DIE LIED VAN DIE REËNBUL (’n Boesmanstorie uit die hart van die Kalahari)
Die nag het soos die vlerk van ’n reuse uil oor die Kalahari gevou en die rooibruin sand van die woestyn het nog die uitmergelende hitte van die dag tussen die kontoere van sy duine vasgehou. Triljoene sterre het soos vuurvliegies aan die naghemel bokant die duine geskitter.
ʼn Klein Boesmangemeenskap van die Kalahari het rondom die vuurtjie van Oupa Kunta, die ou storieverteller vergader. Oupa Kunta het met sy een hand ontfermend stadig oor die sand gevee, so al asof hy vir die aarde ’n strelende groet gee. Toe het hy nouliks hoorbaar gefluister met ’n stem wat die nasate van honderd geslagte dra: “Waar die Reënbul sy asem laat val, word selfs dooie sand weer ’n kind.”
Oupa Kunta het met diep teue aan sy pyp gesuig en spierwit kringetjies rook die lug ingeblaas, terwyl hy in stilte geduldig gewag het om almal om die vuur se onverdeelde aandag te kry. Hy het nie nodig gehad om ’n trom te slaan om almal se aandag te kry nie; sy stem was die trom.
Die kinders het stil geword. Die vrouens het nader geskuif. Almal was nou die ene ore, want elke Boesman het geweet dat wanneer ’n storie met so gewigtige gesegde begin, dit ouer is as hul spore in die sand en ouer as sterre aan die hemel.
Oupa Kunta het met sy hande beduie en sy karos, van bokvel, het soos rook beweeg toe hy sy arms oplig en sy storie begin vertel.
“L-a-n-k … l-a-n-k … gelede, voordat enige mens ’n voetspoor in die sand getrap het, was die Kalahari ’n plek waar lewe en dood soos twee broers saam geloop het, maar daar het ’n tyd gekom toe die balans gebreek is.”
Oupa Kunta het so oomblikkie stilgebly en met ’n meer ernstige noot voortgegaan.
“Die droogte het gekom soos ’n hiëna in die nag. Die son het die rooi sand wit gebrand. Die wind se asem het soos die vlamme van my vuurtjie warm oor die duine geblaas. Op die duineveld het die voëltjies hul neste verlaat en die Kameeldoringbome se takke het soos die arms van siek oumense gehang. Die mense het geluister na die geween en kreun van die sand van die Kalahari, en die watergate het in groot blokkies gekraak toe die laaste druppels water opgedroog het.
“Ons babas het met droë lippe geslaap. Die jagters het telkens van die jagveld af teruggekom sonder dat hulle enige wild gevind het. Die ou vrouens het onder mekaar gesê: Die Reënbul het sy gesig weggedraai, want die Reënbul, die groot gees van weerlig en wolke, het sy reën weggehou omdat die mense die aarde vergeet het.
“Die mense van die Kalahari het te veel gevat en te min vir die aarde gegee. Hulle het gejag sonder dank, gebrand sonder respek en gaan slaap sonder om na die roep van die aarde te luister. So het die aarde van dors begin sterf,” het Oupa Kunta gesê.
“In daardie tyd van swaarkry was daar ’n jong jagter met die naam van Kwe. Hy was nie die sterkste nie, nie die vinnigste nie, maar hy het ’n insig gehad wat min mense nog gehad het omdat hy altyd geluister het.”
Kwe het geluister na die wind se suisgeluid as hy deur die grassade beweeg. Hy het geluister na die voetspore van ’n bok wat te sag trap. Hy het geluister na die sterre se stilte, want stilte is ook ’n stem.”
“Op ’n nag toe die maan laag en geel soos die oog van ’n ou buffel bokant die hoë duine gehang het, het Kwe gedroom dat hy alleen op ’n vlak wit vlakte gestaan het. Die sand onder sy voete was koud soos sout, en die lug was swaar. Die aarde het toe onder sy kaalvoete begin bewe. ’n Massiewe bul het uit die sand te voorskyn gekom. Sy horings was groot en geboë soos twee sekelmane en sy lyf was so donkerblou soos die hart van ’n donderwolk. Sy oë het soos die kole van my vuurtjie gegloei en sy asem het soos weerlig gebrom.” Die kinders kyk Oupa Kunta met groot oë aan.
“Wat het toe gebeur, Oupa Kunta?” het een van hulle benoud durf vra na ’n lang en ongemaklike stilte.
Oupa Kunta het eers weer geteug aan sy pyp, die rook langsaam die lug ingeblaas, en toe geantwoord: “Die bul het vir Kwe gesê: Jong jagter, jou mense het die aarde se hartklop verloor.
“Kwe het diep vooroor gebuig en met sy hand op sy hart in diepe eerbied gevra”:
Reënbul, wat moet ek doen om die balans weer reg te stel?
“Oupa Kunta, wat het die Reënbul toe vir Kwe gesê?” vra een van die ander kinders wat sy nuuskierigheid nie onder bedwang kon hou nie.
“Die groot Reënbul se antwoord op Kwe se vraag was soos donderslae: Bring my die lied van die aarde terug: Die lied van sand, die lied van die diere, en die lied van die sterre. Dan sal die reën kom. Tot dan sal die wind net stof bring, was Oupa Kunta se antwoord.
“In sy woede het die Reënbul ’n reëndruppel uit sy neus laat val. Dit het op Kwe se hand geland. Koel … Lewend … Belowend …
Kwe het daarna papnat gesweet en met ’n hand vol van die rooi Kalaharisand uit sy droom wakker geskrik.” Die kinders het al giggelend vir mekaar gekyk en toe weer met groot oë vir Oupa Kunta gekyk en aandagtig verder geluister na wat hy vertel het.
“Vroeg die volgende oggend,” vertel Oupa Kunta, “het Kwe sy klein boogsakkie en sy kalbas met water gevat. Hy het sy moeder met ’n soen op die wang gegroet en haar ingelig dat hy moet gaan om die Reënbul te gaan soek.”
Kwe se moeder het nie gevra hoekom nie. Sy het net haar hand op sy bors gesit en gesê: My kind, luister na die sand. Dit praat die taal van die ou mense. Sy het ook vir Kwe ’n erfenis-klip gegee wat deur die mans in sy familie van geslag tot geslag oorgedra word, om saam met hom te neem, met die woorde: As jy op jou pad verdwaal, hou net hierdie klip styf vas in jou hand. Die klip ken altyd die pad huistoe.
“Kwe het sy reis begin. Hy het vir baie dae lank deur die Kalahariwoestyn en die duineveld geloop. In die nagte het hy homself stewig in sy karos toegewikkel en onder die maan en sterre geslaap. Bedags het die sand sy voete gebrand, maar hy het voortgegaan met sy soektog na die Reënbul. Hy het elke dag na die wind geluister, op die grond gelê om die aarde se pols te voel.”
“Op die vierde dag het Kwe ’n stadig-groeiende ritmiese klop soos ’n hart gehoor. Hy het besluit om die geklop te gevolg. Dit het hom gelei tot by ’n vallei tussen twee groot, rooi duine waar Naisa, die beroemde geneser-vrou van wie gesê word dat sy die asem van die voorouers in haar hande dra, vingeralleen gewoon het.
“Naisa was so oud soos ’n ou boomwortel, maar lig soos wind. Haar lyf het beweeg met ’n stadige, diep ritme. Dit was die ‘Hartklop Dans’ wat Kwe gehoor het, die oudste dans van ons mense, het Oupa Kunta vertel.
“Kwe het nader gegaan. Grootmoeder, het hy gefluister, ek soek die liedere van die aarde.
“Sy het geskrik by die aanhoor van Kwe se versoek. Droogte bring baie soekers, maar net party het oë wat die geeste sien, het Naisa gedink.”
“Naisa het haar kop geskud. Jong man, die liedere kom nie uit jou mond nie. Hulle kom uit jou voete… jou asem … jou siel …
“Sy het vir Kwe gesê: Staan op jou knieë en sit jou een hand op die sand en die ander hand op jou hart. Luister … die sand het ’n geheue en waar die Reënbul sy asem laat val, word selfs dooie sand weer ’n kind, maar hy laat sy asem net hoor wanneer ons waardig is om hom te hoor, het sy bygevoeg.”
“Vir drie dae lank het Naisa vir Kwe opgelei in die lied van die sand; die lied van die diere en die lied van die sterre.”
“Hy moes sy voete in die sand wikkel en dan met stadige ritmiese stampe al draaiend dans sodat die ritme waarmee hy die dans uitvoer die pols van die aarde wakker maak. Kwe moes ook leer om die klanke van die veld en die van diere terug te roep, want het Naisa gesê: Elke klank is ’n gebed en elke roep is ’n danksegging. Die lied van die sterre bestaan uit geen woorde nie. Dít is net asem en ’n klein ritseltjie tussen twee gedagtes wat net die sterre verstaan.
“Toe Naisa sien dat Kwe gereed was om die Reënbul te ontmoet, het sy vir hom gesê: Gaan na die hoogste rooiduin net voor sononder. Hy wag daar vir jou.
“Die son het begin sak toe Kwe die groot rooiduin bereik. Die lug het begin om te verander van skroeiend warm na bewolk. Die wolke het al donkerder geword. Die wind het begin draai. Die sand het geritsel soos vel van ou koeie.”
“Kwe kon byna nie glo wat sy oë sien nie … toe hoor hy dit … ’n diep brulgeluid wat ver onder uit die maag van die aarde kom, gevolg deur ’n geluid soos ’n bees wat bulk. Uit die donker het die Reënbul opgestaan.”
“In lewende lyf was die Reënbul baie groter as die een wat Kwe in sy droom gesien het. Sy skaduwee alleen kon ’n olifant verswelg. Weerligstrale het verwoed uit sy nek gespring en daar het swaar donderwolke aan sy skouers gehang.
Jong jagter, het die Reënbul nors vir Kwe gebrul, waarom steur jy my?
Die aarde is besig om te sterf! Ons kinders huil!
Ek het die liedere gebring! het Kwe benoud geskree, want hy kon skaars sy eie stem hoor.
Die Reënbul se oë het gegloei soos die warm kole van my vuurtjie.” het Oupa gesê.
Een mens kan nie die skuld van baie dra nie!, het die Reënbul vir Kwe gesê.”
Dit is sekerlik so, maar ek dra wat ek kan! het Kwe uitgeroep.
“Hy het die klip van sy voorvaders teen sy bors gedruk. Die woorde van Naisa: Waar die Reënbul sy asem laat val, word selfs dooie sand weer ’n kind, het aanhoudend in sy kop maal.”
“Kwe het toe begin om die drie liedere wat hy by Naisa geleer het voor die Reënbul uit te voer.
Hy het met sy voete in die sand gewikkel. Met stadige ritmiese stampe al draaiend, het hy gedans sodat die ritme waarmee hy die dans uitgevoer het die pols van die aarde wakker gemaak het.
Die sand het begin ritsel en stadig begin bewe, soos ’n kind wat ontwaak uit ’n diep slaap.
Die Reënbul se ore het effens gedraai. Kwe het toe sy arms effens opgelig.
Met sy mond het hy die veld se musiek teruggebring deur die diere, groot en klein, voëls, reptiele en insekte se geluide na te maak.”
“Uit die donker het al die diere, klein en groot voëls, reptiele en insekte almal gelyktydig verskyn. Hulle het stil in ’n sirkel om Kwe gestaan sonder vrees, want die lied was oud… baie ouer as vrees.”
“Die Reënbul het sy kop effens gebuig.”
“Kwe het toe op sy hurke in die rooi sand van die Kalahari gaan sit en die vars aandlug stadig in en uit geasem, soos iemand wat asemhalingsoefeninge doen. Dít was ’n lied sonder woorde …’n Lied net die sterre kon hoor…”
“Die sterre het begin flikker. Die wind het gaan lê. Die aarde het opgehou bewe en die Reënbul het stil geraak.”
Jy het onthou en jy het geluister, het hy gebrom.
“Die Reënbul het toe sy horings na die hemel opgelig en die hemel daarmee oopgeskeur.
Dit het begin reën. Eers ’n druppel. Toe twee. Toe honderde. Toe duisende.
Reën het uit die hemel gestort soos ’n groot rivier wat in vloed is. Die grond het van vreugde gesing toe die water dit raak. Die sand het weer donker geword. Diere het van blydskap gehuppel en rondgespring.”
“Die uitgestrekte duineveld het oornag weelderig groen geword en die bome het hul arms opgelig soos dansers.”
“Kwe het op sy knieë neergesak, en met sy gesig nat van die reën na die hemel gestaar..
“Die Reënbul het voor Kwe gestaan en gesê: Onthou, Kwe, die aarde antwoord diegene wat luister. Daarna het die reënbul in die stortreën verdwyn soos mis voor die son.”
“Kwe, die jong jagter, het in ’n stortreën na sy mense terugkeer. Hulle het hom ingewag en hom van ver gesien aankom. Die kinders het hom tegemoet gehardloop. Die ou mense het van blydskap gehuil. Die bome rondom die kamp het reeds begin groen word, en al die watergate was vol.”
“Kwe het niks gesê nie. Hy het net die liedere voor sy mense uitgevoer. Die Lied van Sand, stadig. Die Lied van Dier, diep; en Die Lied van Sterre, sonder woorde.”
“Gelydelik het sy mense by hom aangesluit totdat die hele gemeenskap saam met hom gedans het.”
“Vir die eerste keer in baie, baie jare, het die aarde se hartklop teruggekeer.”
Oupa Kunta het meteens stilgebly en met trane in sy oë oor die duineveld getuur. Toe draai hy om na die kinders toe en kyk een vir een in die oë. Hy kyk na die jong mense. Hy kyk na die ou mense. Hy kyk na die sand …
“Onthou,” sê hy sag, “die aarde luister altyd. Die vraag is: luister ons?”
“Waar die Reënbul sy asem laat val, word selfs dooie sand weer ’n kind,” en hy voeg by:
“Maar hy laat sy asem net val wanneer mense dankbaar loop, met voete wat nie vergeet nie.”
Die vuur knetter. Die wind fluister. Die sterre kyk toe, en êrens … êrens … ver in die donker, ritsel iets. Miskien is dit die sand, miskien is dit die wind of miskien die Reënbul self …
—————————————————oooOooo——————————————
©Pieter Mostert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek