Jongste aktiwiteit:

Digdood (Silwer)

“die meester kom sy kinders haal
op anderster maniere”
só het tant Skuitjie
daardie dag gesê

waar sy oor die wasklip buk
staan die are in haar nek
haar wange dril soos die uier
van oom Faf se jerseykoei
as dié saans afdraf stal toe
om met die melkman te gaan stoei

haar arms vryf egalig
om die wasgoed wit te was
sy tuur in die waswater
soos ‘n siener in die niet
en deel haar wysheidwoorde
soos die seeman in sy lied

hy sing van vissermanne
wat soos stippels in die seë
teen die golwe se geheime
‘n lewensstryd betreë

hy sing van dapper jongens
met families by die huis
oorgegee aan waagmoed
en die diepsee se geruis

vandag praat tant Skuitjie effe anders
met ‘n sug in haar gemoed
oom Frans se digterdood
maak die beste moordslag goed

hy’t dan half verstik in sy eie gedigte
so sê sy laaste doodsverslag
die howe het die detail
in die fynste fyn betrag

dit het begin by ‘n sonnet
as ‘n Italiaanse een geboek
dié steek toe in sy keel vas
soos ‘n droë stuk wortelkoek

die haikoe en die tanka
het ook bokkerol gehelp nie
en soos ‘n ware virus uit die ooste
nie ‘n teenmiddel gehad nie

toe hy die sonnet wil afvorseer
met ‘n woordeboek gedig
kry sy esofagus skade
en raak hy blou in die gesig

met die gehoes en die geproes
gryp hy ‘n limeriek
en lag so vir die woorde
hy word nog verder siek

‘n vrye vers konkoksie
het die nekslag toegedien
‘n kleinletter beroerte
met ‘n versklont deur die brein
bring sy hart in fibroalliterasie
en assonansieer sy laaste skyn

sy gedigte was te vaal
rigied en stereotiep
het die lyksverslag laat blyk
“te min geskryf oor water en sy tuin;
te veel oor klagtes, dood en pyn”

Tant Skuitjie hang die wasgoed op
en loer half onderdeur die draad
“vreemde maniere sê ek jou
en die meester kyk na élke daad!”

A Fourie (Seirdna)
2021.03.11




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed