
Ek Skryf Jou Naam
Ek skryf jou naam
op my hart se snaar
en ek speel daarop
as verlange huil
en die ritme
in my bors wil stop
en die tyd vergeefs
probeer vergeet….
want jou naam geskryf
op my hart se snaar
is die noterym
wat die simfonie baar
van verlange en hoop
dat ons twee saam
op die vêr paaie langs
van die liefde sal loop
al is ons net vir mekaar geleen
word die twee van ons
vir ‘n leeftyd een
en die snaar van my hart
sal ons liedjie speel
as jou liefde die strykstok is
wat hom sag kom streel
© 23/12/2018 Anton Bosch
3 Kommentare
-
VlooiBoynton
So so so mooi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
By die lees van die titel, het ek onmiddellik 'n assosiasie met 'n kitaar gemaak, maar by die lees van die laaste strofe besef jy dat die skrywer meer dink aan 'n stryk instrument soos 'n tjello of viool. En dan word die gedig se melankoliese atmosfeer 'n werklikheid, verstaan mens die simfonie van die werk. Die rym wat jy gebruik verleen hom tot die hartseer klanke van die viool wat onder die strykstok huil. As jou luisteraar werklik luister, sal hy/sy dit hoor. Dit is juis hier waar poësie van enige ander skryfwerk verskil. Die oog mag dalk misleidend geirreteerd raak, omdat die rym nie soos met jou ander werk uitspring nie, maar wanneer jy luister kan jy dit hoor. Jy versnel die werk se ritme met die skaars gebruik van leestekens. Die ellips, gevolg deur die punt aan die einde van die eerste strofe is 'n geforseerde wag, Dit laat jou dink aan die woorde "en die tyd vergeefs probeer vergeet." En hierdie einste woorde word benadruk deur die ontbreking van 'n punt selfs aan die einde van die gedig. Met ander woorde die verlange, ritme, simfonie en die deel van dit is 'n oneindige ewigdurende stuk wat nie kan ophou. Hoewel die werk fokus op die verteller en sy geliefde, is dit eintlik 'n stuk oor Liefde self. Dit is net die twee mense wat hier 'n refrein uit die groot stuk musiek herhaal. "Jou naam" word "jou liefde" in die derde strofe. Dit vertel hoe belangrik die twee mense se bedraes is tot die volmaakte werk. Die een kan nie sonder die ander. Hoe pragtig stel jy dit nie "al is ons net vir mekaar geleen word die twee van ons vir 'n leeftyd een." Dit vang weereens vir my die ewige Liefde vas. Daar is 'n subtiele andersheid in die eerste en die laaste strofe. In die eerste strofe is dit die eensaam verlang van die verteller wat net 'n naam skryf. Teen die laaste strofe is dit jou geliefde wat die musiek fabriseer deur oor jou hart met liefde te stryk. Dis twee mense wat saam die ewige lied van Liefde sing. Dan is daar twee reëls wat in die tweede strofe uitspring: "op die vêr paaie langs van die liefde sal loop." Hier is 'n trilling in die musiek, wat jou kalm stem en jou vloeiend dra na die slot. Dit is verskriklike mooi stuk poësie.