Jongste aktiwiteit:

  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van JuanriJuanri is nou vriende

  • Charné de Beer het n geregistreerde lid geword

  • Jesica het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Adel het n geregistreerde lid geword

  • Juanri Lid se profiel foto het verander

  • Juanri het n geregistreerde lid geword

Die Ster bokant die Duine

Dit is die aand van 24 Desember 2025 in die Kalahari. Buks Appelblaar, leier van ’n groep Boesmans in die suide van Botswana; en sy mense sit om ’n gemeenskaplike vuurtjie omring deur die nostalgie van die uitgestrekte Kalahariwoestyn.

Desembermaand heers daar altyd ’n onverklaarbare stilte in die Kalahari. Dit is asof die duine asemhaal en die sand die spore onthou wat Naoea getrap het terwyl die wind saggies oor gister en eergister se spore vee wat oor die duine loop. Die naghemel is met ontelbare skitterende sterre besaai. Almal sit roerloos in stilte en staar na die pragtige hemelruim. Dit is asof die oomblik ’n heiligheid inhou – so asof hulle iets of iemand verwag.

Buks Appelblaar sit en staar na die vlamme van die vuurtjie, dan sny sy stem soos ’n pyl uit ’n boog deur die stilte: “Wanneer die Groot Lig in die klein vuurtjie gebore word, deel selfs die woestyn sy brood, en moet ons altyd onthou dat niemand van ons alleen onder die sterre wat julle daarbo sien, loop nie. Hy beduie met sy een hand na die sterbesaaide hemel terwyl hy sy ander hand op sy hart hou.

“Daardie groot helder ster wat julle daarbo sien, het nie gevra waar ons woon nie. Hy het net gekom. Daarom deel ons vanaand die vuur van Sy lig in ons vuurtjie. Die Hemel loop vanaand nader na ons toe,” sê hy met ’n knop in sy keel.

Buks kyk vir Ouma Nani in die groep en knik sy kop vir haar.

Ouma Nani is die oudste vrou in sy groep. Haar vel is verrimpel soos opgedroogde rivierbeddings, maar haar oë blink nog soos water van ’n fontein wat helder en vrolik diep onder die sand vloei. Sy het ’n storie oor bykans elke ster wat aan die hemel flikker.

Ouma Nani staan stadig op. Met haar kierie in die een hand en haar oë opgehef na die hemel, gaan sit sy langs Buks Appelblaar.

Haar stem is so sag soos die roep van ’n naguiltjie, wanneer sy sê: “Vanaand is ’n ander aand …”

Die kinders kom sit blinkoog voor haar, want hulle weet, as Ouma Nani haar storie só begin, is daar ’n diep storie aan die kom. Selfs die wind het gaan lê om na Ouma Nani se storie te luister.

“Hoekom anders, Ouma Nani?” vra een van die kinders.

“Want die sterre flikker helderder vanaand soos lank terug, my kind, soos daardie aand lank gelede toe ’n kind gebore is wat lig in die Kalahari gebring het. Môre vier ons die geboorte van daardie lig,” sê die wyse Ouma Nani.

Die woord lig is nou in almal in almal se gedagtes wat rondom die vuur sit en dit lyk vir hulle kompleet asof die vuurtjie waarom hulle sit ekstra lig uitstraal vanaand.

“Sommige van ons jonger mense,” sê Ouma Nani, “het al by die sendingpos gehoor van ’n man wat van Kersfees praat en ’n baba wat in ’n stal gebore was. Die baba se naam was Jesus, het die man vir hulle gesê; en dat daardie Jesus deur ’n God gestuur was om die wêreld te red …

“Party van die jong mans het dit as ’n vreemde storie van die sendelinge afgelag, maar of jy hom Jesus noem en of jy na hom verwys as Naoea se asem, maak nie saak nie. Lig is lig, en Hy het die lig na ons toe gebring,” sê Ouma Nani met ’n buitengewoon helder blink in haar oë.

Die Kalahari het hierdie jaar gebuk gegaan onder ’n uitmergelende droogte. Die duineveld het verdor onder die skroeiende Kalaharison. Die springbokke het verder noord getrek opsoek na weiding en die Gemsbokke in die woestyngebiede het skaars geraak. Die watergate het ook byna almal al opgedroog.

Ten spyte van al hierdie negatiewe faktore, het Buks Appelblaar en sy mense besluit dat hulle hierdie jaar fees gaan vier. Hulle fees sal anders wees as die met liggies en papier soos die mense wat in die dorpe woon wat rondom hulle geleë is.

“Ons sal môre feesvier op ons manier,” se Buks Appelblaar.

“Ons sal feesvier, op die Boesman manier … op die Kalahari se manier … want Naoea het ons hier in die Kalahari kom bere met die duineveld en die sand van die rooi duine as ons woonplek, met die wilde diere en die wortels en bolle van die plante as ons kos.

“Kinders,” sê Buks Appelblaar ferm, “gaan slaap julle almal nou, môreaand sal Ouma Nani vir julle haar storie verder vertel.”

Vroeg die volgende oggend het ’n groepie van drie jong jagters vertrek om te jag. Net voor die oog van die son agter die hoe duine gaan slaap keer hulle van hul jagtog af met ’n klein Gemsbokkie, net genoeg vleis vir die aand se feesviering.

Die vrouens was weer op hul beurt die hele dag lank in die duineveld naby hulle kamp besig om saad te maal, wortels te rooster en kalbasse met water te vul vir die aand se feesviering. Die kinders het takkies bymekaargemaak vir die vuur. Almal het iets gedoen om by te dra tot die aand se groot fees.

Toe die son sak, het die vuur begin praat met kletterende vlamtonge, terwyl die vrouens sing en dans op maat van Buks Appelblaar se trom. Skaduwees het langsaam soos ou herinneringe weer kom kuier en op die duine gaan lê.

Daardie nag eet, lag, sing en dans hulle. Hulle deel stories van verlore kanse gedurende jagtogte en praat van nuutgevonde watergate. Hulle praat van kinders wat gebore is en ou mense wat oorlede is. Hulle ruil nie geskenke uit nie, maar elkeen gee iets: ’n stuk vleis, ’n lied, ’n hand op ’n skouer …

Ouma Nani sit langs Buks Appelblaar. Sy maak ’n klein sakkie oop en haal ’n stukkie glas van ’n gebreekte bottel daaruit wat sy lank terug by ’n pad opgetel het.

“Vanaand gaan ons ’n ster maak,” sê sy met ’n ingenome glimlag op haar geplooide gesig en ’n geheimsinnige blink in haar bruin oë.

Ouma Nani plaas die glas so dat dit die vuur se lig vang. Dit blink soos wat die vlamme van die vuur daarin dans. Warm … Helder …Lewendig …

Die kinders se monde hang oop van verbasing. Hulle kyk vir mekaar.

“Kyk maats!” sê een opgewonde, “dit lyk soos d-a-a-r-d-i-e ster aan die hemel,” terwyl hy na die helderste ster aan die naghemel wys.

“Ja,” knik Ouma Nani bevestigend, met ’n breë glimlag. “Daardie ster is die ster wat mense laat loop het. Lang pad in die nag, maar hulle het geweet waarheen.”

Toe begin Ouma Nani die storie vertel van ’n jong swanger vrou wat moeg na ’n lang reis op ’n donkie se rug, haar kind in ’n plek sonder mure gebaar het. Toe haar baba begin asemhaal,” sê Ouma Nani, “het die aarde onthou hoe dit is om lig te wees.”

“Daardie jong vrou het vir haar kindjie ʼn bedjie van strooi gemaak en Hom daarin neergelê. Haar baba het nie soos ander babas geskree nie, maar net stil gelê terwyl Hy om Hom rondgekyk het asof hy reeds die wêreld geken het,” vertel Ouma Nani.

“Die diere wat in die nag ook in daardie plek sonder mure gebly het, het nader gekom omdat hulle die rustigheid gevoel het van ’n kind wie se asem lig was.”

Ouma Nani ken nie die storie woord vir woord soos wat dit in boeke opgeteken is nie, maar die hart daarvan het sy verstaan. So het sy dit dan ook aan die kinders van die gemeenskap oorgedra. Die Boesmans het nie geweet van herders of konings nie, maar hulle het wel geweet van sterre wat wys. Hulle het geweet van ’n God, Naoea, wat nie ver bly nie.

“Die wêreld was toe ook droog,” gaan Ouma Nani voort met haar vertelling. “Nie net sonder water nie, maar sonder sagtheid. En toe kom daardie kind wat die Lig vir die wêreld bring.”

Die nag van 25 Desember het die mense in absolute stilte na Ouma Nani gesit en luister. Selfs die nagdiere in die duineveld het vir ’n oomblik lank stilgebly, asof hulle ook wou hoor wat Ouma Nani sê.

Van die groter diere het vanuit die duineveld nader gekom, tot naby die gemeenskap se vuurtjie. Twee gemsbokke het roerloos na Ouma Nani gestaan en staar. Die jakkalse en die hiënas het gaan lê. In die Kameeldoringboom het ’n reuse Ooruil gesit … Die wêreld het asem opgehou.

Goba, een van die jongmanne, begin sing. ’n Stadige, lae melodie, ritmies op maat van Buks Appelblaar se trom en Nita se Boog. Die ander jongmense sluit by hom aan. Hulle ken nie Kersliedere soos die sendelinge van die sendingstasie nie, maar hulle geweet hoe om dankie te sê met hul eie liedere.

Die kinders begin ritmies saam dans. Die vuur sing kletterend saam, terwyl die sterre al skitterend toegekyk.

En toe gebeur iets wat nie in boeke geskryf staan nie.

Die stem van die wind begin soel en koel oor die duineveld met ’n sagte suisgeluid fluister. Die sand begin soos silwer glinster. Reg bokant die westelike duin hang ’n helder skitterende ster, groter as al die ander sterre in die naghemel en lyk soos ’n helder blink oog wat na hulle kyk.

“Hy sien ons,” fluister die kinders opgewonde.

“Ja,” sê Ouma Nani. “Hy sien ons almal.”

Lank nadat die liedere en gedans stil geword het, die kole net as was en die kinders aan die slaap geraak het, bly Ouma Nani alleen sit. Sy kyk na die ster wat steeds skitter hoog bokant die rooibruin duine van die Kalahariwoestyn.

“Lig kom nie met geraas nie,” sê sy saggies vir haarself. “Dit kom stil en vannag, op Kersnag, fluister die sand, want selfs Naoea loop sag in sand van die Kalahari.”

Só vier die Boesmans Kersfees.

Nie as ’n dag nie …
Nie met klokke nie …
Nie met versierings nie …;
Maar met lig …
Met genoeg … en met herinnering … as ’n herinnering dat lig eens gekies het om mens te word, en nooit weer bang was vir donker nie en hoog bokant die duine skitter Sy ster steeds in die donker …

————————————————oooOooo———————————————
©Pieter Mostert

Voetnota: Naoea is volgens die Boesmans in die Kalahari, die Hoogste Wese.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed