Die foefie slide.
Na my en Jannie se teer debakel, was daar ‘n verstaanbare kommunikasie stilte tussen die twee gesinne. Wat dit eindelik tot einde gebring het, kan ek nie meer mooi onthou nie, maar dit moes dalk ‘n troue of begrafnis in die familie gewees het, wat die twee susters weer na praat gedwing het. Hoe dit ook al sy, hulle het die strydbyl begrawe.
Nie lank daarna nie, moes my ouers egter van die plaas na Pretoria reis, en vir welke rede, het dit so gebeur dat ek by die Van De Venters moes agter bly. In daardie dae was so ‘n reis ‘n groot afêre. Die pad was lank, enkel baan, en het deur al die klein dorpies geloop. Dus het dit daardie dae baie langer geneem om die sowat drie honderd kilometer na die stad af te lê. Die hele pad, tot by Nylstroom, is ek ‘n ernstige preek af gesteek. Alle moet’s, en moenie’s was uitgespel. En ek moes belowe om ons naam hoog te hou.
Na my ouers daar weg is, is ek deur Jannie ingelig, dat hy ‘n sootgelyke preek ontvang het, en hy was ook die dood voor die oё gesweer, as ons droog maak soos die laaste keer. Ons het plegtig onderneem om binne sekere perke, hard te probeer om ons onderskeie ouers se voorwaardes na te kom. Vir die hele volgende vyf minute was ons gedrag onberispelik. “Ek belowe.”
Skielik het Jannie my gevra of ek dan al sy boomhuis gesien het. Jannie se ouers het ‘n mooi huis met ‘n baie groot erf gehad. Groot genoeg vir hoenderhokke, en ‘n klein woonstel agter waar sy oupa aan sy pa se kant gebly het. Aan die voor kant, was ‘n teer straat. Ek was eers te bang om daaroor te loop. My vorige ontmoeting met teer, en veral die nadraai daarvan, was nog vars in my geheue. Eers na Jannie my gewys het dit sit nie onder sy voete vas nie, het ek dit gewaag om oor die teer te loop.
Aan die oorkant van die straat was ‘n stuk veld, met heelwat groot bome. Verder, het Jannie my gaan gewys, loop die nyl rivier onskuldig deur die veld. Langs die rivier was dit meer ruig, met hier en daar groot bome. Die rivier self, het op die stadium nie veel water in gehad nie, en omtrent so half meter diep.
Jannie se boomhuis was nader aan die teerpad, maar ons kon die rivier van uit die boomhuis sien. Hier kon ons lekker speel, en onder die groot mense se voete uit bly. Ons het self vir ‘n kort tydjie boek gesit en lees. Dit was nou wel Ruiter in swart, en die Wit tier of Swart luiperd. Maar, in ons denke was ons heel voorbeeldig.
Op een stadium het Jannie laat val dat hy nou al ‘n keer of wat gewonder het hoe lekker ‘n foefie slide van die groot bome af, tot in die rivier nie sou wees nie. Ek het iets in die lyn van mens moet dit net doen, dan wonder mens nie meer nie. Jannie het saam gestem. Hy het ‘n stuk papier en ‘n potlood uitgegrou, en ons het ‘n materiaal lys begin saamstel om die “haalbaarheid” te bepaal.
Vir ‘n foefie slide, is die kabel die belangrikste enkele item. Na ‘n paar voorstelle, soos tou, of draad, het ons gou die materiaal se tekorte besef, en geweet. Niks behalwe kabel sal werk nie. Ons het ‘n rol kabel in die hande gekry, ek kan nie onthou by wie nie. Daarna, het ons vir ‘n katrol of so iets begin soek, en gou besef dat ons droom begin vervaag. Ons kon niks geskik in die hande kry nie. Ons wou nou ook nie so rond vra dat die groot mense snuf in die neus kry nie.
Die aand sou ons braai. Jannie het sy ouers oortuig dat hy en sy neef nou oud genoeg is om op ons eie te braai. Met ‘n stuk vleis elk, koerant papier en vuurhoutjies, sit ons af na die boomhuis. Daar aangekom, besef ons daar is ‘n probleem. Ons kan nie in die houthuis vuur maak nie, hoe nou gemaak!
Die as dromme in daardie jare was van yster gemaak, en dan gegalvaniseer. Die deksel van so drom, was ons antwoord. Met die deksel in die boomhuis, en klippe onder in gepak om hom stabiel te hou, het ons die vuur in die deksel gemaak.
Eers na ons begin braai het, kom ons dit agter. Die boomhuis brand. Die hitte van die vuur het die vloer planke laat begin brand. Ons kon daar in slaag om die brand te blus met ons koeldrank. En ons kon verder braai. En, net daar vind ons ‘n oplossing vir ons katrol probleem. Die stuk yster pyp wat ons gebruik om die kole mee te krap, is net die regte ding! Al wat ons nodig het om te doen, is om die kabel deur die pyp te voer, en te anker. Ons trek dan die pyp met ‘n stuk tou tot bo in die boom, hou die pyp vas in ons hande, en laat waai. Die pyp sal oor die kabel gly, en dieselfde as ‘n katrol vaar.
So gemaak so gedaan. Die volgende dag is ons na die rivier, en na ons die geskikte plek gekry het, begin om ons plan tot uitvoer te bring. Eers het ons die kabel in die boom vas gemaak. So hoog as wat ons dit kon waag. Daarna het ons die ander punt oor die rivier getrek, wat soos ek reeds gesê het, net ‘n stroompie was. Daar het ons ‘n yster pen in geslaan. Toe trek ons die kabel so styf as wat ons kan en maak hom vas.
Hier moet ek dalk noem dat twee maer gatte soos ons, nie die kabel naastenby so styf kon trek soos ons wou nie, en het die kabel maar met ‘n redelike boog gehang. Die feit dat dit dalk tot ons nadeel kon wees as die kabel dalk nie styf genoeg is nie, het ons min gepla. In teendeel, al het ons geweet wat die slap kabel tot gevolg sou hê, glo ek nie dit sou ons van stryk gebring het nie! Die stuk yster pyp is tot bo getrek met die tou, en toe moes ons besluit wie eerste sou wees. Nou dat ek ‘n volwassene is, en kan terug kyk oor my lewe, kan ek ‘n definitiewe patroon sien. Ek besef nou hoe die ongeluk soms nader aan my gekleef het as my skaduwee. Dit sou my beter dien as ek dit daardie dag reeds besef het.
Maar die lot val op my, en dit was ook nog ‘n herhaling van my lewenspatroon. Ek was ook altyd daai ou van wie ‘n voorbeeld gemaak moet word, as jy verstaan wat ek bedoel. Nou was ek egter gretig, en het belangrik gevoel, amper soos daardie eerste tree op die maan. Ek haal een keer diep asem, en dan trek ek weg met ‘n kreet.
Ek het later gehoor wat presies gebeur het. Heelwat later eers! Ek het, soos reeds gemeld, met ‘n kreet weg gespring, en aan die begin het dit blykbaar goed gegaan. So vir die eerste drie meter of wat. Maar toe, asgevolg van kurwe van die slap kabel, begin spoed verloor. Die kabel het ook ‘n kinkel of twee in gehad. Snaaks dat ons dit nooit voorheen gepla het nie. Die kinkel het die yster pyp net daar vas laat steek. Momentum het vir die res gesorg!
Ek het genoem dat ons die kabel so hoog as moontlik in die boom vas gemaak het, en die plan was om te laat los sodra ons oor die rivier gaan, en dan in die water sou val. Dit was die plan. Die werklikheid was anders. My hande ruk van die pyp af, en met voete wat nou vinniger vorentoe beweeg as my hande, beland ek op my rug! Dit opsig self sou nie so erg gewees het nie, as ek dit net tot in die water gemaak het. Ek het die Nyl rivier met ‘n meter mis geval.
Dit sou moeilik wees om te glo dat dinge nog erger kon word. Dinge het egter baie erger geword, onmiddelik na ek weer regop kon sit in die modder waarin ek geval het. Oom Frikkie, Jannie se pa was net betyds om my rit op die foefie slide van hulle huis se stoep af te sien gebeur. Toe ek tot verhaal kom, hoor ek hom sê “Nou gaan ek julle stert vere vir julle uitpluis.”
Al die pad terug huistoe saam my ouers, moes ek hoor hoe roekeloos, onbetroubaar, ondankbare en ongehoorsame kind ek is. Aai, ek mis my neef sommer al klaar weer! Net ons verstaan mekaar!
© Vossie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek