Jongste aktiwiteit:

Die padlopers in my lewe (2)

En vandag gebeur dit weer. By dieselfde swaar, swart hek staan ‘n padloper …met ‘n kortbroek aan in die yskoue winterweer. Ek sidder vir sy onthalwe en stap nader. Hy hou ‘n heel brood na my toe uit. “Kan Tannie asseblief vir my help met so ‘n bietjie smearings op die brood?” Ek vat die brood deur die toe hek by hom, my gedagtes weer by Bennie en die Marmite. Ná ‘n jaar se depressiepryse wat die lug inklim, het Marmite ‘n duur item geword om sommer so op ‘n hele brood te smeer. “Eet jy konfyt?”
“Ja, Tannie, ek is baie lief vir konfyt!” Dankie tog!
Ek gaan smeer die brood, sit ‘n klein stukkie duur kaas by, haal ‘n peertjie uit die sak en ‘n liter aangemaakte koeldrank, en gaan gee dit vir hom.
Die stewige middeljarige man met die mooi taalgebruik is amper skoongeskeer, maar sy kaal bene is oortrek met koueskubbe. Hy ruik nie na rook nie, nog minder na spirits of drank. Hy gaan sit langbeen voor die hek, begin met smaak eet. Ek voel ongemaklik oor die arme man met die kaal bene in die koue op die sement voor my hek. Die Gemeenskapsprojek kan sekerlik vir hom voorsien van warm klere?
Ek knoop half ongemaklik ‘n gesprek aan. “Wat is jou naam?”
“Ek is Francois, Tannie, en ek kom nou net uit die tronk uit. Ek was lank daar, veertien jaar! Maar ek het nog my lisensie. Ek kan trokke ook bestuur …hier is dit. Maar ek kry nie werk nie.” Sy kop hang … en ‘n droë hoesie keer dat sy trane uitloop waar ek dit kan sien.
Uit die plastiese inkopiesak haal hy ‘n verslete broek en ‘n dun, skoon kombers. Al sy aardse besittings. Tussen die voue van die kombers haal hy sy kosbare lisensie uit. Francois van As se lisensie. Om trokke ook te bestuur.
“Hoekom het jy ‘n kortbroek aan, Francois? Het jy dan nie warm klere nie?”
“Ek kan nie langbroeke dra nie, Tannie.”
“Hoekom nie?”
Want ek het kanker, Tannie.” My oë gaan dadelik na sy kaal, blou bene. Ek sien geen teken van kanker nie. Seker aan sy voete?
“Waar is die kanker, Francois?” Hy kyk af. “Ek was mos in die tronk, Tannie. Die manne het my bygekom. Dis daar waar die kanker is, Tannie. By my gatseksie.” Francois se stem breek. Hy kyk ver en diep die vlaktes in.
Ek durf nie vir hom kyk nie, want die giggellag oor die onverwagse wilde woorde wil oorneem. Ek draai om, gaan haal vir hom klere en ‘n nuwe Bybel en skryf voorin: Aan: Francois van As met die troklisensie. Van: Jesus Christus. Ek gaan gee dit vir hom. Francois aanvaar die Bybel in verwondering, streel daaroor en in ‘n fluisterstem vra hy: “Tannie, hoekom gee Tannie vir my ‘n Bybel?”
“Want Jesus is daarin, Francois. Gaan soek Hom daarin! Moet asseblief nie ophou soek voor jy Hom nie gekry het nie.”
Groot, hartseer trane rol oor sy wange. Sy lewe wat nou eers weer begin het is haas alweer verby. En hy weet dit. Hy trek die nuwe kouse oor sy ongewaste skoon voete, sit die 3 paar stukkende sokkies wat hy uitgetrek het, in ‘n ou broodsakkie. “Om in die eerste asblik te gaan gooi …”
Hy tel sy nuwe ou tas met nuwe ou klere op, groet eerbiedig in sy goeie taalgebruik wat hy steeds onthou het die 14 jaar in die tronk, ten spyte van die nuwe dialek wat hy aangeleer het daar. Hy staan lank na my en kyk, lig sy hand in ‘n groet …en vat pynlik die pad.
My twee padlopers wat my lewe aangespreek het. Ek wonder oor Bennie. Het die spirits se vuur hom uitgebrand? Lê hy iewers langs die pad wat hy liefgehad het, weggegooi? Het Jesus gedoen wat ek nie kon of wou doen nie: vir Bennie ingenooi in Sy huis in?
My twee uiteenlopende padlopers met die een ding in gemeen: hulle is paralelle lopers op die eensame pad van die lewe.
Ryker miskien as die rykste stralerjakkers onder ons,

… want hulle het die tyd om vir Jesus te soek …




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak