Ek het mos beter geweet
Ek het mos beter geweet, deur Stephan Uys
Nou die dag moet ek en Oudste ry om vier aluminium skuifdeure in Deneysville te gaan installeer. Twee dae voor die tyd besef ek ons sit met ʼn vervoerprobleem, want my broer moet die bakkie gebruik om sand en sement aan te ry vir ʼn ander bouprojek. My kar het nie ʼn sleepstang nie, dus kan ek nie eers die waentjie sleep nie. Gelukkig is daar ʼn ander voertuig met ʼn sleepstang op die erf. Ongelukkig is dit die voertuig wat Liefie afbetaal. Die mense wat engele en dwase bestudeer, beweer dat dwase instorm waar engele huiwerig is om ʼn voet neer te sit. Ek is beslis nie ʼn engel nie, maar ek is darem ook nie heeltemal ʼn dwaas nie. Ek weet ‘kar leen vir werk’ is ʼn netelige saak, so ek soek vir ʼn gulde geleentheid om die kwessie met my beminde te bespreek.
Ek was skottelgoed, vee die kombuis, maak haar selfs met koffie in die bed wakker die oggend voor ons moet ry! Alles net om haar hart sag te maak vir die vra-proses. Toe ek nou dink ek het genoeg gunste en gawes bymekaar gemaak, vra ek haar die groot vraag. Maar ek vra hom nie reguit en teen die wind se rigting in nie – dis moeilikheid soek daai; en ek is mos nie dwaas nie. Nee, ek voel-voel so hoe haar hart is. Ek maak wye voorbrande deur haar te vertel hoe lekker die motor van haar ry, en hoe gaaf dit is dat die tjor ʼn sleepstang het. Teen die tyd begin Liefie reeds onraad te vermoed; amper soos ʼn wildsbok wat so ʼn snuifie van leeu se kind gekry het. Ek praat eers bietjie oor iets anders, sodat sy weer rustig kan word en my woorde kan kans kry om haar binneste week te maak. Ek kom weer in met so ʼn wye draai. Ek vertel vir haar hoeveel geld ons sal kan maak met die werk, maar sê dan vreeslik hartseer dat ek dit nie sal kan doen nie. Nou hoop ek sy vra my hoekom ek dit nie kan doen nie, maar sy kyk my net so aan, so al asof sy lankal my gedagtes gelees het. Ek voel soos ʼn wit rot in ʼn slang hok – ek wag om gepik te word!
Ek en Liefie sit so sonder om te praat en kyk vir mekaar. Dit is soos daardie eerste aand toe my eersgeborene vir die eerste keer by die huis geslaap het. Ons het beide wakker geword van Oudste se gehuil, maar ek het besef die een wat eerste opstaan gaan altyd opstaan – so ek lê toe maar en wag vir Liefie om eerste op te staan!
Dit lyk my of Liefie egter haar les geleer het, want sy bly doodstil en kyk my met sulke gesluierde oë aan. Ek besef ek sal moet vra, want dit word al laat en ek moet reeds vroegoggend die pad vat. Ek het toe maar my hand oopgemaak en my kaarte gewys. Sy het besef sy sit met al die troewe en het vreeslik groothartig gesê ek mag die kar gebruik op drie voorwaardes.
“Jy maak my kar vol diesel voor jy hom teruggee.” “Dis nie ʼn probleem nie” belowe ek plegtig.
“Julle gee die kar skoon terug vir my.” “Natuurlik Liefie” antwoord ek. Dit is ʼn probleem, want ek en Oudste kan nogal papiere en bottels vergader.
“Jule laai nie goed in my kar nie!” “Nooit Liefie, dis waarom ons die waentjie sleep” maak ek haar rustig.
Vroegoggend vat ek, Oudste en die bouertjie die pad. Die verkeer speel saam en ons stop lekker vroeg daar. Ons begin sommer dadelik te werk, maar besef amper onmiddellik daar is probleme – die mense se deure is te laag vir die opening. Ons sal bo ook moet toebou. Dit beteken ek moet gaan soek vir stutte en proppe, sodat ons sierstene bo-op die nuwe skuifdeure kan inbou. Ek vind uit waar die hardewarewinkel is, en ek en Oudste ry gou om te gaan hoor of hulle het wat ons soek. Toe ek wegry, kyk ek na die waentjie wat eenkant staan. Ek wil eers die waentjie hak, maar besluit ek gaan eers gou verken. By die hardeware het hulle alles wat nodig is, en Oudste oorreed my om te koop en in die kar te laai. Ek wil teenstribbel, maar dit word laat en die bouer wag. Terwyl ek betaal laai Oudste en een van die winkel se werkers gou die planke in die kar. Toe ek uitstap, toe weet ek daar gaan moeilikheid wees! Daardie planke lê van reg agter tot op die nuwe motor se blink gepoleerde dashboard. Hoe nader ek stap, hoe meer trek my keel toe. Soos ek vermoed het! Die manne het die planke van agter af ingestoot en Liefie se dashboard het liederlike krappe opgedoen.
Ek wil eers vloek en baklei, maar my eie gewete vertel my ek het beter geweet! Ek moes luister na daardie stem wat gesê het ek moet die waentjie saamsleep.
As gevolg van die ekstra bouwerk word die deure insit toe ʼn twee dae werkie, en ek ry maar eerder op dag twee weer met Liefie se motor. Nie omdat ek die motor nodig het nie, maar omdat ek nie kans sien om vir Liefie te sê dat ons haar kar beskadig het nie. Ek kry ʼn bottel dashboard skoonmaakmiddel en spuit die kar dat dit die ene laventel ruik. Terwyl ek wag vir die produk om sy towerwerk te doen, bid en hoop ek dat die goed so goed werk soos die advertensie beweer. Helaas, die advertensie se beloftes is leer as my beursie en die krapmerke sit steeds duidelik daar, selfs nadat ek die prosedure drie keer herhaal het. My hart is swaar in my binneste, want ek weet Liefie gaan alles behalwe gelukkig wees met my. Daardie aand maak ek en Oudste seker ons haal al wat papier, bottel en blikkie is uit die kar uit. Ek vee weer die ergste stof van die panele af, en hang die motor se sleutels agter die deur. Liefie vra of alles reg is, maar ek kry nie die moed bymekaar geskraap om vir haar te vertel van haar kar nie.
Dit was ʼn Vrydagaand. Die Saterdag gaan Liefie wraggies nie winkels toe nie, en ek slaak ʼn dankbare sug van verligting. Ek het nog ʼn dag oorleef. Sondagoggend is die kinders en Liefie soos gewoonlik laat vir kerk, en ek sit en perkoleer in die kar – haar kar! My gedagtes is by kerk en laat wees, die dashboard is heeltemal vergete. Liefie en die kinders storm uit die huis uit en spring in die motor toe ek die toere bietjie opjaag, maar net ʼn bietjie want ek het al lankal geleer Liefie se toere klim vinniger as die kar sin as ek dit doen.
En daar bars die bom op pad kerk toe! Ek het heeltemal vergeet van die diep krapmerke. Dis toe Liefie uitroep: “My kar! Kyk hoe lyk my kar!” dat my hartklop versnel en koue sweet op my voorkop uitslaan. Ek wil eers vir haar sê dis Oudste se skuld, maar ʼn pa kan darem nie sy eie kind onder ʼn stoomtrein instamp nie! Ter wille van ouderdomsbeperkinge en kerkmense sal ek nou maar nie woordeliks herhaal wat daar die oggend op pad kerk toe gesê is nie. Laat ek net sê dat ek seker twintig keer uit my hart uit jammer gesê het, en my skuld erken het. Teen die tyd dat ons by die kerk stop, is Liefie weer meer engel as duiwel en ek voel of daar ʼn helse las van my skouers af is. Ek het mos beter geweet, en tog het ek gedoen wat ek nie moes nie!
Dit laat my dink aan ons verhouding met God. Ons weet tog wat vir die Vader reg en goed is, en tog los ons die waentjie in ʼn ander man se erf. Ons vat kanse, en hoop ons kom daarmee weg. Soms verlei ander mense ons, en soms luister ons nie na ons gewete nie. Ons oortredinge maak dat ons skuldig is, en dit laat ons skuldig voel. Ons wil soos Adam en Eva eerder onder ʼn bos gaan wegkruip as om die Here per ongeluk êrens raak te loop. Soms vermy ons God juis omdat ons soveel skade berokken het aan iets wat Hy aan ons toevertrou het.
Ek het egter een ding van ons Vader geleer: Hy vergewe ons as ons skuld erken en ons sondes bely. Die bloed van Jesus maak nie net die krappe minder sigbaar nie. Die bloed van Jesus neem die krappe heeltemal weg! Jesus het gesterf sodat ons en God vrede met mekaar kan hê. Al het ons ook hoe drooggemaak, Jesus het vir elke sonde en ongehoorsaamheid gesterf. As ons ons sondes bely, God is getroue en regverdig. Hy sal al ons sondes en ongeregtighede vergewe en verwyder, sodat ons met vrede en vrymoedigheid in die Vader se teenwoordigheid kan ingaan.
Onthou God het ons wat sondaars is, so lief dat Hy Jesus laat kruisig het sodat ons Sy kinders kan wees. As jy êrens dalk ʼn dashboard gekrap het, is dit nou die tyd om vrede te maak met die Vader; voor dit dalk vir ewig te laat is.
Onthou God is lief vir jou. Hy ken jou naam, Hy ken jou hart, Hy ken jou werke! En nog steeds wil Hy ʼn liefdevolle Vader vir jou wees.
©Stephan Uys 2018/09/14
2 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2018 - Spyse vir die siel projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ano
Hahaha, Oh genadetjie tog, daai skrape klink alte veel na moeilikheid!