‘n Ma-herfs
They voice is on the rolling air; Uit ‘In Memorium:’ |
Die herfs weerkaats die oggendson geel deur die kamervenster terwyl ek my swart pak aantrek en voorberei vir die roudiens. Ek het ‘n paar dinge om te reël: die bedankings; die blomme vir voor in die kerk; het Carin die foto van Ma onthou? Ek wil nie dink aan die gebeure wat voorlê nie. Ek vermy dit. ‘Later’, probeer ek myself oortuig. Later sal ek rustig wees en in my studeerkamer sit met my oë toe en dan, een vir een die oomblikke herroep soos om ou boeke uit ‘n ou kis te haal. Een vir een sal ek hulle lees. Die bladsye sal soos herfsblare kraak en haar reuk sal daaraan sit en ek sal verlang, herfs-hoofstuk na herfs-hoofstuk sal ek verlang.
Ek skud die papiere reg en spook dan om die twee groot bosse blomme met swaar gevulde vase in die kar te laai. Die koel van die vroegherfs en helder van die oggendson kom sit aan my lyf. Ek dink onwillekeurig aan haar, die kleur van haar hare soos die kleur van die herfsblare wat begin dwarrel-dwarrel in die straat voor die huis: rooi-bruin, goud-bruin, rooi, amber-rooi… Plek-plek beur die laaste groen, die laaste vlekke bewussyn voor die winter-dood, deur die herfs van die bome in die buurt. Die jaar is verby, dink ek. Alles verby. Wat somer was word nou dood.
****
“Ma. Is hierie nie nog steeds gisteraand se droom nie? Is alles wat nou gebeur nie maar net gister se droom wat nog aanhou nie?”, het ek my ma gevra daardie een oggend oppad skool toe. Ek was so ses, miskien sewe. Ma het getob oor die vraag, weet ek, maar sy het nie geantwoord nie. Is dit omdat sy nie ‘n antwoord gehad het nie? Vrae soos hierdie kan gekompliseerd raak in die verstand van ‘n sesjarige kind vir wie die lyn tussen drome en realiteit baie vaag is. Wat as hierdie nog die eerste dag van my lewe is en hierdie is alles nog net ‘n droom ?, sou ek myself jare later vra. Bestaan die lewe bloot uit ‘n verwisseling tussen drome en realiteit? As jou drome waar word, droom ‘n mens dan net? Is jy net nugter-wakker wanneer jou drome nie waar word nie?
Ek sit langs my ma se bed in die ICU. Af en toe kom ‘n Suster stilletjies om die gordyn geskuur, groet my met ‘n vriendelike glimlag, maak ‘n paar verstellings aan die monitor, die drup, die plastiek ventilator pyp wat by haar mond uit konsertina soos ‘n naelstring. ‘Kan ek vir meneer ‘n bietjie tee maak?’ sal sy elke keer vra. ‘Nee dankie’ sal ek elke keer antwoord. Dan verdwyn sy weer agter die gordyn. Dieselfde roetine as vanoggend, gister, eergister… Dieselfde elke dag soos die sis-sis van die ventilator. ‘n Roetine. Ritmies maak die Suster my gemaklik, ritmies maak die ventilator vir Ma gemaklik.
Agter my is die groot venster met sy uitsig oor Mosselbaai. Sonnige Mosselbaai. Die winkelsentrums glinster met hulle rooi dakke. Die kerktoring in Marshstraat wys op soos ‘n vinger wat preek, sy horlosie tik, tik die minute af. Nog ritme. Nog ‘n hartklop wat ‘n groen strepie sig-sag op ‘n monitor. En doer, oorkant, verby die punt, verby al die vakansie gangers met kinders in die gety poele, verby die tydsaamheid van hierdie eeue oue dorpie, oneindig koel-blou lê die Indiese oseaan geduldig en wag.
Ek sit dubbel gevou op die stoel. Haar hand in myne is warm en klam. Ek sien hoe die somer in haar sy laaste groen desperaat deur die ventilator forseer. Is hierdie maar net ‘n droom?, dag ek weer. Gaan ek dalk more oggend wakker word in my bababed en wag dat sy my moet kom optel en teen haar bors vasdruk? Sy sal my optel en sê: ‘Toemaar mamma se seunie’, en sy sal my vashou en ek sal haar vel teen myne voel . Ek sal haar bekende stem hoor en ophou huil. Ek sal kalm voel. Veilig voel. Want sy is by my.
****
Maart 1971
“Geluk mevrou Marais, dis ‘n seun!”
Hy het genaelstring uit sy moeder uit! Die vrugwater vloei verstikkend deur sy mond en neus. Onmiddellik moet hy vir sy lewe veg – sy eerste taak in hierdie wêreld. Die skielike oopheid om hom laat hom verbete in die lug rond gryp met sy arms en skop-skop met sy bene. Onderstebo skilpad sonder ‘n dop! Skilpad, skilpad, bewe die blou liggaampie in die hande van die vroedvrou. Die vrugwater-mamma-water sit nat en koud op sy lyfie. En dan. Saggies. Amper onhoorbaar saggies. ‘n Sug-kreun. ‘Hhhhu’, vat hy die eerste asem teug. Die koue lug van hierdie koue wêreld vul sy longe. Met die volgende asemteug begin hy skreeu. ‘n Uitbundige skreeu want daar gebeur te veel dinge nou met hom. Dit is ‘n noodkreet maar ook ‘n aankondiging. ‘Hier is ek, en ek is ongelukkig!’ Niks is soos in die baarmoeder nie! Dis koud, bitter koud, hier. Dit was stil in die baarmoeder nou is elke stem, elke geklingel van metaal en sy eie geskreeu, verdowend in sy oortjies. Die helder lig in die kamer boor sy oë en hy moet hulle styf toe knyp.
Die wit naelstring, spiraal gedraai met blougrys are word deur gesny en geel-rooi vloeistof drup uit op die Suster se hand. Die naelstring is af. Dit word vinnig toe geklamp en die baba is los van sy moeder. Met ‘n handdoek word sy klam lyfie toegedraai en hy word in sy ma se moederlike arms gesit. Sy omhels hom en sit hom teen haar bors. Hitte vloei van ma na baba. Die pynlike koue verdwyn uit sy liggaam en die spiere in sy arms en bene ontspan. Sy ma se hand streel liefdevol oor sy agterkoppie.
“Haai mamma se seunie”, sê sy saggies.
Bekende dinge registreer by hom: sy ma se stem, helderder as ooit tevore; die geluid van haar asemhaling; haar hartklop. Sy wang druk teen haar kaal bors. Dit is warm, sag en gerusstellend. Die reuk van haar vel vul sy verstand en word vir ewig vasgebrand in sy geheue. Hierdie is sy ma! Hy huil nie meer nie en lê nou stil en veilig teen haar. Sy bewussyn spoel stadig weg en alle gebeure om hom verflou totdat dit heeltemal uitdoof. Hy slaap nou. Hy is tevrede by sy ma. Sy droom het begin…
Met ‘n blou naambandjie in haar hand leun die Suster oor hulle en vra saggies:
“Kan mevrou vir ons sy naam spel asseblief?”
****
In die straat skuif die karre heen en weer soos elke ander dag. Die gedruis van Centurion word die gedruis van die gedempte stemme rondom my. Veraf ‘n ambulans. Sirene. Die snikke van die begrafnisgangers word soos sirenes. Hulle het bloed kom stop soos die ambulans. Hulle omhels my en simpatiseer en huil en ek sê “Toemaar, ek’s oraait” en ek voel hulle hartseermens lywe snik teen myne en ek sê weer “Toemaar.”
Groet: “hallo.” Groet weer. Troos weer. Neefs, niggies, familie, ver familie, vriende, verder familie. Carin huil. Lizette huil. Huil, huil. Groet. Hallo. Huil!
‘Hoe gaan dit?’ vra almal. ‘Goed’ sê ek vir almal. ‘Sleg’ dink ek elke keer. Sleg want my ma is dood. Sleg want ek moet julle almal sien huil. Sleg want my ma is weg. Dit gaan sleg want ek kan nie huil nie. Ek durf nie huil nie. Soos die wildevy wat sy hartseer wegsteek agter die groen. Hy laat val sy blaar-trane skelmpies een-een geel op die kerk se groen perk. Só, dag ek, al met my eie binnehartseer agter die groen versteek, waag ek dit nie om te huil nie.
****
“Hallo seunie, die ring het gekom!”
My ma was duidelik opgewonde. Nee, eerder in ekstase oor die ring. Oor dié ding. Die verlowing.
Ek was ietwat oorbluf en het nie dadelik gesnap wat aangaan nie.
“Wat se ring?”
“Die verloofring, Wietzie!”
“O.”
Die foonoproep was kort ek kragtig. Daar was nie tyd vir gesels-maak-praatjies nie. Daar was romanse aan die gebeur en sy het deeglik besef dat sy my sal moet help hier. Ek was onbehulpe in hierdie gebied en wie beter as jou ma om dit te weet!
By die huis gekom maak Ma die deur oop, boksie met ring in die een hand en ‘n bos blomme in die ander.
“En die blomme?”, vra ek, plooi tussen die oë.
“Dis vir Marinda, haar ring het gekom. Hier’s hy.”
“O.”
“Gaan jy nie eers kyk hoe dit lyk nie?”
Die ring was mooi. Soos sy dit wou gehad het. Soos sy dit láát maak het, hierdie aanstaande vrou van my.
“Jy moet nou na haar toe gaan. Vat die blomme.”
Sy trek my nader, omhels my en soen my. Sy moet op haar tone staan.
“Baie geluk seunie.”
Ek was oorbluf en verstrooid.
“Hoekom?”
“Op jou verlowing! Tog! Gaan nou, sy’s by die huis, sy wag vir jou.”
Ek glimlag verward. Dis duidelik dat sy en Marinda alreeds die besigheid bespreek het.
“O. Dankie. Maar ek het haar nog nie gevra om te trou nie”, terg ek.
“Jaaa, jy gaan dit nou doen! Toe gaan nou.”
Ai, Wietzie, waar kry ek jou? Wat sou jy tog sonder jou ma gedoen het?”
Hulle laat ‘n pa altyd sy dogter afgee by ‘n troue. Ek is oortuig ‘n Ma moet ook toegelaat word om haar seun af te gee by sy troue. Enige ma met ervaring sal vir jou kan sê dat iets in haar stomp afbreek die dag as sy haar seun oorhandig aan ‘n ander vrou. Die oggend voor my troue was ‘n stil reënerige oggend. Die somer van ’95 was een van die droogste jare in die Wes-Transvaal ooit, maar daardie dag het daar ‘n laat herfs-reën geval. Tydens die huwelik seremonie het dit so hard gereën ons moes ons fotosessie binne die kerkgebou doen. Reën op jou troudag bring geluk, sê hulle.
My pa was besig om rëelings te tref vir die familie verblyf en ek en Ma was alleen by die huis die hele Saterdagoggend. Ons het nie veel gepraat nie, net soos daardie laaste oggend oppad lughawe toe was dit stil. Ma het vir my ‘n onderbaadjie gemaak om te dra saam met die tuks en het nog die laaste verstellings aan dit gemaak daardie oggend. Haar amber-rooi hare was reeds gedoen vir die doe en met haar bril laag op die brug van haar neus en twee kopspelde wat sy geoefen tussen haar lippe vasknyp kyk sy op na my (sy was omtrent twee voet korter as ek) en vra:
“Hoe voel jy seunie? Is jy op jou senuwees? Hmm?”
“Ja.”
“Het jy jou toespraak reg?”
“Jip.”
“Jy weet wat om te doen as sy by die kerk inkom, nè? Onthou om te smile. Jy vergeet altyd om te smile. En moenie so frons nie.”
“Ek sal nie.”
Die onderbaadjie waarvan die some nog ingewerk moes word, word noukeurig om my skouers getrek, verskuif en verstel.
“Jy moet nie vergeet om te sê hoe mooi Marinda lyk nie, hoor. Sy’s die belangrikste item op jou toespraak. Jy moet sê van hoe spesiaal sy vir jou is en mooi haar rok is en aal daai goed. Onthou dit.”
“Ek sal nie vergeet nie Ma.”
“Onthou Mamma is lief vir jou hoor. Jy sal altyd my ou seuntjie bly. Hoor jy?”
Ek glimlag en probeer so kalm as moontlik lyk.
“Ek sal onthou.”
****
Die argitektuur van die kerkgebou dateer uit die 70’s. Die mure is oorgetrek met hout sodat min lig weerkaats van die mure. Die binneruimte van die gebou is dus donker. Op die galery teem die pyporrel ‘n trekkerige melodie wat melancholies vermeng met die somberheid om my. Die kaal takke van die bome buite trek hulle skaduwees soos are oor die gekleurde vensters. Die flou herfsson beur met moeite deur die takke en vul die hartseer met lig-rooi. Voor in die kerk is ‘n foto van my ma regop gerangskik teen die een ruiker. Ek sien haar goud-rooi hare, ligte vel en verbeel haar sproete soos ek dit altyd sal onthou. Haar bruin oë glinster vol verwagting en haar hare word herfs met die rooi van die herfslig in die kerk. Agter my hoor ek snikke, nat neuse, nat oë, sneesdoekies, hartseer. Ek buig my kop vooroor en probeer bid maar my gedagtes bly leeg. Ek sit so, vooroorgebuig, vir enkele minute en dan al wat ek kan sê: “Help Here!”
Die dominee staan op die preekstoel met sy swart toga en vriendelike glimlag. Ek herken my eie woorde as hy stemmig die Familiebrief voorlees.
Betsie Burger, gebore 30 Junie 1946, het die laaste hoofstuk in haar lewensboek voltooi, want soos dit die Hemelse Vader behaag, is my geliefde ma, ons ouma, tante, vriendin en eggenoot van Andrew Burger van ons weggeneem. Op 2 April 2014, ‘n reënerige, herfsdag in Mosselbaai, het daar stilte gekom in die teenwoordigheid van God sodat Hy haar hand kon vat om haar reis voort te sit. Vir 67 jaar het Hy haar aan ons geleen en ons is dankbaar vir die magdom van tere herinneringe wat ons van haar het en altyd in ere gehou sal word. Ons sal berus dat so, Gods wil vir ons die beste is. Ons treur nie sonder hoop nie, maar verheug ons in die gedagte dat ons eendag weer saam sal wees.
Dan, met beide hande gelig sodat die groot swaar moue van die toga dramaties drapeer, spreek hy die seën uit:
“Gemeente, genade en vrede vir u van God ons Vader, van Jesus Christus ons Here, en van die Heilige gees. Amen.”
****
Die blare in die Populierbome klapper in die Vrystaatse herfswind. Net soos hande wat klap in ousus se skoolsaal daai een keer, dink hy. Om sy voete dwarrel die blare, dooie blare, geel en bruin met die are wat swart strepe op hulle trek nes die spoortjies van klein diertjies. Die speel terrein om hom is ‘n getjirp, gegil en gelag van spelende kleuters. Hy staan verslae in die middel onder die boom en huil. Vir tien minute staan hy so voordat die fyn sproetgesig dogtertjie hom versigtig nader.
“Hoekom huil jy, hè?”
Haar groen rokkie is vuil van speel in die sandput, die swaaie, glyplank en oral waar ‘n kleuter kan vuil raak by die kleuterskool. Haar hare is rooibruin korterig en wil-wil in krul oor haar ore. Dit vorm ‘n sirkel-raam om haar ronde gesiggie met die bruin oë, die fyn neusie met die blinknat van herfswind-oogtraan en verkoue onder haar neus. Haar glimlag is breed en innemend en wys albei rye van haar wit melktande en laat haar opgehelderde bruin oë van plesier sommer op skrefies trek.
“My ma is weg.” Antwoord hy met die soveelste groot traan van die oggend wat oor sy wang rol.
Hy staan in die middel van die speelterrein want die tannie het gesê hy moet uitkom. Hiernatoe kom waar daar vreemde kinders (“maatjies”) is by vreemde plekke met vreemde geluide en vreemde reuke. Alles vreemd. So oorweldigend vreemd. Intimiderend. Onder die boom staan hy en probeer sin maak van dit alles en die beste reaksie wat sy vier jaar hom kon leer is om te huil en huil.
Sy ma het hom hier kom aflaai vanoggend, self met ‘n traan in die oog, na die tannie met die dun vingers toe gevat, en toe skelmpies verdwyn, want sy weet. Sy weet hy is so en sy is so. Die tannie met die dun vingers van hom aan die skouer en vra:
“Wat is jou naampie?”
Hy besef skielik sy ma is nie daar nie en kyk verwilderd om hom rond. Soek, soek.
“Waar’s my ma?”
“Mammaaa!” roep hy uit as die eerste traan druppel uit sy oog bars.
“Mamma!” sagter die keer, met die breek van verdriet-huil in sy stem.
“Mamma gaan nou-nou weer terug kom, maar eers moet jy ‘n bietjie by ons speel, hoor?”
Die trane loop nou vrylik en hy hou sy trui se mou oor sy oë want hy wil nie wys nie. Sy lyfie begin ruk-ruk van snik. Onbeheerst snik-hik die angs en verlatenheid wat in hom opstoot. Sy ma is weg en niks kon hom voorberei hiervoor nie!
“My naam is Tannie Alta en hier by ons gaan jy lekker speel. Ons verf, ons teken met vetkryt en speel met klei. Ons vertel ook stories. Wil jy graag ‘n storie hoor?”
Hy knik met sy kop maar hou die mou steeds oor sy oë. “Ja.” sê hy amper onhoorbaar.
“Wat is dit nou?” vra ‘n ander tannie wat nou ook in die kantoortjie in gebars het van nêrens af nie. So vreemd. Hierdie plek.
Hy kyk vir die eerste keer op en sien hoe lyk die twee tannies wat daar staan. Die tannie wat sê sy is Tannie Alta lyk glad nie soos sy ma nie. Sy is lank en skraal en haar skouers maak sulke punte wat vooroor buig. Haar gesig is rooi opgemaak en haar hare is lank en swart. Maar haar vingers. Dis haar vingers wat hy die beste opmerk. Dis sulke lang dun vingers wat hard vat aan sy arm. Hulle lyk nes die kloue van sy kokketiel by die huis, dink hy.
Sy ma is nie so nie. Sy is kort en sag met sulke kort ronde vingertjies waarmee sy altyd vir hulle klavier speel op Sondagaande, waarmee sy sy hemde en broeke maak en die gordyne maak en die prentjies in sy inkleur boek teken. Haar hare is kort en dieselfde kleur as die herfsblare buitekant, en haar gesig het sproete en haar wange is rond en vriendelik en haar reuk, veral haar reuk. Soos sý. Sy ma. Háár reuk, want net sý ruik so. So onthou hy van altyd af. Alles van haar is sy ma. Sy ma is alles. Hierdie Tannie Alta ruik nie so nie. Sy ruik na koffie en vetkryt en poeierverf en iets wat soos toiletsprei ruik en nog goed wat hy nie ken nie. Nog vreemdheid.
“Nee jong, hy huil oor sy ma.” Antwoord sy die ander tannie.
“Wil jy buite gaan speel?” vra sy hom met ietwat minder affeksie in haar stem.
“Nee.” Snik hy die antwoord terug. Hy begin voel hy wil piepie en raak benoud want hy weet nie waar om te gaan nie. Mag hy vir die tannie vra? Wat gaan sy sê as hy vra? Gaan sy vir hom lag? Gaan sy vir hom kwaad wees? Wat vra hy vir haar? Mag hy sê ‘piepie’? Hy klem die bruin tassie stywer vas in sy linkerhand om die snikke, wat sommer vanself kom, te probeer dood druk. En begin weer huil.
Die dogtertjie met die ronde gesiggie kyk hom verbaas aan.
“Hoekom is sy weg, hè?”
“Ek weet nie.” Die traan rol-rol oor sy wang en hy kyk af. Skaam.
“Toemaar, as my ma kom kan jy haar ôk maar kry. Sy sal. Ek belowe.”
Die traan val van sy wang grond toe en plons op die herfsblaar en maak ‘n groot blink pêrel en hy staar met groot oë daarna.
“My ma is weg.” Sê hy weer.
Die wind roer eers die blaar, wieg-wieg, ruk dit dan op en laat val dit weer. Dit rol-rol oor die speelgrond oor die grasperk verby die klimraam, verby die heining weg na die groot vreemde wêreld daar buite oor nog grasperke en oor al die onthou oomblikke van my lewe.
Die blare fladder só totdat dit opbondel onder die Vyeboom. Elkeen met ‘n verlang traan op hom, dink ek terwyl die laaste begrafnisganger glimlaggend groet.
So sal dit wees. Met elke herfs sal sy saam met die blare oor die groen grasperke aan rol. Elke jaar as die blare geel en die wind begin koud en die swaeltjies op die draad na die anderkant begin kyk. Elke keer sal Ma-Herfs weer hier wees. Soos in de lewelange droom, van daardie eerste dag af. Sy sal kom en sê ek is haar ou enigste seuntjie en hoe gaan dit met Marindatjie en ek is lief vir julle onthou.
Sy sal weer soos daardie dag my kom haal daar waar ek staan en huil by die kleuterskool. Sy sal by die hekkie in kom, haar kop na die een kant laat kantel, haar hande saam klap voorhaar en met ‘n helder glimlag sê: ‘hallo seunie, en jy’t gedink Mamma gaan nie weer terug kom nie, nè!’
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek