Jan Blom en die kragte van die heelal.
Jan Blom en die kragte van die Heelal
Jan Blom is ‘n waterleier. Hy werk nie in die span nie. My pa sê Jan Blom is so gemaak en laat staan. Hy bly in die eiland op sy eie in sy eie huis. Net langs die pomphuis.
Die pomphuis is nie meer dieselle nie. Vandat Evkom krag ingesit het, is alles anders. Vandat my pa die elektriese motor ingesit het, is dit nie meer lekker nie.
Die Caterpillar was baie lekkerder. Die enjin was groot en het mooi gedreun. Mens kon hom by die huis hoor start. Veral vroeg in die oggend, as alles stil was. Oupa Engelbrecht sê die krag sal nie hou nie. Mense het nog steeds donkies nodig. Ek weet Oupa hou nie van krag nie, hy hou van kerse. Pa sê Oupa is outyds.
Jan Blom sê die krag het die babers weggejaag. Toe die Caterpillar nog daar was, het die vis goed gebyt. Jan Blom het nog altyd vis gevang. Partykeer visse groter as ek. Daai babers was gróót. Jan Blom het die vis opgehang om te droog. In die rosyntjieboom langs sy huis het daar altyd stukke vis gehang. Dit het ‘n bietjie soos biltong gelyk, maar dit het gestink.
Dit was altyd lekker om by Jan Blom te speel. Hy het slagysters gestel vir die ongediertes. Agter sy deur het altyd velle gehang. Die mooiste was die muskeljaatkat velle. Daar was groukat velle, aap velle, otter velle en partykeer ‘n likkewaan vel.
Nou en dan het hy ’n ystervark in die yster gekry. Dis ’n gedoente om die ding vrek te kry en die penne uit te trek. Maar as jy eers die rugvel geproe het, sal jy altyd lus kry vir nog. So sê Jan Blom.
“Hoekom vang jy die ongediertes?” Ek weet Annerie hou nie daarvan as jy goed doodmaak nie.
“Hulle vang my hoeners.” Jan Blom het altyd ’n antwoord.
Dis waar. Die muskeljaatkat het sy swart hen vrek gebyt. Die hen het op veertien eiers gesit. Jan het reeds die yster gestel. Eenkant is ‘n pot aan’t kook. ‘n Aap se poot het by die deksel uitgesteek. Jan brom en was nie lus vir praat nie.
“Vannag vang ek die bliksem.” knor hy.
“Jy moenie so praat nie.” probeer ek.
“Wat weet jy?” Jan Blom is regtig in ’n slegte bui.
Oupa sê bliksem is ‘n vloekwoord. Miskien nie as die muskeljaatkat jou hen opgevreet het nie.
“Hoe smaak aapvleis?” Ek vermy die argument oor vloek.
“Loop speel.” Jan Blom is nie lus vir praat nie.
Ek klouter teen die rivierwal af na waar Jan Blom se lyne gestel is.
“Bly weg van my lyne af!” skreeu hy agterna.
“Ek kyk net.” Ek gly die laaste ent op my kakiebroek die wal af.
“Jy het niks daar verloor nie.” Jan Blom weet goed my ma hou nie daarvan as ek by die rivier speel nie.
“Ek kyk net of daar nog aas aan is.” gooi ek wal.
“Jy val nou in die rivier” waarsku hy. “en dan vang die waterslang jou.”
Ek kan die spot in sy stem hoor. Jan Blom glo nie aan die waterslang nie. ’n Man wat visvang kan nie aan die waterslang glo nie. Willem Farmer glo vas aan die waterslang.
“Roer jou, jou pa kom nou en dan waai jou gatvelle.” Jan is maar versigtig.
Ek kan swem, wat gaan tog met ou Jan aan? Ek trek versigtig die eerste lyn uit. Die aas is af. Gooi suutjies terug nadat ek ’n geelvis kop aangehaak het. Tweede lyn het ‘n erdwurm aan. Geelvis kos.
“Kom weg van die rivier af, dis nie jou speelplek nie.” Jan waarsku net omdat hy moet. As Pa naby was, sou hy geskreeu het.
“Ek kom nou.” antwoord ek.
“Jou pa trek jou gatvelle af.” Jan weet hoe om kwaai te klink.
Ek klouter teen die wal op en stap na waar Jan die akker toemaak. Die akker is vol.
“Jou een lyn se aas is af.” sê ek.
“Het jy aas aangesit?” Jan kyk vraend na my.
“Ek mag mos nie by die rivier kom nie.” troef ek.
“Jy hou vir jou slim, die erdwurms is in die blik langs die boomstomp.” Jan knor al weer.
“Ek het ‘n viskop gehaak.” troos ek. Ek kan Jan sien glimlag. Fyntjies, net effentjies.
“Jou pa trek jou gatvelle af.” Hy hou sy gesig streng.
“Wat is die grootste baber wat jy nog gevang het?” Ons stap af in die akker en kyk dat die water reg loop. Die ertjies het mooi opgekom.
“Jou pa moet die seloen bring, die willeganse vreet die ertjies op.” is al wat ek uit hom kry.
“Oupa gaan sy haelgeweer bring. Wat is die grootste baber wat jy nog gevang het?” Miskien het hy nie mooi gehoor nie.
“Die haelgeweer is reg. Onthou ek wil een gans hê.” Jan kook altyd die gans met vaalbos blare as groente.
“Oupa het by Skroef se Bad ‘n baber gevang wat oor die 50 pond geweeg het.” probeer ek weer.
“Ek het al een gevang wat langer as jy is. Amper 70 pond.” troef Jan Blom.
“Hoe het jy hom geweeg?” Hy het nie ’n skaal nie.
“Met die katoen skaal.” antwoord hy.
Moet waar wees. Oupa sê die katoen skaal lieg nie. Hy weeg nog in pond. Die water loop mooi. Jan Blom kán water lei, Pa sê altyd Jan Blom is die beste waterleier in die wêreld. Ek stap op een wal en Jan langs die ander.
“Kom van die wal af, jy trap die wal plat.” Jan Blom gee nie om vir die duwweltjies nie.
“Hoe sien jy in die nag om water te lei?” wil ek weet.
“Met my oë.” Jan Blom is partykeer moeilik. Hy hou nie daarvan dat ‘n mens te veel praat nie.
“Hoekom het jy nie ‘n vrou nie?” Net om iets anders te vra.
Jan Blom snork net.
Oupa lees die Engelse koerant. “Oupa sê die maan en sterre gee ons lig in die nag en die son deur die dag.”
“En as dit donkermaan is? Loop haal my twak daar onder die rosyntjieboom.” Jan is nie lus om lesse te kry oor die sterre en goeters nie.
“Die duwweltjies steek my.” kap ek teë.
“Waar is jou skoene? Weer by die rivier gelos!” Jan is nog steeds knorrig vir die muskeljaatkat.
Oupa sê ‘n mens moet net vinnig hol dan steek die duwweltjies nie. Ek hol so vinnig as wat ek kan, maar die duwweltjies steek. Miskien hardloop ek te stadig. Ek trek my velskoene aan en kry die twak.
Jan Blom rook Springbok, nes Oupa.
“Kan ek ook proe,?” probeer ek.
“Jy is mos lekker mal, wil jy hê die grootbaas moet my moer?” Jan gaan my nie ’n skyf gee nie.
Tydsaam draai Jan Blom die zol met bruinpapier wat hy uit sy gatsak uithaal. Die water loop mooi. Pa het die dumpielevel op die land gehad. Jan Blom steek die zol aan. Blaas die rook stadig uit. Oupa maak kringetjies as hy rook.
“Hoekom sê jy baas?” wil ek weet.
“Dis hoe dit is!” Nog steeds kwaad vir die muskeljaatkat.
“Pa sê ook so, maar hoekom?” Ek probeer weer.
“Jy vra te veel vrae, jy gaan nog tronk toe. Hierie is die goewerment se goed!” Jan is nou regtig kwaad. Die hennetjie was seker sy gunsteling.
“Oupa sê die goewerment gaan verander, dit kan nie so werk nie.” gooi ek ’n klip in die bos.
“Ouwaas is ‘n Sap, hulle is anders. Dit sal nie verander nie. Hoe dink jy gaan dit verander?” Ek kyk verbaas na Jan. Ek het hom lanklaas so grimmig gesien. Seker laas toe die groukat sy haan gevang het.
“Oupa was ‘n Poliesman. Hy het kameel gery. Hy sê die son kom nie op nie, die aarde draai om die son. Dis hoe dit dag en nag word. Hy sê dit kan nie so aangaan nie, so waar as die son daar skyn. Pa sê jy gebruik ‘n lantern in die nag om water te lei.” Ek probeer om Jan se gedagtes weg te lei van die hennetjie.
“Jy praat te veel, jy gaan tronk toe. Ek kan in die nag sien, ek gebruik die sterre. Dit sal nie verander nie, dis te lank al so. Dit was nog altyd so. Bokke en skape loop nie saam nie.” Jan druk die zol tussen sy vingers dood en sit dit in sy vuurhoutjieboksie.
“Daar breek die akkerwal. Dit is van hierdie baie pratery. Kom ons loop maak reg.” Jan Blom gee lang treë in die rigting van die breekplek.
“Hoekom sê jy baas?” Ek wil nog steeds weet. Niemand verduidelik ooit vir my nie. Ek moet spring om by te bly.
Jan snork net. Iets het hom kwaad gemaak.
Ek het nie ‘n graaf nie, so ek gooi kluite met die hand. Oupa sê altyd jou hande moet vir niks verkeerd staan nie. Nadat ons die wal reg gemaak het loop ons ‘n draai en maak op ‘n paar plekke die wal sterker. Ons gaan die lyne kyk. As Jan Blom die akkerwalle sterker maak gaan hy lyne kyk.
“Die aarde draai in die rondte. Dis hoe dit dag en nag word.” Ek onthou nou wat Oupa gesê het.
“Ek dog die aarde draai om die son?” Jan het weer die fyn glimlaggie om sy mond.
“Nee, dis verkeerd. Die aarde draai in die rondte.” gooi ek wal.
”So die aarde draai nie om die son nie?” Jan gaan my nie laat loskom nie.
“Nee, die aarde draai om die son, maar dis nie hoekom dit dag en nag word nie. Ek sal weer vir Oupa vra. Ek is nou deurmekaar. Dis die kragte van die heelal.” Ek het nou die storie se draad verloor.
“Die wááát?” Jan steek die graaf in en skuif sy hoed reg.
“Die kragte van die heelal. Swaartekrag of iets.” Ek kan om der dood nie die storie reg onthou nie.
Daar is ‘n baber aan die een lyn. Jan Blom haal hom af en sny die kop af. Hy sny die pens oop en haal die derms uit. Ek sit erdwurms aan die hoek.
“Klot Brown bly in ‘n riet huis en hy sê nie baas nie. Die kinders in die skool sê hy kan toor.” Ek vat die storie van ’n ander kant af.
“Jy bly weg van Klot Brown af, hy is ‘n wit man, dis hoekom hy nie baas sê nie. Hy gaan julle koppe toor, bly weg van hom af.” Jan is weer knorrig.
“Hy lyk nie vir my wit nie. Hy bly in ‘n riet huis en drink vaalwyn.” Ek het so gehoor by Kolie Dippenaar.
“Ek drink nie vaalwyn nie en bly ook nie in ‘n riethuis nie en ek sê baas, dis soos dit is, los dit nou, jy is te slim, jy gaan tronk toe.” Klink vir my die storie is nou afgehandel.
“Oupa sê as dit nie verander nie, gaan die Kommuniste kom.” probeer ek ’n laaste keer.
“Die wááát?” Jan Blom kyk my vraend aan.
“Dis wat die Engelse koerant sê.” Ek is nou nie meer so seker nie.
Jan Blom gaan sit weer onder die olieboom en steek sy zol aan. Hy draai die bottel se prop af en gooi koffie.
“Kan ek ook kry?” Sy koffie ruik lekker.
“Nee.” knor hy.
“Hoekom nie?” Ek ken die antwoord maar ek wil dit uit sy mond hoor.
“Jy kan nie uit my beker drink nie.” Net soos ek gedink het.
“Hoekom nie?” vra ek.
“Bly stil!” Jan is regtig knorrig.
“Hoekom het jy nie ‘n vrou nie?” Ek probeer iets anders.
“Jirre, gaan jy nooit stilbly nie?” Ek kyk verwonderd op toe Jan Blom my aangluur.
“’n Mens mag nie Jirre sê nie. Kapenda sê die Jirre gaan jou vrek slaan met ‘n bliksemstraal. Kapenda sê jou vrou het weggeloop?” Kapenda werk in die groetetuin en weet amper alles van almal af.
“Ek sal vir Kapenda op sy moer gee. Hy is ‘n kind. Hy weet fokôl.” Jan Blom is kwaad, ek moet nou liewer die lyne loop kyk.
Daar is wragtag weer ‘n baber aan die een lyn. Ek haal hom af en gooi hom in die streepsak. Ek gaan wragtag nie die derms uithaal nie.
Dit raak laat, Oupa sal seker nou met die haelgeweer kom om ganse te skiet. Die ganse kom net voor sononder land toe. Ek hol terug om vir Jan Blom te vertel van die baber.
“Hy weeg seker 20 pond.” Ek voel trots.
“Lek af jou lippe.” kap hy terug.
“Hoekom?” Vraend loer ek na hom.
“Proe die stront wat jy praat.” Die glimlag is terug om sy mondhoeke.
Voor ek aan die slaap raak dink ek weer aan Jan Blom. Ek wonder hoe die water loop. Hy het die lantern vol lampolie gemaak en die lyne gaan stel vir die nag voor ek saam met Oupa huistoe gekom het.
Ek wéét dinge gaan verander. Dis die kragte van die Heelal.
3 Kommentare
-
Koekekranka
Baie goed gedoen. En die ondertone het jy sensitief maar tog duidelik in die psige kom neerlê om mens aan die dink te sit oor onderwerpe wat ons deur jare mistas het...
-
Toom
Wonderbaar! Poëties. Dis nou waarlik fyn geteken, 'n koletekening met klein tikseltjies kleur hier en daar. Dit wil gedoen word. En die ding van die psige: Dit klink outobiografies (alles wat ons vertel, is tog outobigrafies) en dit klink asof jy Jan Blom baie goed geken het. En liefgehad het. Dit moet jy sonder twafel aan 'n tydskrif gaan verkoop. Na my mening. Het jy meer van? Moet ek dan maar gaan kyk. Groetnis fanToom
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Lekker gelees, dankie vir die deel.