Jongste aktiwiteit:

Hemelse Simfonie 708 woorde Goud

Hemelse Simfonie

Watter instrument is jy? Vroegoggend lê ek met my toe oë. Die natuur ontwaak in helder kleur euforie. Die dieprooi horison smelt weg saam met die die hoep-hoep-hoep terwyl spookasempienk-diamantduifiekoer die oggend begroet. Dan koggel die Hadida in donkergrys gekrys, en lag kliphard wanneer jy die kussing oor jou ore trek vir net nog tien minute se slaap. Genadiglik omvou die luilekker rustigheid my en ontsnap my wese na ‘n land tussen iewers en nêrens. Salig.

Ek staan voor die groot Orkesmeester. ‘n Enkele klein driehoek in my hande. Hy kyk betekenisvol na die seer vraag in my oë. Agter my vee strykstokke oor fyn snare. Kletter harde trilgeluide op vanaf die simbale en dromme. Dan trompetter ‘n saxsofoon en koggelroep ‘n panfluit na sy maat. Die Orkesmeester lig sy hand. Stilte. Sonder ‘n enkele woord lig hy sy dirigeerstokkie, swaai dit liggies in die rigting van die orkes. Engelstemme vul die saal. Ek kyk verbaas op na die gallery. ‘n Leerskare in wit hou hul hande na bo. Strelende sopraanklanke meng met die sagte pluk-pluk van die harpe.  Ek kyk weer af na my driehoek. Stilte.  Ek voel ‘n sagte hand onder my ken.

“Elke simfonieorkes bestaan uit verskeie instrumente. Die groot basdrom wat hard raas.  Die strykers met hulle sagte suiwer note.  Die trompette, harpe, slaginstrumente.”

Ek kyk af na die klein driehoekie in my hande. Dan weer op na die sagte oë.

“Waar pas ek in? My instrument is nietig.  Klein in vergelyking met die groot orkes hier agter my. My oë sak.”

Weer voel ek die hand onder my ken.

“Jy is die driehoek.  Jou klank is fyn en skril. Die hele orkes huiwer vir ‘n oomblik sodat jou klank hoorbaar bo die res kan wees. Jy is nietig maar tog nodig in hierdie hemelse orkes.  Moet jouself nooit minder ag as ander nie. Alhoewel jy klein voorkom maak jy ‘n groot verskil in my orkes.”

Ek steek my hand uit na die orkesmeester. Die koue metaal teen my vingers laat my oë oopflikker. Die wekkertjie vibreer in my vuis. Lui druk ek myself orent teen die kussings. Ek strek uit en skrik toe die tydskrif van die bed af kantel. Ek gooi my bene oor die bed se rand en vries toe ek die koue tydskrif onder my voete voel.

Bladsy 3. Musiek instrumente.

Watter instrument is jy?

  • Aërofone het ‘n lugstroom nodig om klanke voort te bring.
  • Chordofone is snaarinstrumente waarby iemand die snare van die instrument laat tril. Die klank van die snaar word deur ‘n klankkas ondersteun.
  • Idiofone is slaginstrumente wat van materiale vervaardig word wat van nature klankryk is.
  • Membranofone is slaginstrumente waar ‘n persoon die vel of membraan laat tril.
  • Elektrofone se klank word elektries voortgebring.

Ek druk die tydskrif teen my hart.  Klasieke musiek. Simfonie orkeste. My gunsteling. Ek is die driehoek.  Klein en nietig, tog broodnodig in my Vader se hemelse orkes.

Amanda




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed