My woorde in swart ink sal voortleef
My woorde in swart ink sal voortleef
ek bid dat my brein nooit sal faal
sodat my gedagtes altyd in die selgange
van my brein sal ronddwaal
sodat die letters en woorde in swart ink
vir altyd op papier sal voortleef
met die hoop dat my sinne sal voorttrippel
tot reëls wat met heuningsoet bloeisels sal spog
mag elke vers met lettergrepe oorvloei
na genresfonteine waar gedigte met
beeldskone poësie rym en beeldspraak
sal uitborrel met die liefde vir ons taal
mag my ink sonder ophou in Afrikaans vloei
met woorde wat oor die droë woestyn vlaktes
met bolwangwolke woorddruppels sal stort
sodat die geur van ‘n nuwe bundel
die aroma sal versprei om vrugte te dra
wat saadjies sal plant wat in elke lesers
se gedagte en menswees lêplek sal kry
©Kopiereg Linda du Plessis 2024
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.