Jongste aktiwiteit:

Die twee Susters

Lank gelede is dit al – daar het ‘n gesinnetjie geleef: Pa, Ma en twee liewe klein dogtertjies. Hulle was welgesteld en het aan niks geskort nie. Altwee, die Ma en die Pa was besorg dat hulle kindertjies net die beste sou kry, net die gesondste kos en fynste kleding, die beste, nuutste opvoedkundige speelgoed, die veiligste woonomgewing.

Reeds van kindertuin aan het die ouers elke ouer-onderwyser-aand bygewoon en het baie slim voorstelle gehad hoe om die wêreld meer kindergereg te maak, byvoorbeeld deur beter kanse vir die minderbevoorregtes, minder huiswerk en stres en meer vrye tyd vir die arme bloeitjies. Om hulle het ‘n skaar volgelinge ontstaan, en hulle is toe in verskeie groepe en instansies gekies. In die dorpsraad het hulle om kindergeregte speelplekke en veilige fietsweë pledeer, met helm-, knie- en ellenboogskutplig, in die provinsiale raad om al hoe veiliger, geweldvrye omgang tussen die onderwysers en kinders in die skole, in die nasionale parlement om die opstel van ‘n katalogus met maatreëls wat die graad van kinder­toe­ge­neënt­heid bepaal, met sanksies vir diegene wat hulle nie aan die reëls hou nie.
Dit was ‘n gelukkige familie met min wrywingspunte. As daar sulke wrywingspunte sou ontstaan, is dit vriendelik in ‘n objektiewe, verligte gesprek ondermekaar opgelos, soos dit beskaafde mense mos betaam.

Op ‘n tyd was daar twee kinders wie se ouers hul wense van hul oë afgelees het, soos ons sê. Daar was waarlik niks wat Ma en Pa nie vir hul dogtertjies sou doen nie. Elkeen het ‘n eie bed in ‘n eie kamer gehad, die beddens is opgemaak, die kamers opgeruim, die tafel gedek. Hulle moes nie growwe tuin- of huiswerk doen nie, nie fietse pomp, nie kouse stop of suur rabarberpoeding eet nie.
Hulle het die mooiste, lekkerste kindheid beleef wat mens jou kan voorstel. Buiten dat hulle nie vir matriek toegelaat is nie. „Maar hulle het die hele skooltyd deur niks gedoen, niks gewerk, niks geleer nie,” het die skoolhoof die ouers op navraag gesê.
„Maak nie saak nie,” het die ouers gemeen. „Solank as hulle by ons bly, het hulle niks nodig nie. En as ons weg is, gaan hulle goed versorg wees.”

Daar’s ‘n spreekwoord wat sê, „Eerstens kom dit anders en tweedens as mens dink.” En toe kom dit soos dit moes: Op pad lughawe toe  die ouers is uitgenooi om by ‘n groot internasionale kongres in Montreál hul vooruitstrewende gedagtes voor te dra  op pad na die lughawe nog was hulle op die motorweg in ‘n swaar verkeersongeluk betrokke. Albei ouers kom daarby om.
Maar, soos hulle altyd beweer het, had hulle daadsaaklik voorbereidings getref. Die huis was al lankal afbetaal, by die bank het hulle sonderrekeninge ingerig waarvan die rente verskeie lopende onkostes soos elektrisiteit, water, telefoon en munisipale belasting sou dek, daartoe ‘n maandelikse bedrag vir huishoudelike uitgawes, melk, brood, vleis, tandepasta en alles andere wat so aanstaan; die lone van die huisbediendes was tot hul pensioenering uitgereken en is maandeliks aan hul eie rekening oordra  met ‘n ordentlike privaatpensioen vir die jare daarna. Ja, die ouers het goed voorgesorg.

Na die openbaring van die testament, en nadat alle ander betroffenes weg was, sit hulle nog ‘n paar minute in die kantoor van die prokureur want hy het nog iets om te sê: „Die lewensversekerings en die versekeringsgeld van die padongeluk is nie aangespreek nie. Dit is gesamentlik ‘n reuse som geld, etlike tienduisend. Julle is nou met alles materiële tot en met jul dood gedek. Wat gaan julle met hierdie bedrag doen? Julle is nog jonk, en jul lewe lê nog voor. Dit kan vir julle werk. Wil julle dit êrens aanlê? Wat sou julle vreugde bring? Wil julle op reis gaan? Of miskien ‘n eie bedryf begin? Die huis en perseel is groot genoeg om ‘n klein werkwinkeltjie onder te bring. Julle wil mos nie in alle ewigheid met die hande in die skoot sit en tyd ombring nie. Gaan maar huistoe en dink na hoe om jul lewe sin en betekenis te gee…”
Toe kom die antwoord soos uit ‘n pistool geskiet, deurmekaar en oormekaar. „Ja, maar ons weet alreeds, Oom… Ons wil ‘n klein tuisbedryf met stik en brei en hekel en al sulke dinge wat hulle in die outydse films gedoen het… Ja, sulke doilies en stikkerye en tafeldoeke en servette en beddekens… Maar modern, met masjiene… Ja, en ek is besonders lief vir kussings… Daar kan ons mos langs die sitkamer nog ‘n kamer aanbou… As ‘n werkswinkel… Of fabriek!… En daar kan ons snymasjiene en naaimasjiene en stopmasjiene en stikmasjiene en etiketmasjiene en sulke dinge opstel… En meisies aanstel om te werk…”
Die prokureur was verbluf oor hul driftige manier om langgehegte wense uit te spreek en het verspreek om by die verskillende kontrakte en aankope behulpsaam te wees. Binne ‘n jaar was die aanbou klaar, ‘n lugtige ruim, ‘n helder werkwinkel met al die masjiene wat in so ‘n bedryf nodig mag wees. Die rakke was vol met die uitgesoekteste stowwe en garings, knoppe, gespes en pêrels, en die komputer handboeke van elke masjien het op die toetsborde gelê en wag sodat die masjien in diens geneem kon word.

Sien jy daar oorkant die straat… daardie huis met die ongepleegte tuin en die blinde vensters? Daar woon twee oeroue tannies wat dag vir dag opstaan en wag dat hulle bedien word. Maar die bediendes is al dood; niemand werk meer in huis of tuin nie. Ofskoon die prokureur ook al dood is, word die rekeninge reëlmatig betaal, kruideniers­ware word reëlmatig gelewer. Dit loop so outomaties af; sy navolger proef elke paar maande of dit regtens toegaan. ‘n Leweransier wat in die kombuis kom aflaai het, het ontdek dat die TV nie loop nie, dat heelwat gloeilampe nie meer lig gee nie… Toe hy aanbied, het hulle toegestem dat hy die nodige dinge by vakfirmas koop en laat aanbring, krane in die kombuis, lek toilet in die badkamer. Sulke duinge. So het hy ‘n soort toebrood as huis- en perseeloppasser verdien: „Hulle is nie instand om ‘n gloeilamp uit te ruil nie. Hulle kan eenvoudig niks nie. En hulle is te trots om om hulp te vra.” Wat die werkswinkel aangaan, het hy berig dat nog niemand dit, van die dag van die voltooiing, betreë het nie. Hulle het nie geweet hoe om ‘n kleinadvertensie vir masjienbedieners te plaas nie. Hulle het nie geweet hoe om die deur oop te sluit nie. Sedert hy nie meer hier woon nie, het niemand nader aan die huis gekom as die agterstoep nie. Op die manier het hulle hul oudag as opgeskote niks-wetende kinders verbring.
Verskoon my, asseblief, nou moet ek, namens die gesondheidsdepartement, soontoe oorgaan en kyk; die bure berig dat sedert oor ‘n week geen lig gebrand, geen deur geklap het, geen stem te hoor was nie. Niemand weet of hulle nog lewe of nie.
Niemand kan weet nie. Sover ék weet, het hulle geen erfgename nie. Die hele boedel gaan aan die staat. Aan die staat wat suike toestande veroorsaak het.
Slim, nè?

©.2016…………………………………………….ooOoo……………………………………………………tje




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed