Jongste aktiwiteit:

Die Tiekiepoeding

“Ouma Rykie! Ouma Rykie, kyk my tand is uit!” het klein Talia vanoggend dadelik aangekondig, terwyl sy by die agterste motordeur uitpeul.

“Wat het jy by die tandmuis gekry?” het Oupa Piet ondeund gevra.

“Honderd rand! Oupa,” het sy trots gesê.

Maryke sit en luister na haar kinders se vrolike gekwetter rondom die reuse- eetkamertafel.  Dit laat haar hart warm klop.  Hierdie Kersfees is dit haar en Piet se beurt en al die kinders en kleinkinders is saam onder een dak.  Hoe gelukkig is ons nie, dink sy.  Maryke het daarop aangedring om al die kos self gaar te maak, net soos wat elke kind daarvan hou.

Op die buffet lê ‘n pakkie, mooi toegedraai in bont papier.  Die kleintjies loer heeltyd daarna, want hulle weet dié een wat die skoongekookte tiensentstuk in Ouma se trifle raakbyt, mag die verrassingspakkie kry.  Haar tiekiepoeding met ‘n twist, soos wat die kinders dit noem.  Die geliefde trifle het al ‘n ritueel geword en die mascarpone kaas is haar eie dekadente geheimpie.

Sy kyk liefderik na Piet.  Haar Piet is agt jaar ouer as sy en word volgende jaar 83.   Die laaste tyd raak hy bietjie deurmekaar en vergeet maklik.  Sy probeer hom beskerm, maar sy het gesien hoe die kinders so onderlings na mekaar kyk.  Sy het nie hierdie jaar geraas omdat hy laasnag, soos gewoonlik, al die geregte voor die tyd uitprobeer het nie.  Sy kon vanoggend sien dat hy met haar kleefplastiek gekarring het.  Gelukkig het hy darem alles in die bakke weer probeer skuif soos wat dit was.  Aan haar  trifle het hy diep gehap, maar sy het dit gered met die grofgebreekte stukkies meringues en geklopte room.

“Hoeveel het die tandmuis vir Oupa gebring?” vra klein Talia onverwags.

Oupa Piet hou dadelik sy hand voor sy mond en sê ernstige “nee, ons muis is maar arm.  Net tiensent!”

“Ag gross!” skree klein Alaria.  “Hier is ’n tand in my trifle!”

Haar ma troos dadelik.  “Die tandmuis hier is al oud en bietjie deurmekaar.  Hy het seker maar die tand hier vergeet en die tiensent weer saamgeneem.”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed