Hartsverlange – (Brons)
Hartsverlange – (Brons)
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
tussen legio sterre flonkerend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
waar pyn kristalliseer in enkel’ traan
gedy gister-gedagtes folterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
liefde wentel in wye wentelbaan
ewig buite bereik dog skitterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
in die na-nag van slierte grootheidswaan
ontwyk tastende troos verpletterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
as alleen floreer in solo bestaan
nie meer genoeg is, maar kil kenterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
gun mý ook die hartstog wat nooit sal taan
gun mý ook die koest’ring betowerend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2024 – OOP projek