Jongste aktiwiteit:

Die geur van onthou

Tog wonderlik hoe mens se sintuie jou gemoedstoestand kan beïnvloed of jou skielik na die verlede kan verplaas. Klank, geur en beelde kan jou oombliklik herinner aan gebeure uit jou kinderjare en glo my, hoe ouer mens word, hoe sterker word die assosiasie tussen sintuiglike waarnemings en onthougoed uit die verlede.
So paar jaar gelede met ‘n besoek aan die Verenigde Emirate stap ek by ‘n groot winkelsentrum by ‘n kiosk verby waar hulle, noem dit maar kaneelrolletjies, verkoop. En net daar is ek jare terug in die plaaskombuis waar my ma op wintersaande vir ons melkkos gemaak het, lekker dik met baie kaneelsuiker bo-oor. Op reënerige dae het ons pannekoek gebak, net so mildelik met kaneelsuiker bestrooi.
As ek by ‘n bakkery verby stap waar ek die geur van varsgebakte brood kry, word ek plotseling terug verplaas na daardie einste plaaskombuis waar my ma elke derde dag of so vars brood moes bak. Sy het nog koekies klam gis gebruik wat sy met suiker en lou water moes laat staan om te gis tot dit lekker skuimerig is en sommer die piering van die bakkie wil aflig. Ek hou vandag nog van daardie soet gisserige geur. Dan sit ons almal na aandete in die kombuis om die tafel terwyl my ma knie. Ek onthou daardie warm gemeensaamheid van ons hele gesin waar almal skerts, lag en gesels en selfs my pa en ma bietjie vergeet van die sorge van die droogte. Die skottel deeg word soos ‘n baba toegedraai en in die hoekkas gebêre om oornag sy ding te doen.
Maar die lekkerste van als was die hemelse geur waarmee ek die volgende oggend begroet word wanneer die brood amper gereed is om uit die oond te kom. Dis die vinnigste wat ek uit die bed uitkom vir ‘n dik sny warm brood, verkieslik die korsie as ek eerste daar is, met skaapvet en stroop.
Nou die ander dag, amper skemertyd, kom ons by Aristata aan waar ons in die Seweweekspoort tuisgaan. Hulle geriewe bestaan uit die ou plaasgeboutjies wat gerestoureer is en ons is toevallig in die hoofhuis. Toe ons by ons huisie instap, kry ek die reuk van lampolie en daar staan hy, ‘n regte egte outydse paraffienyskas en hy werk soos ‘n bom. Aan hake aan die mure hang in elke vertrek drie tot vier lanters en ek steek die hele lot aan, twaalf kerskrag sterk. En ek verbeel my ek is terug op die plaas.
In my kindertyd het ons twee yskaste gehad, so ‘n outydse grote met baie rondings en baie rokerig. En toe hy nie meer so effektief werk nie, koop my pa ‘n moderne nuwe een met reguit, hoekige lyne, kleiner van gestalte, maar waarskynlik met meer pakplek.
Dit was ons “kleintjies” se werk om die yskaste en lampe vol paraffien te maak. Die houer was ‘n ou paraffienblik met ‘n pompie in waarmee ons al die lampe en die primus moes volmaak vóór donker. In die somer is net lanterns en gewone Chalwyn Consul olielampe gebruik, maar in die winter is die Coleman lampe opgesteek en opgepomp tot die ligsakkie spierwit en helder skyn. Hierdie sakkies moes ook van tyd tot tyd vervang word en die lampglase gewas word want dit brand maar mettertyd swart, veral as dit bietjie wind vang.
Nog ‘n geur wat my oombliklik plaas toe verplaas is díe van koljander. Wat is tog lekkerder as daardie dun stukkies winddroog sprinbokbiltonkies waarop die koljander taamlik rojaal gebruik is. Biltong is net in die winter gemaak, altyd gedurende die wintersvakansie en dan is almal van die gesin wat kan, daar om te kuier en te jag.
Wanneer die jagters laatmiddag terugkom met die bokke, word hulle afgeslag en oornag uitgehang. Die volgende oggend vroeg word begin met die vleiswerk en biltong sny en wors maak. My pa het ons altyd bederf met lewer in netvet wat sommer daardie eerste aand al gebraai word saam met skaaprib en ‘n lekker rol boerewors.
Die biltong word eers laat lê in die speserye en die volgende nag buite opgehang. Moreoggend voor sonop moet dit afgehaal word en op die stoep gehang word tot die aand wanneer dit weer uitgehang word. So word dit heen en weer geskuif tot dit winddroog is en verder op die stoep kan droog word. Na die tweede dag is die flentertjies dun springbokbiltonkies net reg vir eet en verdwyn hulle soos mis voor die son.
Maar die onthougeur wat die verlange na daardie sorgelose tyd in my lewe op die plaas die sterkste na die voorgrond bring, is díe van die eerste reëndruppels op droë grond. Daardie ongelooflike geur – hulle noem dit petrikor – laat die kind in my heeltemaal oorneem en ek wil soos ‘n wildsbok die lug snuif en bokspring.
By ons in die Keetmanshoop distrik het dit nie dikwels gereën nie, soos dit maar ís in die suide. Dus het ons met groot afwagting en opgewondheid die opbou van wolke dopgehou op snikhete warm dae gedurende die Desember vakansie. Wanneer die genadige skemerte oor die huis daal as die wolke die meëdoenlose felheid van die son ietwat demp, loer ons elke nou en dan by die deur uit om te sien of die wolke saampak en belowend donkerder word. Dan is ons kinders buitentoe om in die “koelte” te gaan speel tot die eerste vet reëndruppels val. Ons kom ook nie in voor dit nie behoorlik reën of die weer te swaar word nie.
Ons het in die somer buite geslaap; ja dit was in die goeie ou tye toe deure op plase nie slotte gehad het en daar nie diefwering voor vensters was nie. Beddens en matrasse is saans uitgedra, al lyk dit dalk na reën want dan is dit éérs bedompig. As die druppeltjies begin val snuif jy daardie lieflike geur van nat grond diep in jou longe en geheue in met ‘n lekkerste wat jou maag laat hol trek. Na ‘n rukkie trek jy maar eers kop toe en dan wanneer die reëntjie té sterk word, trek ons maar stoep toe, met bed, matras en al. Net om die reëntjie weg te jaag en in die verstikkende bedompigheid verder deur die nag te worstel.
Natuurlik was daar ook die ontelbare kere wat die weer opgesteek het, maar net weer so verdwyn het. Dit is maar hoe dit in ons land is en waaraan ons gewoond is. Díe dat die reën so ‘n besondere bekoring vir ons inhou.
En natuurlik die geur van parfuum – soos Chanel N° 5 wat my pa so graag vir my ma, en partykeer ook vir my, vir kersfees gekoop het; nog steeds een van my gunstelinge en dié geur wat my altyd aan my ma laat dink.
Ek lees nou die dag dat geure die deel van jou brein stimuleer waar herinneringe gestoor word, dit beïnvloed jou polsslag, bloeddruk, asemhaling, stresvlakke en hormoonbalans. Van ons vyf sintuie is slegs die reuksintuig direk verbind met die emosionele kontrolesentrum in die brein – dieselfde plek waar vrees, angs, depressive, woede – en vreugde – vandaan kom. Dit klink dus vir my dat hoe meer aangename geure jy jouself mee omring – verkieslik dié wat jou aan aangename gebeur herinner, hoe gelukkiger sal jy wees.
Gelukkig is daar in my geheue genoeg onthougeure vasgevang om my vir die res van my leeftyd te hou want mens raak mos nie moeg vir lekker-ruik-goed nie!




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • LT het n geregistreerde lid geword

  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Isha Welman het ‘n nuwe publikasie gemaak