Engel in wit Silwer 544 woorde
Dirkie laat sak sy kop op sy arms. Dit is nou al die derde dag wat die moegheid hom somerso teen die eerste periode oorval. Hy wip regop toe Juffrou Pieterse se stem vanaf die swartbord weergalm.
“Dirkie Steyn”
Haar oë vuurpyl in sy rigting. Die liniaal beweeg wild heen en weer.
“Sit onmiddelik regop! Waar is jou huiswerkboek?”
Dirkie stut sy kop met sy linkerhand. Traag trek hy die lyntjiesboek nader, sy hand gly oor die papier. Dan word alles dof om hom. Hy probeer keer maar sy tenger lyfie glip slap langs die tafelpoot grond toe.
Dit is reeds donker wanneer Dirkie se oë vir die eerste keer oopflikker. Sy arm is seer. Daar kartel ‘n dun pypie vanaf sy regterhand na ‘n plastieksakkie met helder vloeistof wat aan ‘n staal raamwerk langs sy bed staan. ‘n Sagte biep-biep klink op vanaf die monitor langs sy bed. Met sy linkerhand verken hy versigtig sy ander arm. Die band aan sy bo-arm druk styf wanneer sy vingers daaroor beweeg.
Riana druk haar vuiste teen haar slape. Hoe gaan sy die nuus aan Gerrit oordra. Hy was weereens te besig om haar na die hospitaal te vergesel. Dirkie lê nou al twee dae hier. Die uitslae van die toetse skreeu vanaf die tafel na haar. Gerrit se besigheid het nog altyd eerste gekom. Sy vee die nattigheid onder haar oë met ‘n haastige beweging weg. Dirkie is gediagnoseer met nefroblastoom, ‘n soort nierkanker wat net in kinders voorkom. Hoe kon hulle die simptome so misgekyk het. Dirkie se moegheid wat Gerrit afgeskryf het as luiheid. Die naarheid wat aan te veel lekkergoed by die skool gekoppel is. Sy sak vooroor op dok Eli se tafel. Haar skouers ruk.
Dirkie se oë fladder oop.
“mamma”
Hy steek sy hande na haar uit. Riana glimlag en plaas ’n koue handpalm op Dirkie se voorkop. Dan skuif sy die laken van sy tenger lyfie af. Die vloer is koud onder sy voete. Hy plaas sy hand in Riana sin. Die monitors biep eentonig in die leë kamer.
Dok Eli laat sak die stetoskoop om sy nek. Dan trek hy die laken liggies oor Dirkie se gesig. Hy maak notas op die knipbord en blaf bevele uit. Dan loop hy kop onderstebo na die wagkamer.
Gerrit storm op dok Eli af. Hy was besig in ’n vergadering toe die oproep deurkom. Riana was in ‘n noodlottige motorongeluk betrokke. Sy was oppad huistoe vanaf die hospitaal toe die Taxi voor haar inswaai. Ooggetuies het vertel dat sy nie eens probeer uitswaai het nie. Dit was asof sy reguit in die Taxi wou vasry. Die motor waarin sy gery het, is nou net ‘n opgefrommelde stuk metaal. Riana sal nooit weer huis toe kom nie.
“Dokter, waar is Dirkie? Ek moet my seun so gou moontlik sien!”
Dok Eli skud sy kop. Gerrit sak inmekaar op die koue wit hospitaal vloer, rou snikke skeur deur sy lyf. Riana hou Dirkie se hand styf vas. Daar is ‘n glimlag op haar gesig. In die lig voor haar en Dirkie verskyn daar ‘n uitgestrekte hand. Riana kyk vir ‘n laaste keer om na haar man wat snikkend op die vloer voor dok Eli kniel. Dan word sy en Dirkie een met die lig.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek