Jongste aktiwiteit:

Die Hensopper

Na ‘n brawe, dog beklemmende slagting wat ‘n skrale sewentien dae geduur het, het ek, na ‘n vlietende oorweging, die handoek ingegooi. Toe steek ek ‘n sigaret aan en neem ‘n diep, tevrede teug. Tydens hierdie eerste, en hopelik die laaste veldslag van ‘n totale verslaafde, was dit nie soseer die fisiese onttrekking van nikotien uit die voorste linies wat die vyand ‘n voorsprong gegee het nie. Nee, dit was die gemis aan ‘n getroue ou emosionele steunpilaar wat die eens vasberade vegter se moreel heeltemal uitgewis het. Dit was ‘n malaise sonder weerga wat soos ‘n swart kombers oor die hol skelet van die agbare soldaat neergesak het, wat van haar ‘n hensopper gemaak het.

Ag nee wat, redeneer ek, ek sal eerder stink en maer wees as vet en mal. Sewentien dae van google-motivering, daaglikse Quit Smoking Forever-nuusbriefies, bootcamp in die gim, baie asem, nuwe vars reuke, die dophou van die skaal, sewe-en sestig, ag-en-sestig, nege-en-sestig, sewentig. Minder motivering, dieet-pilletjies, kruie-druppeltjies, hoofpyn, swartgalligheid, bedlêendheid, bang kinders en ‘n man wat nie weet waar om te trap nie. Woede uitbarstings waarin ek die verbaasde antagonis aanval met alles in my arsenaal – spies, slagmes, hamer, byl. Ek wil kinders verwilder dat hulle soos verwarde hoenders oor die werf hol. Ek wil uitroei, wortel en tak, ek wil bloed vergiet, ek wil skree, vernietig en breek. Ek wil die harmonie van my menswees nek-omdraai. Die onvergeetlike slag van Kent, Januarie 2014.

En toe, gisteraand, na nog ‘n skaamtelose tirade, was dit verby. So gaan ek myself en die eerbiedwaardige familie nie langer laat mors nie. Óf ek hardloop myself des moers teen die sitkamermuur, óf ek rook n sigaret. Kies. En waarvoor sal mense my in hierdie toestand dan tog onthou? Vir my skerp tong? My koue skouer? My kliphart? Sal my kinders hulle lewens moet deurworstel met die emosionele bagasie van ‘n beknorrende moeder vir wie hulle niks het behalwe ‘n biologiese verbintenis en ‘n bietjie jammerte nie? Hoe lank sal my wederhelfte geduld behou met ‘n sambokhaal oor sy elke woord en daad, die heftige orasies van ‘n emosionele drenkeling, ‘n galmende simbaal, slepend aan sy voete? Hoe lank voor my kinders vir altyd doof en blind raak vir die daaglikse treurmares, hoogdawerende preke en wilde oë van ‘n verslaaf-gestremde vrou?

Kinders en kie is gemaak-teleurgesteld in die verbrokkelde selfbeheersing van hulle ma, maar ek weet in die geheim is hulle verlig. Hulle kies maar die beste uit twee slegte situasies. Dan eerder ‘n liefdevoller roker wat gaan dooi op vyftig as ‘n stapelgek werfkalkoen wat jou in jou aftrede nog sal wil treiter. En dan neem hulle my stilweg kwalik omdat ek hulle in hierdie benarde posisie geplaas het. Een waar daar ‘n skrale kans vir maneuvers is en waar jy maar die pap moet eet wat vir jou opgedis word.
Ek gooi beslis ‘n stok in die speke van enige voornemende rookstaker, maar die wat al wél probeer ophou het, sal weet waarvan ek praat. Dis n stryd tot die dood. Die beste raad is om nooit te begin nie.

Nou ja, my redenasie vir die oomblik is dat ek nie ‘n potensieël verlengde lewe op die oorlogspad gaan slyt nie. Nee wat, ons hou dit dan maar short but sweet.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed