GEE VIR MY DIE TELEFOON!
Gaan roep my ma,
loop met die goue gange af,
en gee vir haar die foon,
ek wil haar dringend iets vra?
Mamma, ek wil weet,
wat sê ek vir jou klein feetjie ding,
haar hart het ophou sing.
Sê vir my wat moet ek maak,
wanneer die lewe vir haar moeilik raak?
Gaan maak gou tee,
ek hou aan,
as jy terugkom dan praat ons wee…..
….jou brose poppie kind,
loop heeltyd teen die wind,
gaan vra Iemand daar,
wanneer kry dit nou klaar?
Mamma, praat nog so bietjie,
sing vir my jou geliefkoosde kerk liedjie,
ek sal saam neurie, noot probeer hou,
dan sê ek koebaai en “ek mis jou”.
More bel ek weer,
sê vir die engel dis ‘n oop lyn,
want jou kind gaan bel,
jou nog stories vertel,
aanhou bel, tot die Son weer
oor haar dogterjie skyn.
Ek weet wanneer jou telefoon lui,
en die engel jou gaan roep,
en ‘n stemmetjie jou groet,
wanneer sy jou Ouma noem,
gaan jy, jou poffertjie lyf voor God maak staan,
en aandring op Sy aandag,
nie gister nie, ook nie more nie,
maar vir VANDAG!
So ek bel jou weer more,
hou die lyn oop,
miskien kon jy God met jou al jou jare se gebede, omkoop.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.