Ek vind my muse
Ek vind my muse
ek skryf die gedig
sommer net so
want gewoonlik tuimel woorde
uit my hart, uit gedagtes,
uit my woorde, uit my pen,
vasgevang op papier
woorde
wat jy kan
sien – deur die vensters van jou oë
spreek – lippetaal waaruit soet woorde vloei
hoor – die klanke wat ritme bring
proe – die soet van heuning op die tong
smaak – die soet suur bitter sout van die lewe
ruik – die reuk van vars reëndruppels op die aarde
voel – hartkloppe wat warm ritme hou
hierdie gedig
is nie oor depressie
verlange hartseer pyn
teleurstellings of seerkry
nee
dit gaan oor goedvoel
oor lag en oor vrolik wees
‘n gedig oor glinster in die oog
met tiekiedraai plesier
en stof opskop
ritme in jou voete
liefde omgee vreugde
vrede in vrye vers
sonder rym
en opreg
om ‘n glasie wyn te klink
verlore tyd op te vang
daardie lang verwagte kuiertjie
by jou ouma te maak
iemand se inkopiesak te dra
by kerslig ‘n toebroodjie te eet
drukkies mildelik uit te deel
te lag oor my oortrokke rekenings
in die pad te dans
op die strand in die sand te rol
deur die branders te duik
en net na die sonsondergang
te staaaaaar
hierdie gedig
is om my muse te vind
sonder om met hoë woorde
te toor
en in eenvoud in jou menswees
lêplek te kry
‘n gedig sonder
riglyne maar met opregtheid
geen metafoor of beeldspraak
saggies hard
pianississimo fortessissimo
stadig vinnig
tyd wat ek verspeel
en my liefde vir digkuns
vryheid te gee
met vlerke hoog te vlieg
my nuutgevonde muse
en die gedig
vol entoesiasme
met jou te kan deel
miskien ‘n gedig vol hoop
om jou eie muse te vind
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.