Dit is Manziville Goud 317 woorde
Dit is Manziville
Krugersdorp. Waar die mense leef. Lewe. Laat leef. Plakkers en straatbrakke wat hier ‘n tuiste tussen ou motorbande uitsnuffel en die kinders soms honger gaan slaap.
Manziville. Die wit plakkerskamp neffens Krugersdorp. Sinkplaathuisies ingeryg soos sardyne in ‘n blikkie. Stofstrate wat tussen plastieksakke en bourommel ‘n pad deur die huisies wurg. Dan weerklink die helder kinderlaggies deur die rook van stookvure en parafien walms. Hulle ken nie beter nie. Hier is hulle gebore en speel hulle, soos kinders moet, sokker en springtou tot laat. Geen rekenaars of slimfone nie. Daar is nie geld daarvoor nie. Vir dwelms en drank wel. Tog is die kinders skoon en netjies aangetrek vir skool. Die ouers veg vir ‘n daaglikse loon om die honger in toom te hou. Huurgeld is nie ter sprake nie. Hier plak jy. Sink en hout. Karton en lap. Elke huis eie aan die inwoners se behoeftes.
Hier in Manziville is dit nie elkeen vir homself nie. Die inwoners deel kos, klere en alledaagse benodighede. Dagga is hier ‘n geneesmiddel en nie ‘n dwelm nie. Drank kan tot in die vroeë oggendure aangekoop word. Magwenjas (klein balletjie vetkoekies) is ‘n stapelvoedsel en vleis ‘n luukse. Kaalvoet is algemeen want skoene is slegs vir die ouer kinders beskore of wanneer ‘n samaritaan klere in swart sakke kom aflaai. Jy dra wat jy het of wat geskenk word. Die luukse van kies en keur, geite en giere is nie vir hierdie kinders, en inwoners, beskore nie. Dit bly ‘n geval van, dankbaar vir dit wat jy het.
Wanneer jy regs draai uit Manziville uit, klou die dorp aan jou in die reuk van die houtvure en parafienstofies. Die modder brokkel van jou bande af en verdwyn in die stof langs die teerpad. Jy skud jou skouers, dankbaar vir jou baksteen huis en beurtkrag. Dankbaar vir ‘n warm stort en ‘n braaivleisvuur. Môre is nog ‘n dag.
Amanda dM
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek