Jongste aktiwiteit:

Die Groot Aptyt

Petrus Enkelblade en sy vrou Sarie, het die Bybel heel mis verstaan. Hulle het nie voort gegaan en vermeerder nie, nee, hulle het voort gegaan en vervuil. Die stadsraad het later twee huise langs mekaar vir Petrus Enkelblade gegee om al die Enkelbladejies te huisves. Toe Petrus, kort na die geboorte van nommer agtien by Dokter Verster opdaag en kla oor ʼn vurige brand op die maag, het die Dokter hom oortuig dit is sy blindederm en net daar en dan sy vreugdes veiliger gemaak, en sommer die oormatige suur op die maag ook behandel.
Petrus Enkelblade is in werklikheid Petrus Swanevelder. As jong seun is hy, na standerd ses, uit die skool en het hy by die Munisipaliteit begin werk ‘op die paaie’. Hy het homself opgewerk totdat hy later die groot padskraper bestuur het. Die dag toe die nuwe angle blade skraper afgelewer is was een van die hoogste hoogtepunte in Petrus se lewe. Trots het hy vir al wat leef en beef vertel dat hy nou die enigste een in die distrik is wat die paaie skraap met ‘n enkelbalde skraper, so word sy opgeblasenheid toe sommer sy nuwe naam.
Petrus Enkelblade se werk op die paaie het hom dikwels van die huis geneem. Sarie moes maar die kindertjies versorre, huis hou en tred hou met almal se doen en late. Wanneer Petrus op ʼn projek gewerk het soos die nuwe pad tussen Rooiberg en Warmbad, het hy net elke tweede naweek by die huis uitgekom en dan het sy loon vinniger verdwyn as ʼn verjaarsdagkoek in die Enkelblade gesin. ʼn Man wat paaie skraap se geld gaan nie ver as dit ʼn troppie kinders moet voed en klee en skooltoe stuur ôk nie. Vir ekstras was daar nie ʼn sent nie, Sarie het ʼn sent gerek tot hy koperdraad was.
Die mense op die dorp het geweet dit gaan maar noustrop by nommer 8 en 9, Krugerstraat en het gereeld ʼn ou ekstra plukselkie groente of vrugte, en hul ou klere wat nog diensbaar was daar gaan aflaai. Sarie en haar kinders het hul eenkant en op hul plek gehou. Nooit voor gesit in die kerk of in die skoolsaal met die skoolkonsert nie, en by die sustersvereniging se dames tees en gemeente etes was hulle die gewillige hande was die skottelgoed gewas het agter in die kombuis. Dit was ongetwyfeld nie vir Sarie of Petrus lekker om so van hand tot mond en op genade van ander te oorleef nie. Ook maar mens, ook maar trots, het hulle gedroom oor ʼn nuwe rok vir Sarie, skoolskoene vir die kinders, nuwe gordyne en ʼn lekkertjie vir elke kinderhandjie. Daarom ook dat Petrus altyd op die uitkyk was vir ʼn ekstra geldjie, ʼn klein gelukkie, ʼn kans in die lewe en daai soort van ding.
So was dit ook die Saterdag toe Petrus daar in die padkamp sit, ver van huis en haard, met geen spaar sent om op die naaste dorp iets mee te gaan drink saam met die ander manne nie. Die padkamp was op die plaas van Dewald Koekemoer. As daar nou ooit ʼn man met ʼn gepaste van was, dan was dit Dewald. Hy was ʼn sterke derduiwel met ʼn humeur korter as ʼn opsitkers vir ʼn onwelkome vryer. Boonop was sy vroutjie ʼn mooie kind. Die manne het almal gekyk, maar was voor die voet te bang vir Dewald om meer te doen as kyk. Die groenoog monster het vir Dewald boonop bloots gery en hy het gʼn man of seun bo veertien naby sy Dina vertrou as hy nie by was nie, wel bykans niemand nie.
Die Munisipaliteit het vir Dewald goed betaal vir die huur van ʼn stukkie van sy grond vir die tydelike padkamp, water en alles wat die werkers gebruik het, en Dewald was nie té ontevrede oor die manne op sy grond nie. Veral nie nadat hy dit baie duidelik gemaak het dat enige een van hulle wat na sy Dina se kant toe loer of haar net waag groet, aan hom sal moet rekenskap gee, nie. Die feit dat hy hierdie woorde geuiter het terwyl hy die agterkant van die ingenieurkie se Ford in die lug gehou het in sy twee hande terwyl twee ouens die pap band vervang het, het ʼn groot indruk gelaat op die manne. Die enigste een wat nie daar was toe dit gebeur het nie was die ingenieurtjie, en hy was ook die enigste een wat ooit welkom was om op Dewald se werf te kom. Die mannetjie was juis in die huis saam met Dina, besig om koffie te drink toe Dewald die werkers onder vier oë gespreek het oor sy vrou.
Die betrokke Saterdag, toe Petrus so in die padkamp op sy eie sit, dink hy dit sal seker nie ʼn slegte idee wees as hy so bietjie in die rivier gaan afkoel nie. Dis nie asof hy iets anders het om te doen nie. Met ʼn verbleikte handdoek oor die skouer en sy ou slaapbroek in die hand stap hy heel rustig aan en dink dat hy vir Mielie moes gevra het of hy sy visstok kan leen, ʼn vars paar kurpers of ʼn groot karp oor die kole sou nou vorentoe gesmaak het. Miskien kan hy dit more doen. Die swem- en badplek in die rivier is geleë waar die Krokodilrivier skerp kronkel na links. Daar is ʼn groot Witstinkhout en ʼn sanderige strandjie. Net voor Petrus deur die boskaas wat langs die rivier groei uitkom, hoor hy mense lag. Hy is effens teleurgesteld want hy het gedink dit is net hy wat agtergebly het toe die klomp agter op die vragmotor geklim het en dorp toe is. Miskien sal hy tog nog kan swem, dink hy en gaan lê plat en seil op sy maag die laaste paar meter na die rivierwal. Versigtig stoot hy die buffelgras weg en kyk af op die klein strandjie, hy wil eers sien met wie hy die swemplek gaan deel, netnou is dit Dina en Dewald, mens loop nie onverhoeds in so ʼn hinderlaag in nie.
Sweis du Plooy, die jong ingenieur wat die projek bestuur en Dina Koekemoer swem laggend in die koel waters…. hul klere lê vergete onder die Witstinkhout. Petrus was nie die skerpste potlood in die blikkie nie, maar heeltemal stomp was hy ook nie. Desperate mense vang dikwels iets onnoseliks aan sonder om te besef dat die rol twak wat hul optel eintlik ʼn dinamietkers is waarvan die lont brand. Terwyl Petrus so lê en kyk vir die twee kry hy ʼn idee wat hy eerder nie moes gekry het nie. Hy het net lank genoeg gelê om seker te maak die twee doen meer as swem en toe hulle baie besig is om te doen wat skelm vryers doen, kruip hy na die boom, raap Sweis se binnebroek vinnig op en vat koers padkamp toe.
Maandagmore, toe die manne aantree om hul instruksies te kry van die voorman wat dit op sy beurt van Sweis gekry het, vra Petrus of hy met die ingenieur kan praat. Ben Brand, die voorman, hou nie daarvan dat die manne die ingenieur se tyd mors met onbenullighede nie en wil eers niks weet nie, maar Petrus hou voet by stuk by móét vir Mnr. du Plooy sien voor hy vandag in sy enkelblade klim.
Petrus het ingestap in die sinkkantoor waar Sweis gesit en papiere teken en planne bekyk het. Sonder om ʼn woord te sê het hy Sweis se binnebroek op die lessenaar gesit. Woorde was nie nodig nie. Toe Petrus die kantoortjie so rukkie later verlaat was Sweis witter as die papiere op sy tafel en Petrus se glimlag amper reg rondom sy kop.
Toe die weeklikse lone betaal word was Petrus se koevertjie bietjie swaarder en die ingenieur sʼn ʼn bietjie ligter. Daardie naweek was daar groot vreugde in die Enkelbaldes se huise. Daar was ʼn lekkertjie vir elke klein handjie, en vir Sarie ʼn nuwe paar skoene, kontant gekoop by die Jood se winkel. Twee weke later het Sarie ʼn nuwe rok, handsak en hoed, alles pas mooi bymekaar, en vir elke kindjie wat in die skool is, nuwe kleurpotlode. Ja, Petrus het sy kans gesien en geneem en sy gesin trek goed voordeel.
ʼn Joernalis het eendag vir ʼn miljoenêr gevra wanneer is genoeg geld genoeg, waarop die miljoenêr geantwoord het: “Nooit nie. Soos jy meer geld kry, so raak jou aptyt groter.” Petrus Enkelblade was ʼn sprekende voorbeeld. Vir ʼn maand of wat het die ekstra geldjie sy mond dig gehou en was hy tevrede. Maar skielik was dit nie meer genoeg vir Sarie om ʼn rok by die Jood te koop nie, sy wil een laat maak soos die ander vrouens by Bettie Steyn. Elke Enkelbladejie wil ook nie net meer ʼn toffie of nikkerball kry nie, nee, dis nou sjokolade en roomys. So stap Petrus weer een Maandagmore in by die ingenieurtjie en vra ʼn groter stukkie van díé se salariskoek.
Die ingenieurkie het gesluk en samestellend probeer verduidelik van motorpaaiemente, petrolgeld, klererekenings, losiesgeld en sulke dinge, goeters waarvan Petrus nog nooit gehoor het nie en hom nie aan gesteur het nie. Sweis het geweet as Dewald te hore kom van hom en Dina gaan daar bloed vloei, en dit gaan nie Dewald sʼn wees nie. Daardie Vrydag is Petrus se loonkoevert nog ʼn bietjie dikker en die ingenieurtjie sʼn opmerklik kleiner.
Weereens het dit vir ʼn rukkie goed gegaan. Petrus was gelukkig, die Enkelbalde kindertjies was gelukkiger en Sara was die gelukkigste. Nuwe sitkamerstel, nuwe gordyne en beddegoed, nuwe klere, ʼn spens vol kos. Niks om oor ongelukkig te wees nie. Sara word verkies op die bestuurspan van die vrouevereniging en dit is Koos Poggenpoel se vrou en kinders wat nou die skottelgoed was in die kombuis. Met verhoogde status kom ekstra uitgawes. Daar is ʼn groot vergadering van die streek se vrouevereniging in die buurdorp. Sara het nuwe uitrustings nodig en dan nog die kostes van vervoer en verblyf. Hannie, die oudste van die Enkelblade kroos het ʼn vryer en gaan Saterdagaande dans, nuwe uitrustings vir haar ook. Tonie die tweede oudste is vriende met die Tandarts se seun, maar dit gaan meer oor die hondjie as die halsbandjie en om die vriend se sussie te beïndruk moet daar geld wees vir blomme en sjokolade en melkskommels by die kafee. Kortom, die ekstra geldjie is net nie meer genoeg nie.
Die Maandagmore is Petrus weer by Sweis in die kantoor. Sweis sweet bloed, smeek, praat, huil, maar Petrus se hart is hard. Hoe kyk hy sy gesin in die oë as hy nie vir hulle die beter dinge kan gee nie? Veral nou dat almal hom en syne met respek behandel. Hulle is nog nie gesiene lede van die gemeenskap nie, maar hulle geniet wel aansien. Klein Lina staan hoeka nou voor in die koor … skoolkoor.
Die einde van die week is Petrus se koevertjie lekker dik en Sweis sʼn bykans leeg. Mens kan ook nie bloed uit ʼn klip tap en rose in die woestyn groei nie. Drie weke later, toe Petrus weer na ʼn naweek tuis by die padkamp opdaag staan daar ʼn nuwe motor waar Sweis se swart Ford altyd geparkeer het. Op navraag blyk dit dat daar nou ʼn nuwe man op die job is. Sweis en Dina het blykbaar oor die naweek tasse gepak en hulle is vort. Niemand weet waarheen nie. Dewald is soos ʼn brullende leeu met ʼn seer b … been. Almal loop lig. Die polisie staan wag by die padkamp se hek en patrolleer die heining met honde om die man uit te hou. Hy wil al wat padwerker is doodslaan.
Almal lag te lekker oor Sweis wat so onder Dewald se neus sy dierbare Dina gesteel het en skud verwonderd hulle koppe. Niemand het in hul wildste drome kon raai of dink dat Sweis dit in hom het nie. “Ook maar mens, ook maar lus” het Ben gelag.
Toe Petrus weer huis toe gaan na twee weke was dit met lood voete en ʼn diep sug wat hy met sy tuinpaadjie voordeur toe gestap het. Klein Frik moes op die uitkyk gewees het vir sy pa. Voor Petrus nog halfpad voordeur toe is storm hy en ‘n groot gros van sy boeties en sussies op hom af. Frik klou styf vas aan die boek wat sy pa vir hom vir sy verjaarsdag gekoop het en skreeu luidskeel sodat die hele buurt kan hoor: “Pa is hier! Pa is hier! Kom Pa! Kom lees vir ons! Lees vir ons die storie van die gans wat die goeie eiers gelê het! Pa het laas belowe as Pa weer by die huis is gaan Pa dit vir ons lees!”

Julle ken daai sprokie ….




5 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed