DIE WIEL DRAAI HFSTK 10
HOOFSTUK 10
In Bethlehem is die ware toets vir n stoker trein 72, die Durban Bloemfontein passasierstrein wat half tien in die oggend vanaf Bethlehem vertrek. Dit is n tien ure rit met n afboek in Bloemfontein om die volgende dag met 71, die Bloemfontein Durban passasierstrein terug te keer. Dit is
bergagtige wêreld deur die Oos-Vrystaat en word vyftien ton kole op so n rit maklik weggestook.
Hans is die oggend agt uur aan diens en toe Dick se blik op die voetplaat neerplof is alles gereed vir Dick se inspeksie. Hans val amper om van verbasing toe Dick hom groet: “Morning sonny boy. Hope you had n good nights rest because today is going to be a hard day”.
Hans groet terug: “Morning sir, I am ready for the day, loco is ready for your inspection”.
Kan jy dit glo, Dick haal nie sy sakdoek uit om oor die meters te vee nie, vat net die oliekan en ghriespomp, wat soos gewoonlik netjies op die vlamplaat vir hom wag, om te gaan ghries en olie terwyl Hans die vuur begin stook.
Toe Dick terugklim op die voetplaat brand die vuur lustig, en n rooksuil trek die lug in. Die witveer blaas en is Hans net besig om die kole agter op die kolewa met die “spraypipe” nat te spuit om die stof te laat lê.
Dick gaan sit op sy plek, laat sy oë oor die peilglase en die meters gly en kan jy glo, hy praat weer met Hans: “Well sonnyboy, lets go”
Hulle is gereed om stasie toe te gaan om te gaan koppel en gee Dick die omstellerwiel sy drie draaie, maak die remme los en trek die regulateur effens oop. Sissend beweeg 2900 vorentoe om by die dwergsinjaal tot stilstand te kom. Dick gaan bel uit en kry hulle sinjale stasie toe, Hans laat hom nie deur hierdie skielike vriendelikheid bluf nie en kontroleer sinjale met Dick soos gewoonlik. Hulle beweeg stasie toe waar 72 reeds staan en wag en die rangeerder hulle dadelik op die trein vasmaak.
Hans gooi n groot vuur aan en die injekteur hardloop om aan te sluit by die klank van sy graaf se geskraap in die kolewa soos hy die kole skep om in die vuurkis te voer. Die witveer staan regop en die rook borrel by die skoorsteen uit toe die kondukteur die vrag kom aangee en sommer die A-order Slabberts toe saambring.
Half tien gaan die dwergsinjaal op en Hans kyk terug. Die stasievoorman se groen vlag waai in die windjie: “Right away sir’, sê hy vir Dick en Dick fluit weg. Die omstellerwiel kry drie draaie na regs, die remme word losgemaak en die regulateur word so kwart oopgetrek om net eers die koppelings tussen die rytuie styf te trek en dan trek Dick oop. 2900 reageer gewillig en blasend in sissend kom sy in beweging. Die silinderkrane word toegestoot met die eerste blaf waarvan die reëlmaat versnel tot Dick toestoot om af te kruis op die Bloemfontein lyn.
Oor die wissels trek Dick weer oop en draai die omsteller wiel in 45 in. Die klim teen die Retiefsnek Barnea bank begin dadelik, n lang en uitmergelende klim en Hans bly agter die graaf om die vuur te stook. By die steenoonde verby klim hulle en vir die passasier wat uitleun is daar die prentjie van n rooksuil hoog die lug in met flitsende koppelstange voor die trekwiele verby.
Die kaartjiesondersoeker begin deur die trein beweeg met sy klikiklik in elke kompartementdeur om kaartjies te knip. Die hoofkelner is op sy hakke om kaartjies vir middagete te verkoop. Hy word gevolg deur die beddegoed bediende met sy skoonmaakgoed wat die gange en die kompartemente skoon maak. Die wiele suis oor die spore en klap oor die laste om met 2900 se geblaf aan te sluit. Die klank daarvan verander soms die trein in n uitgrawing verdwyn en weer met n rooksuil by die uitgrawing uit wat die geblaf weer laat verander.
Van Barnea af is dit afdraande Slabberts toe wat n welkome verposing bied tot hulle in Slabberts stop om loko te vat. In die uitwykspoor staan n trein van voor af vir hulle en wag. Hulle kry weer n A order Fouriesburg toe maar moet op elke sylyn gestop word vir passasiers, roomkanne en pakkies. Elke slag is dit n dodelike wegtrek en 72 is n swaar trein, 16 skamels of dan sestien rytuie. Die passasiers word vergas deur die skilderagtige natuur skoon van die Oos-Vrystaat met die Maluti berge wat op die Oostelike horison troon.
Op Fouriesburg kruis hulle weer n trein en is dit weer loko vat vir die trek Generaalsnek toe , n stasie wat net bedags oop is. Dan is dit Kommandonek toe wat hierdie tyd van die jaar oop is vir die Kersieseisoen. Op elke sylyn staan trokke waar die boere besig is om kersies te laai in koorsagtige haas vir trein 1313 wat teen die middag die trokke optel om deur die nag Durban hawe toe te vervoer vir uitvoer. Langs die trein gly die kersieboorde tussen Ficksburg en Fouriesburg verby.
Een van die kelners beweeg deur die trein met sy deuntjie om middagete in die eetsalon aan te kondig.
Eetsalonne het die mooiste name en is die Caledon, vernoem na die Caledon rivier wat die grens tussen die Vrystaat en Basoetoeland is, die eetsalon op 72. In die kombuis van die Caledon berei die kok die keurigste geregte op sy koolstoof voor. Die spoorweë is baie gesteld op die gehalte van die etes wat op die treine bedien word en is hulle etes beroemd vir hulle smaaklikheid en die sorg waarmee dit deur opgeleide kelners bedien word.
In die eetsalon word passasiers hulle sitplekke aangewys en is die kelners by om die sop voorgereg te bedien uit silwerskottels in die duursame porseleinborde met die S.A.S&H embleem daarop. Daarna word die hoofgereg, bestaande uit groente en vleis, bedien met nagereg en koffie om die heerlike ete mee af te sluit.
Op Ficksurg kom hulle met Hans se “Hokaai” onder die waterkolom tot stilstand en word die kolewa deksel dadelik oopgegooi en die kraan oopgedraai om n stroom water in die kolewa te laat inloop. Die vuurysters werk oortyd om die klinkers in die vuurkis stukkend te kry en deur te werk aspan toe waar dit met die “spraypipe” doodgespuit word voordat dit in die asput laat val word.
Intussen moet die stoomdruk nie baie val nie en moet die vuur dadelik weer gevoer word om stoomdruk op te bou. Dick doen die nodige ghries en oliewerk. Hulle kry op Ficksburg n werkende passasier, die kooltremmer wat tot op Gumtree saam gaan om die agterste kole in die kolewa vorentoe toe te werk. Die kooltremmer kom weer met 71 terug om hulle kole ook vorentoe te werk.
Die rit verloop sonder enige probleme en na Clocolan en Modderpoort is die laaste lokostop en stop Sannaspos. Dit is ook die einde van telegraaforders en is dit nou van Schoor tablette tot op De Bloem en dan is dit kleurligte.
Met die wegtrek verander alles. Dit is nou plat wêreld en Dick trek haar dadelik in die mik in. Die spoemeter naald kuier spoedig op 100 kmpu en stoot Dick haar terug om net momentum te hou. Die stadige geklap en gesuis van die wiele het nou in n haastige cresendo verander. Dit begin ook nou donker word en skyn Bloemfontein se ligte teen die suidelike horison. Die voorstedelike stasies soos Lynchfield, Meloranie en Shannon blits verby, die tablet houers word skuiwend oor die platforms afgegooi en die nuwes gevang. Op elke stasie staan n voorstedelike trein vir hulle en wag en spoedig word die laaste tablet afgegooi en is dit kleurligsinjale tot op platform vier waar Dick stadig intrek om die ondersoekers met hulle langsteel hamers kans te gee om die wiele te kap.
Die platform is n miernes van bedrywigheid, mense op die plaform en n trekkertjie met n string raserige, hop pende waentjies jaag verby kondukteurswa toe. Opdie ander platforms staan treine wat in gereedheid gemaak word om na hulle bestemmings te vertrek.
Die rangeerder is dadelik by om hulle los te maak en kruis hulle dadelik uit toe die rangeersinjaal se wit liggies op 45 gaan. Oor die wissels kry hulle sinjale loko toe om te gaan afboek. In die loko is die loodsman reg om die lokomotief in ontvangs te neem en is dit n moeë Hans wat saam met sy drywer afklim om te gaan afteken. Die gereedskap is toegesluit in die sluitkas in die kolewa en bly dit sommer op die lokomotief.
Nadat hulle gestort en kos gemaak het geniet hulle hulle ete en gaan Hans dadelik kamer toe om te gaan slaap, om vyftien ton kole weg te stook is nie n grap nie.
Hans slaap soos n klip en toe die roepman hom half agt kom roep kan hy die stremming van die vorige dag in sy spiere voel. Hy laat hom nie onderkry nie en is hy reg toe hulle die loko verlaat om op 71 te gaan koppel.
Die rit is n herhaling van die vorige dag, net in die teenoorgestelde rigting maar is dit die dag van die werklike toets aan die einde van die rit, dit is die klim van Slabberts af teen die Retiefsnek Barnea bank.
Hans weet dat dit n rowwe bank is en maak hy seker dat hy n groot vuur aangelê het en dat hulle onder vol stoom staan. Hy het ook inderhaas n klompie kole vorentoe gewerk in die kolewa want daar is nie meer veel nie en lê dit aan die agterkant van die kolewa.
Dit is n kwaai klim en halfpad teen die bank staan Dick op en jaag Hans in die kolewa in om die laaste bietjie steenkool agter in die kolewa vorentoe te werk. Hy vat self die graaf om die vraatsige vuur te voer terwyl 2900 die bank uitklim. Daar is geen gevaar dat sy sal weghardloop nie, die bank is te steil.
Dan is hulle oor die bank en is dit afdraende Bethlehem toe. Hans slaan op sy sitplek neer en kort kort val die vakuumnaalde soos Dick moet rem. Die wielflense skree om die draaie en die koppelstange flits haastig voor die groot trekwiele verby.
Nie lank nie of hulle trek Bethlehem stasie in om losgemaak te word en loko toe te gaan. Dit is n moeë Hans wat afteken om huis toe te gaan om te gaan rus en is sy beloning Dick se woorde: “Well done sonny boy. One day you will be a top driver. You are the best fireman I ever had in my whole career”.
Hans bly by Dick en is hierdie rukkie op die passasiers skakel saam met hom n welkome verposing. Omdat hulle langer aflê gee dit hom kans om bietjie tuin te maak en gereed te maak vir die meisies se koms wanneer hulle permanent Bethlehem toe kom.
Hans sal dit nooit erken nie maar hy sien bitterlik uit daarna. Sy liefde vir Elsabe het totaal besit van hom geneem en is daar vir hom net een meisie. Ronel terg hom elke slag daarmee maar sluit sy altyd op n ernstige noot af as sy sê: “Hans, sy is n stukkie goud en as jy haar ooit seermaak druk ek jou persoonlik in n enjin se vuurkas in dat jy kan braai soos die duiwel nie iemand kan braai nie”.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
In die vyftiger jare het ek ook 'n paar keer in die ou Letsani-kar oor hierdie lyn gekelner. Ficksburg, Fouriesbug bly in my herinnering, dit wil sê Braamfontein tot Durban. Verskeie roetes: Bloem / Bethlehem of ook oor Volksrus. Baie mooi beskrywing - en heelwat interessantes oor die bedrywe waarvan ons glad niks geweet het nie! Dankie, hoor. GvT