Jongste aktiwiteit:

Die SAKKEROLLER se VERHAAL

Die Sakkeroller se Verhaal

Op die vlooimark

Sy was ‘n pragtige meisiekind, jonge vrou moet mens sê, kaalvoet met sterk bruin kuite. Haar rok het om haar knieholtes gefladder, en was stram om haar heupe gespan, en die welige haarbos het haar skouers gedek tot waar die bloese en haar gehekelde tjalie gereik het. Van voor, sien ek dat die beloftes van agter ingehou word: Groot helder oë, glansende appelwange en ’n effense wipneusie bo ‘n paar vol lippe; haar gespierde arms en borste so rond en lieflik soos haar hele verskyning. ‘n Prag van ‘n mens, ‘n „stralevrou” soos die toeriste uit Tedesco(☼ sê; kan beslis goed en graag lag. Waarskynlik uit een van die vissersdorpies in die baai onder die steilkus. Seker brandarm, so skraps geklee die tyd van die jaar.

„Agt-honderd, signore!” roepsinglag sy vir ‘n ouere man wat voor haar stand staan en nasin. Sy het dadelik gemerk waarop sy oog rus. „Normaal agt, maar vir u, sewe!”

Hy draai half om en kyk haar met half-afwesige, half-verbaasde oë aan, trek sy skouers op en wil weer wegdraai. Daar kom sy soos ‘n warrelwind om haar karretjie, „Kyk, meneer, dis die laaste wat ek het, u kry dit vir net ses-honderd!”

Die ouere man is goedgeklee. Dit wil sê dis herfslik koel, en hy het ‘n leerbaadjie aan oor ‘n rolkraagtrui. Hy aarsel en bring sy hande op om Halt! aan te dui, maar hy kom net tot halfhoog. Dit lyk asof hy g’n krag in sy arms het nie.

Sy speur sy swakheid, sy twyfel, en bring die volgende frontaal-aanval, „Sien u, meneer, vir so iemand soos u gee ek dit vir vyf!” Hy draai half-links, half-regs en voel na sy beursie in die regte boud-sak. (Man, sal hulle nooit leer nie?) Hy vermy haar oë en soek ‘n uitweg, wil weer heeltemal omdraai en in die ander rigting wegloop.

„Vier, meneer! Vier, drie, meneer! Dis al laat en ek wil nie alles moet terugsleep nie!” Hy haal sy beursie uit en loer daarin, dan krul hy sy vingers styf daarom, skud sy kop, trek sy skouers terug en vang aan om vors weg te stap.

Haar stem breek, haar oë loop oor. Nou hang haar skouers, sy pluk aan haar tjalie uit gaatjieshekelwerk en roep hees en skaars hoorbaar agterna. „Twee-honderd, meneer. ‘n Geskenk vir jou vir twee-honderd.” Sy kan nie haar stand verlaat en hom agtervolg nie, want sy weet dat ek daar staan en wag.

Weereens aarsel hy, kyk links dan regs, maak sy skouers krom en staar op die grond. Hy rek hom hoog en kyk na bo asof hy raad soek. Dan draai hy vasbeslote om, gryp in sy beursie, druk haar ‘n banknoot in die hand en verdwyn in die skaar markbesoekers.

Deur vertraande oë sien sy dat dit ‘n duisender is.

Maar ék het gesien hoe hy die beursie aan sy broeksak verbygesteek het, en hoe dit op die grond geval het. Blitsvinnig was ek daar waar die beursie lê, en skuif dit met die voet in die rigting van die stand met die Amerikaanse Burgeroorlog soeweniers. Net toe ek buk om dit op te tel, word ek van agter gestoot, dat my kop teen die speke van die waatlemoenkar stamp. Tussen die sterretjies deur sien ek hoe sy die beursie optel en oopmaak.

Dis leeg.

(☼Tedesco (Ital.); Duitsland

©2e.Februarie2017………………..ooOoo……………………………(2012).tje

[Hierdie verhaal behoort onder die opskrif „Europa en die Wêreld.”)




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed