Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 9

HOOFSTUK 9

“Liewe Marietjie,
Mens kan nie glo dat die tyd so vinnig loop nie. 1963 nader ook nou al sy einde en dan is jy en Elsabe klaar met skool en kan julle Bethlehem toe kom. Ek is bly dat julle werk as klerke in die goederekantoor gekry het en gaan ons nou permanent almal saam wees.
Ek het aansoek gedoen vir n huis en het een gekry ook. Ek is hard besig om die huis te meubeleer en woon al die veilings wat ek kan by om vir ons meubels te koop. Ek wil nie nuwe meubels koop nie want dit is te duur en mens kry goeie meubels op die veilings teen billike pryse. As ek kans kry gaan snuffel ek in die tweedehandse winkels ook maar hulle is maar roekeloos met hulle pryse, koop ook maar baie op die veilings en sit hulle deel by. Julle sal aangenaam verras wees as julle die einde van die jaar permanent hier land. Ronel help my baie en is sy besig om die hele kombuis uit te rus en gordyne te maak. Sy sê sy wil seker maak dat daar niks kort kom as julle die dag hier aankom nie. Gelukkig het ek genoeg gespaar in hierdie drie jaar om vir alles te betaal”.
Marietjie lees die brief verder en dan vang haar oog Elsabe wat nog droomverlore op haar bed sit, seker nou vir die derde keer besig om haar brief te lees.
Elsabe het ontpop in n pragtige blondekop. Sy kam deesdae haar hare so in n gerf oor die een skouer en het sy n pragtige vol figuur met die mooiste paar bene wat enige man sal lam maak. Marietjie self bly nie agter nie en sal sy self ook enige man se bene lam maak met haar lang swart hare en n pragtige vol figuur wat so vroulik vertoon in die ligte somersrok wat sy vandag aan het.
Elsabe kom agter dat Marietjie vir haar kyk en kyk op maar bloos dadelik bloedrooi toe Marietjie keel skoonmaak en opmerk: “Daardie brief is natuurlik weer so warm dat die stoom uit hom uittrek. Geen wonder sekere mense slaap deesdae met haar kopkussing styf in haar arms nie. Arme Hans, ek kry hom jammer as jy hom die slag regtig in die hande kry en hom vry dat sy ore hang”.
Marietjie moet erg koes vir n vlieënde kussing wat teen die spieël vasklap toe Elsabe opmerk: “Wag maar tot jy die dag verlief raak. Ek kry daardie arme man jammer”.
Die kussing vlieg terug en moet Elsabe koes voor sy uit die kamer uitvlug om haar brief vir die soveelste keer rustig onder n boom voor die tehuis te gaan sit en lees.
Marietjie bly in die kamer sit en haar gedagtes dwaal terug oor die drie jaar wat verby is. Hulle het elke lang vakansie vir Hans gaan kuier, wintervakansies ook, en Hans het met sy verloftyd weer by hulle kom kuier.
Ronel het vir hulle n dierbare vriendin geword en skryf ook gereeld vir hulle. In haar laaste brief het sy hulle die groot nuus meegedeel dat sy ma gaan word in Mei maand.
Op skool het sy en Elsabe alles in hulle studies gesit en alhoewel veral die matriekseuns hulle bene oor hulle twee gebreek het hulle almal n koue skouer gekry en staan hulle bekend as die twee ysberge. Dit pla hulle nie, Elsabe het vir Hans en by Marietjie is die groot dryfveer om Boskop terug te kry, sy het geen erg aan mans nie.

Hans het maar op die “pull” bly stook en het kort kort van drywer verwissel. Hy het intussen sy finale stokers eksamens afgelê en was nou volwaardige stoker. Dit is dan ook aan die einde van 1963 wat die noodlot besluit dat Hans genoeg van “Mr. Nice Guy” drywers gehad het.
Die aand toe die roepman hom kom roep vir n trein Harrismith toe is die nommer vir hom vreemd en vra hy die roepman wat se trein dit is. Die roepman kyk hom ewe verbaas aan: “Dit is n goederetrein ou, julle gaan die Oranje Snel haal en by the way, jy stook vir Dick Lees, so kry jou gat in rat en sorg dat jy by die loko kom om seker te maak dat sy enjin skoon is anders laai hy jou sommer in die loko af nog voor julle weg is. Trek sommer n skoon oorpak aan want hy is erg bedonnerd as hy die snel werk”.
“Berge val op my en heuwels bedek my”, dink Hans by homself. Dick Lees is n berugte karakter, een van die sogenaamde oorlogsdrywers wat na die tweede wêreld oorlog as stoker op Bethlehem kom werk het en as gevolg van sy oorlogsdiens al sy tydgenote, tot groot onmim, verby gesteek het op die bevorderingsleer. Almal sê hy ly aan bomskok en dit is hoekom hy nog steeds alles met militêre presiesie gedoen wil hê en sy “army” maniere op die stokers en die voetplaat kom uithaal. Hy het al menige stoker in die veld afgelaai en stook net die mees senior stokers vir hom. Vandag is die kalf in die put en het die roosteropsteller besluit Hans sal maar moet deug. Hans is die beste wat hy het en is Hans bekend daarvoor dat geen lokomotief sukkel om by hom te stoom nie, al is die kole hoe vrot en hoe groot en stoom die loko hoe sleg.
Hans versuim nie, hy bly nie meer in die hostel nie maar in die huis, gaan maak gou n paar toebroodjies en pak gou sy blik. Gelukkig is Harrismith toe nie n lang rit nie en maak hy sy blik agter op sy fiets vas en vat die pad loko toe, om ter slagting gelei word, is sy gedagte. Dit is n heerlike wolklose aand met die sterre wat skitter en n volmaan wat teen die horison uitklim. Oral brand ligte in die huise en ry hy met sy fiets onder die dowwe straatligte deur loko toe om aan diens te gaan.
By die loko gekom sluit hy sy fiets in die fietsloods toe, vat sy skitterblink kosblik, gelukkig het hy hom vanmore skoongemaak, hy het gehoor dat Dick Lees soms tot die stoker se blik inspekteer, en stap aan roosterkantoor toe om te gaan aanteken. Voor die loods staan hy oudergewoonte n paar oomblikke stil om die toneel van swart lywe in n ry onder die geel ligte van die loods in te neem. Op nr 1 eerste uit staan 2900 met die Oranje Snel bord voor op die rookkasdeur vasgemaak met n wit veer wat hard afblaas.
By die roosterkantoor teken hy vinnig aan, kry die “docket” vir die olie en ghries, Dick se sluitkas sleutels en sit af store toe. Met alles opgelaai op die kruiwa stoot hy die kruiwa oor tot langs n skitterblink 2900, Dick se enjin.
Terwyl hy oplaai stop n ander lokomotief langs hulle wat net ingekom het en is die drywer daarvan n geslaagde stoker. Hy beskou Hans en 2900 belangstellend en besluit dat dit sy plig, as ex Dick Lees stoker, is om Hans n paar wenke te gee: “Maat, spreek hom aan as sir, sorg dat die kap ten alle tye blinkskoon is. Sorg dat jy nie n sinjaal mis nie en moet onder geen omstandighede praatjies met hom maak nie, praat net as dit nodig is. Onder geen omstandighede bied jy aan om vir hom tee of koffie te maak nie, hy maak sy eie. Sterkte, jy sal dit nodig kry”.
Hans begin skoonmaak, die “lubricator” vol maak, die injekteur aansit en gooi vinnig n paar grawe kole oor die vuur. Die “cleaner” het gesorg vir n goeie vuur en is Hans besig om die meters vir laas af te vee toe n skitterblink kosblik aan die drywer se kant op die voetplaat neerplof.
Toe verskyn hy terwyl hy opklim. So n maer kort mannetjie met n wit hemp en n das aan, sy oorpak stink eintlik van skoongeid. Op die voetplaat bêre hy sy blik in die sluitkas in die kolewa en begin met sy inspeksie.
Eers pluk hy n spierwit sakdoek uit en vee dit oor die meters, keer die sakdoek om en beskou dit aandagtig. Tevrede word die sakdoek gebêre en word die vuurkis oopgestoot en die vuur bekyk. Dan dwaal sy oë na die peilglase toe en is daar nog steeds geen kommentaar nie. Die “lubricator” is volgende aan die beurt en dan vat hy die ghriespomp, oliekan en ghriesstokkies, wat Hans netjies op die vlamplaat uitgelê het, en klim af om te gaan ghries en olie, nog steeds sonder n woord.
Terug op die voetplaat kyk hy vir oulaas na al die stoomdrukmeters en die peilglase en dan gee hy die omstellerwiel drie draaie regs vir vorentoe en maak die remme los. Die vakuummeternaalde klim na 17 dm toe en Dick trek die regulateur bietjie oop. Sissend en blasend beweeg hulle vorentoe na die dwergsinjaal wat op gevaar is. Hulle doen dit nooit nie omdat die sinjaal maar altyd op gevaar is maar besluit Hans om dit vir hom te sê: “Signal on danger sir”, Hans kry sy eerste punt uit tien.
By die sinjaal stop hulle en Dick klim af om te gaan uitbel. Die dwergsinjaal word groen en weer vestig hy die drywer se aandag daarop toe hy opklim. Hulle kruis uit hooflyn toe en hardloop deur die hooflyn Atbara toe om daar in die werf te gaan inkruis om op hulle vrag te gaan koppel. Hans mis nie n sinjaal nie en toe hulle koppel wag die kondukteur reeds vir hulle om die vrag aan te gee. Dit is n vrag leë tenktrokke, 700 vir 140 asse, nie swaar nie.
Hulle staan n paar minute, Hans gooi n paar stewige grawe kole oor die vuur en sit weer die injekteur aan en toe die vakuummeter op 16 dm tot rus kom blaas die witveer. Dick fluit weg en n minuut later kom die kontrole rangeerder se groen lig toe die sinjale opgaan. Groen lig van die kondukteur af en die regulateur word oopgetrek.
2900 vat die vrag maklik en toe hulle oor die wissels gaan met n gewieg stoot sy swart rooksuile in die lug in op maat van die geblaf wat versnel. By die seinhuis verby vang Hans die tablethouer met die Annandale tablet op, lees die tablet hardop en oorhandig dit aan die drywer. Hans staan nou op twee uit tien in Dick se boekie.
Hans mis nie n sinjaal nie en op Afrikaskop is Dick se goed klaar op die vlamplaat uitgelê toe hulle stop om loko te vat. Hans sit nie n voet verkeerd nie en toe hulle op Harrismith draai en vir die snel gaan staan en wag maak hy vir die eerste keer vir hom bietjie koffie en eet sy brood.
Hy is net daarmee klaar toe die twee 5E elektiriese eenhede met die snel langs hulle stop.
Die rangeerder is dadelik by om die eenhede los te maak, uit te kruis en hulle te gaan vasmaak. Hans se vuur is reg en toe die kondukteur die tablet vir hulle kom gee toe hy die vrag kom aangee is hulle reg om te ry. Hulle wag net vir die kondukteur om in sy kondukeurswa te kom en fluit Dick weg. Groen lig van agter af en hy trek die regulateur oop. Blasend en sissend kom 2900 in beweging en word die silinderkrane toegstoot, die wiel kry een en half draai links vir 45 en trek Dick haar oop. Spoedig is hulle op spoed en rol die geblaf van 2900 oor die Vrystaat vlaktes met n rooksuil wat soms swart teen die volmaanlig nag teen die lug bly hang om met die wind te verdwyn.
Weereens mis Hans nie n sinjaal nie, vang die tablette op die stasies aan sy kant wat hy vinnig hardop lees voor hy dit vir die drywer gee. Hy sorg dat sy vuur ten alle tye reg is en dat die stoomdrukmeter op 210 bly.
Op Afrikaskop is Dick se ghriespomp en oliekan weer netjies op die vlamplaat uitgelê en nadat hulle loko gevat het is hulle op hulle laaste been Bethlehem toe waar hulle twee uur die oggend op platform een tot stilstand kom waar die volgende 15E reeds regstaan vir die Oranje Snel se rit Kroonstad toe op sy reis Kaapstad toe.
In die loko praat Dick Lees die eerste keer met hom: “Well done sonnyboy you are a good fireman”.
Hans kan sy ore nie glo nie en toe hy afteken kry hy die skok van sy lewe toe die roosteropsteller hom die nuus medeel: “Jy het nou n lat vir jou eie gat gesny. Dick Lees het gevra dat jy permanent vir hom kom stook. Eerste keer ooit wat dit gebeur, sterkte en teken sommer vir 724, die Kroonstad passasiers vanaand saam met hom”.
Dit is n moeë maar gelukkige Hans wat op sy fiets klim huis toe nadat hy in die loko gestort het en sy gewone klere aangetrek het. Toe hy uit die stort uitgekom het was Dick ook net klaar in die drywerstorte, stokers en drywers het aparte storte en Hans weet nie of hy hom verbeel het nie maar hy kan sweer daar was so effense glimlag op die man se gesig toe hy vir hom gekyk het.
By die huis gekom kry hy eers die stoof aan die gang vir wam water later deur die dag. Ten spyte van elektrisiteit het die spoorweghuise nog almal koolstowe met die geyser aan die stoof gekoppel.
Dit is vyf uur toe hy in die bed kom en met n brekende dagbreek aan die Oosterkim aan die slaap raak.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed