Jongste aktiwiteit:

Die soeke (797 woorde)

Ek sluip katvoet van een skaduwee na ‘n ander. Telkens loer ek oor my skouer om seker te maak niemand volg my nie. In die verte kan jy die polsende klank van voertuie wat vlieg en die ritmiese klak-klak van die wat op spore beweeg hoor. Miljoene mense wat iewers moet wees. Reuse hologramme flikker die dag se nuus en eindelose advertensies, maar die lig kan nie tot in die donker van die nou stegie penetreer nie.
Ek gaan staan oorkant ‘n geroeste metaaldeur en maak kyk weer na die nota om seker te maak dit is die regte plek. Ek besef ek sal moet nader gaan, want ek kan nie die simboliese merke sien van waar ek staan nie. Ek stap senuweeagtig tot voor die deur. Daar, net-net sigbaar in die eindelose donker van die nag, is die rooi strepe aan die kosyne van die metaaldeur geverf. Ek aarsel; as dit ‘n lokval is, is dit my laaste oomblikke van vryheid. Dis nie te laat om, om te draai nie… Nee! Ek moet dit doen. Ek moet volstaan by dit wat ek glo. Ongeag wat die gevolge is. Al is die gevolge die dood…

Dit is jare sedert ek laas Die Fees gevier het. Die Fees was verban nog voor ek gebore was. My ma het haar bes gedoen om my gereeld te vat na Die Gemeenskap toe. Totdat hulle haar gearresteer en doodgemaak het. Sy het met heimwee stories vertel hoe dit was vóór geloof totaal verban was. Hoe gelowiges openlik in groot ouditoriums bymekaar gekom, gesing, gebid en feesgevier het.
Maar soos wat sosiale media geblom het, is opinies die wêreld ingestuur. Mense wat met wetenskap probeer bewys het dat daar geen opperwese of almagtige wese was nie. Meer en meer mense het ophou glo en ateïste geword. Die ateïs-beweging het groter en groter geword. Hulle het mense wat steeds geglo het in ‘n almagtig, alwetend en alomteenwoordige entiteit, gespot en verkleineer. Burokrate en politikusse het vergaderings gehou en komitees is opgeroep om godsdienste te ondersoek. Daar is bevind dat geskiedkundig het godsdiens die mensdom net verdeel het. Godsdiens is uiteindelik verban. Ironies genoeg was die manier wat ateïste hul ongeloof verkondig het, nie veel minder as nog ‘n geloof nie.
Saam met godsdiens was die viering van die nagmaal ook verban. Die komitees het besluit dat om brood te eet, ter herinnering van die liggaam van Christus, het kannibalisme bevorder. Die drink van wyn, ter herinnering van Jesus se bloed wat gestort is, het kwansuis vampirisme bevorder. Paasfees, het hulle weer bestempel as die viering van zombies.
Die wat vasgehou het aan hulle geloof het hulle nie gesteur aan aardse wette nie, en voortgegaan om hulle Skepper en Here openlik te aanbid. Die owerhede het hard teruggekap: die doodstraf is ingestel. Enige iemand wat rituele van enige geloof beoefen, was ter dood veroordeel. Aanvanklik het die gelowiges vas bly staan in hulle geloof, en so is duisende gelowiges.
Deesdae is daar net ‘n handvol gelowiges oor, wat in donker vertrekke bymekaar kom. Soos vanaand. Geheime boodskappe is aan die gestuur wat nog Christene was: “Dis Paasfees! Die gemeenskap van Christus moet dit saam vier!”

Ek klop saggies aan die metaaldeur en dit voel asof die klop-klop se hol klank weergalm deur die hele stad.
“Johannes drie vers sestien?” Die stem agter die deur is sag en bewerig.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” antwoord ek en hou my asem op.
Slotte word oopgesluit en die deur maak ‘n skrefie oop. Ek herken die gesig en die gesig verhelder toe hy my erken. Hy maak die deur heeltemal oop en ek stap in. Dan voel ek hoe my bloed stol.
Voor my, tussen die handjievol ander mense, staan vier lede van die geloofspolisie; dienaars van die dood.
Een stap nader en ek retireer, maar die deur agter my is reeds weer gesluit.
Die man glimlag en steek sy hand uit, maar ek koes.
“Moenie bang wees nie.”, sê hy “Ons is hier want ons wil deel wees van julle gemeenskap.”
Ek frons verbaas.
“Ons wil ook beleef wat julle beleef. Die liefde. Die gemeenskap. Die vrede. Die hoop.”, verduidelik hy verder.
Ek glimlag. Meer en meer ateïste soek na geloof. Hulle voel leeg. Hulle wil verstaan hoekom hulle smag na “iets”…iets wat hulle nie in ateïsme kry nie.
Ek neem die man se hand, en lei hom na ‘n stoel. “Kom sit.” sê ek met opgewondenheid. “Kom ek vertel jou van die liefdevolle God en Sy Seun se opoffering vir alle mense.”
Die man lyk skepties.
“Ja, selfs vir jou ook.” Stel ek hom gerus.

2121 is ‘n goeie Paasfees.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed