Die storm wat woed
oor die vlaktes kruip die nagskaduwees nader
in die verte soen die geelglansson die horison
om oor die Namibiese aarde silhoeëte af te ets
ontplof die goue strale oor die aarde se buik
en terwyl windpompe ritsmies polsslag
galop swart skaduwees golwend oor die duine
tot die storm die aarde genadeloos kasty
net so broei daar ‘n storm in my hart
sodat die kalmte en donderweer met mekaar stoei
hang my siel halfstok aan die sekelmaan
bliksemstrale vinger deur my hartskamers
verniel dit elke aar wat my menswees verwoes
ek smeek dat die stiltes weer oor sal neem
weet ek na my innerlike storm is daar weer hoop
al loop ek nou die pad stoksiel alleen
weet ek met geloof in Hom en my toekoms
agter die storms van my lewe is daar hoop
al wat nou oorbly is my hartseer en pyn
as die storms deur my gemoed brand
ons liefde en saamwees is vir pyn verpand
daarom groet ek jou nou vir oulaas vaarwel
sodat ek weer al die skerwe kan optel
en dat die koue storms nie my hart kan aanraak
die winter vir lente in my lewe moet plek maak
©Kopiereg Linda du Plessis 2024
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.