019 het sy geassisteerde selfmoord oorweeg wat wettig is in Switserland. Haar man Erwin oorreed haar egter om vir nieroorplanting te gaan en hy skenk haar ʼn nier.

Laaste tyd
Op 24 Mei 2023 sterf die legendariese Tina Turner op 83-jarige ouderdom by haar huis in Switserland.

Tina Turner word onthou vir haar liefde vir musiek en dans. Soos baie sal sê, was sy: “Simply the BEST!”

©MarleneErasmus
27/05/2023

(939 woorde)
www.tinathemusical.com/uk/timeline
www.tina-turner.nl/biography.php
www.imdb.com/name/nm0877913/bio/
www.memphismusichalloffame.com/inductee/tina-turner/




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed