Jongste aktiwiteit:

Deel 1 Toksiese verhoudings is stille sluipers van die nag.

Wie ookal daar deur vasgevang is sukkel om van die giftige klampe weg te kom en sukkel jare daarna nog met die letsels daarvan.
Daar was ‘n stadium wat ek nie kon verstaan hoekom vrouens, vernaamlik, nie net kan weg stap nie. Nou, jare later kan ek verstaan waarom ‘n vrou bly en die gif vat vir wat dit is.
Better the devil you know than the devil you don’t know, reg.
Alhoewel ek nooit fisies aanrading beleef het nie was daar emosionele merke waarmee ek moes deel. Die innerlike stryd ‘n defnitiewe kenmerk van my opstaan. Toe het ek nie besef hoe sekere handelinge my gebuig of beinvloed het nie, maar agterna moes ek leer om dit te konfronteer en hanteer. Van tyd tot tyd kom die gedagtemerke nog op, vernaam wanneer ek voel ek gefaal het in ‘n spesifieke werkstuk of projek of ‘n aanval ervaar het teen my persoon. Dit is dan wat ek baie ferm moet optree en nie toe laat dat dit gis binne nie. Want gis dit, raak dit septies.
As projekkoördineerder vir ‘n liefdadigheidsprojek, wat begin is deur Alta van Zyl besef ek weereens die erns van toksiese verhoudings. Die projek handel oor mishandeling, wat vrouens, kinders, mans en bejaardes insluit. Ingesluit is ook stories van armoede en verslawing. Dit sluit 45 skrywers en digters se werke in en word deur my saamgestel. Indien mense sou belangstel, tree gerus met my in verbinding, voorlopige bestellings word aanvaar. Die gelde is om mense in hierdie situasies te kan help om weer op te staan.
Elke gedig of kort verhaal bevat die seer van mense wat deur sulke toksiese verhoudings gegaan het. Die boek is eintlik ‘n Ode van Genade juis omdat dit so diep sny. Daarom is die bundel se naam ook Spore van genade. Dit bevat die wroeginge en sere van mense wat alreeds opgestaan het. Mense wat dit oorleef het om vandag hul storie aan ons te kan oor vertel deur die geskrewe woord. Dit is nie ‘n maklike boek nie, dit is by tye swaar, vol hartseer en pyn. Verwerping vasgevang tussen die lyne van uitbeeldende sinne. Maar die spore van genade is sigbaar. ‘n Tasbare lyn soos wat jy deur die boek beweeg.
Die rede vir my program vandag is om enkellopende vrouens bewus te maak van die gevare van so ‘n verhouding. Vir die oningeligtes moet ons eers kyk wat is ‘n toksiese verhouding om dit werklik te verstaan. Om in ‘n verhouding te beland van so ‘n natuur is om jou eie dood te soek; emosioneel of liggaamlik. Bly eerder weg. Niks sal kom daarvan nie, en die enigste mens wat die prys sal betaal is jy.
Indien jy jouself in so ‘n verhouding bevind kry asseblief hulp.
Die woord toksies stel dit baie goed. Die gif deurlopend en kankeragtig wat als verniel op sy meedoënlose vernietigende pad. Die ontvanger word totaal afgebreek. Sy menswees beroof tot daar later niks oor is nie. Dit is ‘n stelselmatige afbreek proses wat jou later laat glo jy verdien dit. Jy kwyn weg later en het geen gesonde verhouding nie, en herken dit ook nie.
Al wat jy ken is die septiese gif toegedraai in haat en verwerping wat na jou geprojekteer word. Op sy beurt lei dit na verslawing, molestasies, verarming en die dood. ‘n Siklus wat baie jare kan aanhou of momenteel tot stilstand kom met katastrofiese gevolge. Kyk maar die nuus in jou dorp of die nasionale koerante en tydskrifte. Agterna het mense baie te sê daaroor maar wanneer die mense in die midde daarvan is kyk bure, familie en vriende weg. ‘n Hartseer tendens verskuil agter, “Ek wil nie betrokke raak nie.”
Die dief kom in die begin voor as ‘n persoon wat baie belangstel. Soos ‘n wolf in skaapsklere is hy/sy se ware natuur weggesteek en bluf jou deur leuens, omkoopgeskenke en dies meer. Die persoon hou die perfekte prentjie voor. Een van geduld, liefde en verstaan. Julle kliek net om een of ander rede baie goed en jy glo vas jy het jou sielemaat gekry.
Maar daar is ‘n verskil in liefde betoon en liefde vat met alternatiewe motiewe. Liefde betoon gebeur op ‘n natuurlike manier, sonder enige druk van die persoon af. Hy aanvaar jou vir wie jy is sonder onnodige eise. Daar is geen manupilasie betrokke nie. Ook geen tit-vir-tat houding nie. Dit is ‘n natuurlike verhouding wat sommer net maklik inmekaar val terwyl die verhouding stelselmatig groei. Die aantrekkingskrag is onmisbaar en jul pad loop saam in verdraagsaamheid en geduld.
Die alternatiewe liefde is manipulerend en veeleisend. Dit maak nie saak wat jy doen nie jy is altyd verkeerd. Jy loop gedurigdeur op eiers. Nie seker watter voet om voor te sit nie. Die persoon soek ook al jou aandag en verdra nie om jou te deel met iemand anders nie, selfs jou familie. Hy vind altyd ‘n fout iewers. Hy is die meeste van die tyd kwaad of omgekrap en jy word met elke kyk deurboor. Daar is tye wat hy jou selfs sal vloek en agterna omverskoning vra vir sy wangedrag. Die tendens sal die begin wees wat net sal eskaleer.
Nog ‘n toksiese verhouding is die van ‘n verslaafde of alkoholis. In hul woedebuie is jy die een wat dit ontgeld, hetsy met die vuis of met die tong. Hy breek jou naderhand so af dat jy bang is vir elke ding wat oor jou pad kom. Dit is dan wat jy vasgevang is in sy mag en nie daar uit kan kom nie. Nie net breek dit jou af nie maar verarm jou na liggaam en siel. Deur verskonings te soek vir sy wangedrag maak jou die slagoffer (victim).
Maar die grootste en mees vernietigende verhouding is die van molestasie en mishandeling. Dit is dan wat jy en jou kinders daaronder lei. Vernaam die kinders, want as jy ook jou rug op hulle draai, wie het hulle dan vir beskerming? Jy is hul enigste verweer wat in die bres kan tree en optree.
Luister, wanneer jou kind na jou toe kom en jou vertel dat so en so met hul gelol het, hoekom sal sy/hy lieg daaroor? ‘n Kind is baie kwesbaar en onskuldig; wanneer jy jou rug op hulle draai tree verwerping in en ‘n lelike siklus begin. Jy moet daardie besluit maak om weg te stap voor dit in die dood kan eindig. Dan kom spyt te laat. Jou kind is jou verantwoordelikheid, vlees van jou vlees. Dit is jou plig om na hulle om te sien, te beskerm en hul belange eerste te stel. Indien die man nie kan inval by jou lewe nie, stap weg. Voor dit te ver gaan. Kry hulp indien nodig.
Jou lewe mag moeilik wees. Jy mag dalk oorweeg om by ‘n man betrokke te raak vir finansiele redes. Ek verstaan dit. ‘n Mens is desperaat in sulke tye. Vernaam wanneer jy verantwoordelik is vir jou kinders. Dan juis moet jy dit ter harte te neem om meer versigtig te wees, meer paraat en ingestel op hul behoeftes.
Soveel vrouens trek by ‘n man in twee dae nadat hulle ontmoet het. Dan, weke en maande later is sy so vasgevang in hierdie vernietigende web waaruit sy nie kan los kom nie.
Kopiereg Lynelle Clark




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed