Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Handjies af!

Deur Ano
Datum gepubliseer: 23 November 2021 Aantal woorde: 1089 39 Kere gelees 1

(woordtelling 1096, Silwer)

“No matter what you do, someone won’t be pleased. Someone will think your choices are wrong. And someone will tell you what you should do instead. No matter which path you take, someone will seem to be doing better. Someone will have more than you. And someone else’s life may look more impressive on paper. If you’re being true to yourself, none of that will matter because you’ll have something more satisfying than approval and the illusion of ‘success’: a life that feels right for you, based on your own wants, needs, values, and priorities.” ~Lori Deschene

Ja, dit is net so, maak nie saak wat jy doen nie, iemand in jou lewe gaan nie gelukkig met jou besluite of lewenswyse wees nie. Dit is makliker om iemand anders die malle dinges in te maak, as wat dit is om daai twee teelepels suiker in my koffie te gooi. En om te leer hoe om handjies af te hou van iemand anders se besluit, is verbrands MOEILIK. Ek moet omtrent my tong (en vingers) ’n dubbele knoop gee om te keer dat ek nie weer ʼn keer vir my suster sê dat sy asseblief verantwoordelikheid vir haar gesondheid moet neem nie. En daarmee saam die drang om haar te probeer oortuig dat daar NIE anti-freeze, aluminium kleursel, e-coli, aap lewer, marmot- en baba embrio selle, varkbloed, insekte en watse ander **** in die nuutste entstof is nie. Sommige van hierdie goed maak nie eens sin nie, maar sy glo dit omdat iemand dit vir haar aangestuur het. (Soms dink ek die internet is ʼn groter euwel as wat dit ʼn aanwins in ons lewens is.)

Maar ja, vele dekades sedert jou geboortedag maak jou nie noodwendig wyser nie. Inteendeel, as mens nie met ’n goeie porsie gesonde oordeel gebore is nie, sal jy seker enige ding glo wat aan jou opgedis word. Ongelukkig het die kerk en vriende ʼn baie groter invloed op ons gesonde denke as waarvan ons bewus mag wees. Maar mense wat dieselfde dink sal mekaar seker vind en soos virusse saamkoek en groei.

Soos ons al hoe langer op die Corona virus pad stap, kom al hoe meer dinge ook aan die lig. Soos dat dit nie net “ou” mense is wat doodgaan nie maar ook “gesonde” vriendinne wat soos vlieë om my val. Wat my hart laat ruk van skrik is wanneer daardie persoon ʼn dekade of meer jonger is as ekself. Dat skoliere ook bitterlik siek word en daaraan doodgaan. Dat jy langtermyn gevolge hiervan kan dra soos verswakte longe en selfs maande later steeds siek en swak voel, en soms nog later eers daaraan doodgaan. Dat ʼn gesonde, fikse, jong man weke later skielik met orgaanversaking gediagnoseer word en letterlik by die dood omdraai. Sy liggaam binne twee weke onherkenbaar afgetakel en hy maande later nog sukkel om behoorlik asem te haal. Sy dae van maraton hardloop is dalk vir altyd verby. Nie net sukkel hy met ʼn liggaam wat hom in die steek gelaat het nie, maar ook om sy gedagtes in lyn te kry met die feit dat hy een dag nog fiks en gesond was, en die volgende dag byna voetjies eerste by die voordeur uit.

As jy tans kanker het, of in die verlede kanker gehad het, is jou kanse om aan die Covid-19 dood te gaan, AANSIENLIK hoër – tussen 28-33.6% en in minder as dertig dae. Ons praat nie eens van diabetes, kroniese lewer- en nierversaking, hart- en long kwale, ens., nie. En miskien die skrikwekkendste van als, dat indien jy ernstig siek van die Corona virus geword het, die kanse dat sluimerende kankerselle in jou liggaam geaktiveer kan word met 20-25% verhoog. Dit het minder as drie maande geneem voordat my blakend gesonde, jonger vriendin, met borskanker gediagnoseer was en haar Onkoloog het bevestig dat daar ʼn aansienlike toename is in kankerdiagnoses by diegene wat Covid onderleë gehad het.

Is dit werklik wat enige persoon vir homself wil hê? Die moontlikheid om langtermyn gesondheidsprobleme te hê, of selfs kanker op te doen, deur iets wat so maklik voorkom kon gewees het? My drie breinselle kan daardie twee begrippe net nie bymekaarbring nie. Waarom sou mens willens en wetens jou hele toekoms en gesondheid in jou hande neem en Russian Rolette speel? En nee, God gaan jou nie beskerm en gesond hou nie, want indien dit so was, sou niemand ooit siek geword het nie. Mens moet ook darem nie onnosel wees nie, want dit sê dat jy nie jou gesonde, Godgegewe verstand kan of wil gebruik nie. Ek dra my veiligheidsgordel wanneer ek bestuur, sluit saans die deure en sorg dat ek gesonde kos eet en gooi nie my hande in die lug met ʼn “laat God’s water oor God’s akker loop” terwyl ek vertrou vir die beste nie. Miskien is my geloof net nie groot genoeg om hierdie te verstaan nie, maar vra ook maar vir enige van daai anti-inspuiting-mense, hulle sluit ook hul deure en so aan, let so wragtag op wat hulle eet, maar oh weë, kan net nie die verantwoordelikheid neem en voorkomend optree nie.

Al my oorlewende vriende het nou alreeds in die ry gestaan en ʼn dubbele dosis anti-freeze, aluminium kleursel, e-coli, aap lewer, marmot- en baba embrio selle, varkbloed, insekte en watse ander **** ookal, in hul bo-arm laat inspuit. Nie ʼn enkele een van ons het eers ʼn sniffel opgetel nie, so waarvoor is die mense dan so bang? En nee, die regering gaan jou nie afluister en agtervolg nie. Dink daaraan, hulle kan nie eens misdaad beheer nie, so hoe op dees aarde gaan hulle die hele bevolking probeer beheer? En stel enigiemand werklik belang in wat jy in jou alledaagse lewe aanvang? Dis nie asof die meeste van ons belangrike ding doen of met groot geheime rondloop nie.

So ja, ek sit maar op my handjies en sê liewers niks vir my liewe suster nie, al het sy kanker oorleef en al dink ek sy is onverantwoordelik met haar gesondheid. Sy moet maar haar knoffelpille drink en ek hoop dat dit haar sal beskerm. Maar ek gaan ook nie ʼn hipokraat wees en ʼn “Word Gou Gesond Kaartjie” pos vir die dag wat ek hoor sy lê in die hospitaal nie. Pappie het ons hoeka geleer dat mens in die bed moet slaap wat jy vir jouself opmaak, en al het ons dieselfde pa, weet ek nie of dieselfde boodskap in beide van ons se gedagtes grond gevat het nie. Sommige leer net bietjie stadiger as ander, of so lyk dit vir my.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    23 November 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 76
Kommentaar telling: 95

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 369 gaste aanlyn

Bydraes – Argief