Jongste aktiwiteit:

Die padlopers in my lewe (1)

Buite op die sypaadjie in die winterkaal Plataanboom maak dieselfde duifiemamma vir die afgelope 5 jaar haar nessie. In uiterste omstandighede bly sy sit tot haar kuikens groot genoeg is sodat sy uit die koue uit son toe kan gaan vir die res van die winter. Omdat sy die toonbeeld is van ‘n superma soos Jesus bedoel het ons ma’s moet wees en omdat ek haar so bewonder, het daar ‘n besondere band tussen haar en my ontstaan. Hulle en hulle kleintjies is baie mak, sal definitief uit my hand eet as niks hulle steur nie.
Op hierdie mooi, koue dag verlede winter, gesels ek soos gewoonlik met haar in ons twee se taal:
“Dankie dat jy so ‘n goeie mamma is, my liefie, dankie dat jy die koue trotseer terwille van jou babas …” Dis die trant en sagte liefdeswoordjies wat ek en sy wissel. Ek praat en troos haar met woordjies van waardering, en sy knik net af en toe haar koppie. Soos gewoonlik draai sy haar om om my beter te sien en ek koer saggies voort:
“Jy’s die beste en die mooiste ding wat Jesus ooit gemaak het! Jy’s pragtig en ek wens ek kon jou toemaak teen die koue. Onthou net, Jesus het jou baie, baie lief, my skat …”
Die volgende oomblik praat ‘n hol stem temerig hier naby my op die sypaadjie:
“Antie? Wat sê Antie dan nou vir my? Nog niemand in my lewe het vir my sukke mooi goete gesê van liefde nie!?”
Die waterige stem breek met rukke op soos ‘n mobiele foon in die Sinaïwoestyn. Ek skrik my buite weste en draai om. Voor my staan ‘n padloper, vuil en verwaarloos, ongeskeer en sonverbrand …met ‘n uitgestrekte hand en trane en ‘n loopneus wat vore trek op die vuil van baie dae …
Ek is lamgeslaan: ‘Jesus, en nou díe dan’? Wat gaan ek hom antwoord as hy vir my vra of ek vir hom lief is?
Die uitgestrekte hand is soos ‘n vuurwerk: dit stoot jou af maar dit trek jou aan ook. Wie op dees aarde het ‘n handdruk uitgevind! Maar miskien moet ek dankbaar wees dat dit net eskimos – en elwe! – is wat hulle neuse teen mekaar vryf om te groet. Talle lawwe uitdrukkings en gesigte skiet soos stralers deur my gedagtes, alles om tyd te probeer wen.
Hy skuifel bietjie nader …en die spirits- en ongeborselde tandereuk slaan my soos ‘n pap vis deur die gesig. Ek steier eenkant toe, maar hy kom meedoënloos nader, die uitgestrekte hand nog ‘n bietjie hoër as netnou. En toe, weer ‘n keer, wen Jesus wat in my is. Ek neem sy growwe hand met die vuil, lang naels in myne, en dieselfde deernis wat ek vir die duifie voel, kom lê my binneste vol. Asof dit nie ek is wat dit doen nie, sien ek hoe my ander hand ook oor syne vou, dubbele bevestiging dat hierdie man vandag met ‘n doel in my lewe gekom het.
Hy stel homself voor: “Ek is Bennie, Antie, en ek is baie honger. Ek het ver geloop, die mense wil my nie lift gee nie. Antie, het Antie nie vir my ‘n ou ietsie om te kou nie?”
Hy wieg op sy lam bene en ek besef hy sal moet sit, anders gaan hy omval …en hy gaan hard val. Tot dusver het ek nie ‘n woord gepraat nie, deels omdat ek nie ‘n woord kán uitkry nie, en deels omdat my verstand oortyd werk. Wat op aarde gaan ek sê as sy beneweldheid bietjie oplig en hy onthou van die troetelwoordjies wat hy gehoor het?
Ek fluister amper my naam met die bekendstelling en toe fermer:
“Gaan sit plat, Bennie, ek gaan vir jou kos haal” Daar is sowaar nie ‘n manier dat ek hierdie vergiftigde man in my erf gaan innooi nie! ‘O, ja?’ praat my Gewete met my. ‘Nee, Jesus, ek sal álles doen, maar ek gaan hom nie in my mooi spierwit spaarkamer laat slaap nie!’ My Gewete is doodstil. ‘Ag dankie tog!’ Hierdie stryd het ek gewen.
Voor my gaan Bennie bewerig en omvallerig op die sypaadjie sit, langbeen met sy kop wiegend amper op sy knieë. Ek loop om Bennie, sluit die swaar swart hek agter my toe. Bennie probeer my agterna kyk en mompel iets wat ek nie kon hoor nie. Ek is bewus van die swaar klopping van my hart. In die kombuis val ek op ‘n stoel neer, besluit vinnig wat ek het om vir Bennie te gee. Ek gaan haal ‘n papierbord, papierglase, plastiese mes en vurk en ‘n servet uit. Uit die yskas haal ek van gisteraand se oorskiet frikkadelle uit, sit ‘n appel by, skep ‘n lepel van die aartappelslaai op die bord, sit die ketel aan vir koffie en gaan smeer al 8 snye brood wat daar is met baie konfyt. Ek haal ‘n takkie pietersielie uit die yskas en sit dit trots op die aartappelslaai. Ja, dis mooi genoeg, selfs as dit Jesus self is wat voor my staan. Ek skink die beker vol sterk swart koffie, en tussendeur wonder ek of swart koffie ooit sal help vir ‘n spiritsdronkenskap. Ek haal my skouers op, gooi baie suiker in en sit alles op ‘n skinkbord. Toe ek by die kombuisdeur uitkom, sit Bennie steeds soos ek hom ‘n klompie minute gelede gelaat het. Ek bid met oop oë vol geloof: ‘Jesus, kom help my’!
Bennie het die kos dankbaar met sy vuil hande geëet, maar die brood het hy opgetel, daarna gekyk en verwytend met ‘n mond vol kos geraas:
“Ek het dan so mooi gevra vir Marmite, Antie! Ek háát konfyt!”
Bennie se mond was dik, maar einde ten laaste het hy die brood met die gehate konfyt ook opgeëet. Ek het my verwonder aan die tydsame genot waarmee hy elke happie kou en kou en kou, asof hy dit gladnie wil insluk nie, die lus vir spirits gespaar tot hy klaar is.
Intussen het ek bly dink: ‘Wat doen ek nou? Ek weet ek moet vir hom bid, maar wat gaan dit help in sy toestand? Moet ek hom van Jesus vertel wat almal ewe liefhet?’ Ek glo nie Bennie gaan ‘n woord hoor nie. ‘Ai, wat dan nou, Jesus? Bennie moet hier opstaan een of ander tyd en dit lyk nie of hy in staat is daartoe nie.’
Ek staan toe al ‘n halfuur by Bennie, maar Bennie is nie haastig nie. En toe trek Bennie los:
“Antie, kan ek met Antie praat oor Jesus? Ken Antie vir Jesus, onse Groot Koning wat eendag op Sy pragtige wit perd met die wilde maanhare vir Antie en vir Bennie en vir al my maters vir wie ek al van Jesus vertel het, gaan kom haal? Het Antie ‘n Bybel? Ék het een!”
Ek maak my oop mond doelbewus toe. Bennie haal sy verslete, goedgeleesde Engelse Bybel uit sy drasak. Hy blaai doelbewus na ‘n gedeelte in Lukas. Lukas 15:21-22 en vers 24: ”And the son said to him: I have sinned against heaven, and in thy sight, and am no more worthy to be called thy son. But the father said to the servants: “’Bring forth the best robe and put it on him, and put a ring on his hand, and shoes on his feet … for this, my son, was lost and is found.’ En Antie, net so soos die verlore seun kom ek elke dag trug na my Pa toe. Want my Pa is die Koning mos, en ek is Sy prins. Elke dag kom vertel ek Hom alles wat daai dag met my gehappen het, en hier waar ek nou by Antie sit, het Jesus gehoor hoe het Anti vir my gegroet met mooi woorde van baie love en Hy het gesien Antie het vir my mooi kos gegee met ‘n groen blaartjie op. Alles was baie lekker, maar die brood was donners sleg, want ek háát konfyt.” Sy spraak is weer onsamehangend, maar hy lyk meer nugter. En toe preek Bennie vir my, voor ek ek nog my preek vir hom reg het!
Bennie steek sy hand uit na my toe, die baie vuil servet steeds in sy hand. Skielik dink ek daaraan: as ek Bennie moet optrek, gaan hy teen my val, want ek sal hard moet trek. “Ag, Jesus, gaan hierdie …ding dan nooit einde kry nie?” Ek steek my hand uit, Bennie gryp dit vas en ek steek my skoen half onder Bennie se voet in. Ek tel: ‘Een, twee, drie!’ Bennie waggel orent, sy asem ‘n waterval van walging oor my gesig. Vir ‘n paar baie lang oomblikke hang Bennie in genade aan my ondersteuning, hy val-val na die sykant toe, kom regop en hang oor na die ander kant toe, maar gelukkig, baie gelukkig vir my, staan Bennie op sy eie voete. Vir nog ‘n baie lang oomblik wonder ek of hy gaan val en my saam met hom omtrek.
“Dankie, Antie, vir die kos en als. Ek moet nou eers gaan soek vir ‘n winkel. Anti het nie dalk so ‘n paar Rand los nie? Ek wil gaan …brood koop…” Ek skud my kop.
“Nee, Bennie, ek gaan nie vir jou geld gee nie.”

Die lus vir nog spirits het kop uitgesteek …




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed