Die drie skapies
Die drie skapies
Eendag, lank, lank gelede was daar drie boetie-skapies wat saam met hulle mamma en pappa in ‘n mooi huisie gewoon het. Die skapies was oulike, skattige seuntjies en hulle mamma was baie lief vir hulle en het hulle vreeslik bederf. Die skapies het egter groot geword, skapie-skool klaar gemaak en dis toe dat die moeilikheid begin het. Pappa-skaap het baie hard gewerk en wou graag hê dat sy seuns ook hard werk, sodat hulle eendag mooi huisies en gesinne van hulle eie kon hê. Die drie skapies was egter baie lui. Die een wou net rekenaarspeletjies speel, die ander een wou weer net heeldag televisie kyk en die derde een het weer heel dag op sy bed gelê met sy selfoon en met sy vriende op Whatsapp gesels.
Pappa en Mamma het mooi gepraat en gesmeek dat die drie skapies tot ander insigte moet kom, maar niks wat hulle kon doen of sê het enige verskil gemaak nie. Mamma en Pappa-skaap was later moedeloos en einde ten laaste het hulle besluit genoeg is nou net genoeg. Hulle het een aand na hulle seuns se kamer gegaan en vir hulle gesê dat hulle hulle klere moet pak en regmaak om die volgende dag te vertrek. Die skapies het gekla en geween, maar Pappa het voet by stuk gehou.
“Maar wat gaan ons eet?” het hulle gekerm.
“Ek sal vir julle elkeen ‘n kospakkie opmaak wat julle so twee dae sal hou.” het Mamma gesê
“Waar gaan ons woon?” het hulle verder gekla.
“Julle sal maar julle kloutjies moet uitsteek en vir julleself huisies moet bou.” het Pappa geantwoord.
Die volgende oggend het die drie skapies ewe dikbek vertrek. Uiteindelik het hulle by ‘n vurk in die pad gekom. Daar het hulle vir ‘n ruk gestaan en stry voor elkeen ‘n ander paadjie gekies het en hulle verder aangestap het.
Die eerste skapie was gou moeg en honger. Hy het sommer langs die pad gaan sit. Later het hy om hom rondgekyk en gesien dat daar ‘n mooi gelyk stuk grasveld langs de pad is en net daar besluit hy om sy huis daar te bou. Maar o wee, hierdie skapie was baie lui en was nie lus om eers hout te sny of stene te bak nie. Hy het kloue vol gras begin uittrek en stokke opgetel. So, met gras en stokkies, het hy vir hom ‘n huisie aanmekaar geflans, in gegaan, die deurtjie agter hom toegetrek en op die naat van sy rug gaan lê en van sy ma se heerlike kos geëet.
Die tweede skapie het sy pad heel fluks aangepak, maar dit was nie lank nie of hy is ook nie meer lus vir die stowwerige pad waarop hy hom bevind nie. Hy het homself onder ‘n boom gemaklik gemaak en ‘n toebroodjie uit sy sak gehaal. Hy het na sy broodjie heerlik in die koelte van die boom aan die slaap geraak. Toe hy uiteindelik wakker skrik het die son al begin water trek. Hy het om hom rond gekyk, maar daar was nie ‘n gebou of enige iets waarin hy vir die nag kon skuil nie. Met ‘n sug en gekreun (hy was bietjie oorgewig) het hy opgestaan om die wêreld om hom beter te bespied. Een kant, op ‘n hopie, was daar ‘n paar houtstompe en ‘n paar riete. Hy het sy byltjie uit sy sak gehaal en ‘n paar planke begin kap. Moeisaam het hy begin om van die planke en riete vir hom ‘n huisie aanmekaar te timmer. Krom en skeef, maar darem met ‘n dak op, het sy huisie teen donker darem al gestaan. Hy het ingegaan, die deurtjie agter hom toegemaak en verder geslaap.
Die derde skapie was net so effe slimmer en het ‘n plan gehad. Hy het gestap en gestap tot hy uiteindelik die opstal en buitegeboue van ‘n plaas gesien het. Daar het hy gaan aanklop en gevra of hy kan oorbly vir die nag. Die plaasskape het hom met ope arms verwelkom. Daardie nag het hy van sy ma se lekkernye met hulle gedeel en het hulle hom vertel van die nare ou wolf wat in die omgewing rondswerf.
Die volgende more het hy vroeg vertrek. Hy het aangestap tot by ‘n rivier, waar hy begin het om van die nat grond bakstene te maak. Toe die stene lekker droog gebak was, het hy begin om dit opmekaar te stapel. Toe die huisie staan het hy dit mooi met modder afgewerk en ‘n deurtjie ingesit, wat hy uitgekerf het terwyl hy gewag het vir die stene om droog te word. Daarna het hy ‘n stewige grendel aangesit en ingegaan om te rus.
Die skapies het vir ‘n ruk gelukkig gelewe. Die eerste skapie het maar van tyd tot tyd in die veld na kos gaan soek en hoewel hy na sy ma se kos verlang het, of ‘n lekker burger van McDonalds, was hy net te lui om werk te soek en het hy hom maar verbeel dat hy tevrede was met ‘n vrug of twee per dag. Die tweede skapie was nie veel beter af nie, maar het, wanneer hy moeg was vir vrugte, ‘n vissie gevang en oor die kole gebraai. Die derde skapie het terug gekeer na die plaas en daar het hy saam met sy nuwe vriende gewerk. Sy werk was om die werfhoenders op te pas en te beskerm teen die nare wolf. Hy het sy werk goed gedoen en die boer het hom ook goed betaal. Soms het die buurvrou ook van haar gebak saam met hom huis toe gestuur. Met tyd het hy vir hom meubels en ‘n kaggel gebou, waarin hy vir homself saans die lekkerste sop en bredies in ‘n groot swart pot gemaak het.
Op ‘n dag is daar ‘n geklop aan die eerste skapie se deur.
“Wie is daar?” Die skapie was maar versigtig want hy het by sy broer gehoor van die wolf.
“Dis ek Malema, die wolf.”
“Jammer, ek kan nie nou deur toe kom nie.” het die skapie benoud laat weet.
“Kom maak oop of ek blaas jou huis op.”
“Nee!” het die skapie effe harder laat hoor.
“Ek tel tot drie…een…twee…drie…” met drie is daar ‘n helse slag en daar waai die skapie se grashuisie. Die skapie gil toe hy deur die stof en gras die wolf se gloeiende oë sien en hy swaai net daar om en hardloop so vinnig as wat sy kort beentjies hom kan dra na sy broer se huis.
Binne in sy broer se plank en riet huisie het hy vinnig sy treurige verhaal vertel, maar hy was skaars klaar of daar in ‘n klop aan die deur.
“Maak oop, maak oop, dis ek Malema die wolf, ek wil met julle praat.”
“Nee ons gaan nie oopmaak nie, ons weet jy wil ons eet.” Laat die twee skapies hoor.
“Ek tel tot drie en as julle nie oopmaak nie gaan ek die huisie ook opblaas.”
“Hahaha, hierdie huisie is tog sterker…” sê die twee skapies, min oortuig, in dun stemmetjies.
“Een… twee… drie” Skielik is daar ‘n vreeslike knal en dit is net stof en hout wat oral waai.
Die twee skapies gryp mekaar aan die kloue en hardloop so vinnig as wat hulle kort beentjies hulle kan dra na hulle broer se huis toe.
Uitasem vertel hulle vir hulle broer wat met hulle gebeur het.
“Toemaar, julle is veilig hier. Al wat julle nou vir my moet doen is om daardie pot vol water te maak terwyl ek ‘n vuurtjie stook.”
Net toe die water lekker in die pot begin borrel is daar ‘n klop aan die deur.
“Maak oop, maak oop, ek wil met julle praat…”
“Nee!” gil die drie skapies tesame.
“Maak oop, ek is Malema die wolf, ek sal julle huisie opblaas as julle nie oopmaak nie.”
Die derde skapie grinnik.
“Kom eers venster toe dat ons daar gesels, en as ek tevrede is dat jy ons nie wil opeet nie sal ek oopmaak.”
Die skapie wys vir sy broers dat hulle die pot kookwater moet bring.
Toe hy die venster oopmaak staan die wolf reeds daar met sy rooi oë en kwylende bek. Voor die wolf egter nog iets kon sê tree die derde skapie terug en die twee boeties skiet die kokende water in sy gesig.
Van daardie dag af was al die skape en hoenders veilig want ‘n blinde wolf kan nie ander diere vang nie. Selfs die boer was baie dankbaar en het die derde skapie beloon deur hom voorman op die plaas te maak. Die twee boeties het hulle les geleer en vir hulle stewige huisies gaan bou. Later is al drie met skapie-meisies van die plaas getroud en nog later het hulle kindertjies van hulle eie gehad en baie gelukkig verder geleef.
Kopiereg Lynne Lexow 2019
3 Kommentare
-

Kiekies
Ek hou van jou wolf se naam!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek