James Bond en die Stomp Aap
James Bond en die Stomp-aap
Zanzibar is die enigste plek ter wêreld waar ʼn mens die Rooi Stomp-aap (Red Colobus Monkey) kan sien. Eks nou nie ‘n aapkenner nie, behalwe vir my tuinwerker, maar hy’s darem nie so skaars hier in Oos-Afrika soos die stomp-aap nie. Mense betaal baie geld om na Zanzibar te reis en in die woude met gidse te stap, net om vlugtige kyke na die rare, skaam ape te kry, maar wag, ek loop my storie vooruit.
Ons kom met die veerboot van die vasteland af aan en stap die ent na die vismark op die rand van Stone Town, hoofstad van Zanzibar. Dis altyd warm en drukkend, en hier by die vismark stink dit soos niks op aarde nie. Skoonmaak en afskrop is nie baie hoog op die agenda nie, sake doen en geld maak is die eerste prioriteit. Dis vreemd dat die dinge wat mens se emosies of sintuie tot hul uiterste beproef, juis die dinge is wat ʼn mens altyd onthou, goed of sleg.
Daarom sal ek nooit Zanzibar se vismark vergeet nie, en verstaan mooi, ek hou van vis, enige vis, raak selfs emosioneel oor lekker vis, maar dié herinnering gaan geheel en glad nie oor emosies nie, dit gaan oor stank. Dit stink verskriklik, soveel so dat jou asem in die snikhete wegslaan en jy jouself stilletjies belowe dat vis nie meer op jou spyskaart sal voorkom nie. Die vlieë is dan natuurlik ook erg, soos ‘n swart wolk kom hul aangevlieg, soveel so dat ek die drie seuns vermaan om almal hande vas te hou sodat die swart gevaarte hulle nie kan wegdra nie. Die skubbe en viskoppe en velle en derms lê op ‘n stomende hoop wat kriewel van brommers en vlieë en vlieglarwes, rondloperhonde lek en snuffel aan die uitskot en net so ‘n paar meter verder speel ‘n paar kleingoed in ‘n droë modderplas, gewoond aan die hitte en die stank en die vlieë. Ons suiker maar vinnig aan na die vervoer area, want ons gaan na die ooskus vir ‘n paar dae se ontspanning.
My oudste is die vlotste in die voertaal, Swahili, en hy word aangesê om die nodige reëlings te tref. Ons het plek bespreek op die ooskus van die eiland by die Red Monkey Inn. Wat se fasiliteite dit behels, sal ek later verduidelik. Wel, na ‘n lang verduideliking waarvan ek net gedeeltes kon verstaan, word dit duidelik dat ons die risiko loop om die aansluitende vervoer na die ooskus betyds te kry, en dus moet ons so ‘n ekstra sjilling of tien betaal sodat die gekose taxibestuurder ons betyds daar kan kry. Met groot haas doen ek die betaling en ons vyf, tesame met ‘n baie goeie vriend, spring in die minibussie. Oudste seun sit voor, want hy moet gesels en tolk, die res sit agter, elkeen op sy eie sitplek, want seuns is mos so. Die bestuurder vermaan ons om vas te hou, want die pad is stamperig en hy gaan blykbaar die spoed bietjie aandraai om ons betyds by die aansluitpunt te besorg.
Die minibus skommel en brul en die toeter skree soos ‘n gewonde dier om al wat leef en beef uit die pad te jaag, want ons is haastig en ons het mos betaal. Die pad is taamlik smal en daar’s oral slaggate en mense met fietse, donkies, kinders en vroue met enigiets van brandhout tot emmers op hul koppe. My groot seun en die bestuurder is tussendeur in gesprek oor die gevare van so vreeslik vinnig ry, met vertolkings laggend na ons kant toe wat agter rondskommel. Hy is vol glimlagte en wil hom skeur van die lag, want die bestuurder het hom meegedeel dat hy nou selfs vinniger gaan ry, van ʼn gevaarlike 45 km/h tot ‘n waaghalsige 60 km/h. Ek wonder of die bussie dit sal kan verduur en of die bestuurder se vernuf opgewasse is hieraan.
Op hierdie oomblik bars my seun uit van die lag en lig ons in dat die bestuurder hom nou net gesê het hy is ‘n professionele bestuurder, wat natuurlik my twyfel in sy vermoeë vinnig laat kwyn, en ook dat hy nou vinnig, soos James Bond, gaan bestuur om seker te maak ons kom betyds by ons bestemming. Die twee jong manne wil hulself natmaak van die lag en ons drie grootmense moet ons eie gelag maar tussen die stampe en toeterklanke wegsteek terwyl ek my werklike waardering vir die ekstra spoed en die bestuursvernuf in my eie gebroke Swahili vorentoe oordra, terwyl beelde van ons bestuurder in ‘n 1967 Ashton-Martin in my gedagtes meng met beelde van Sean Connery wat ʼn mini-bussie in Zanzibar bestuur.
Ons het toe die aansluit-bus verpas, of hy het nooit opgedaag nie, maar vroulief het ‘n klein vragmotortjie voorgekeer en na ‘n vlugtige onderhandeling is ons ‘n geleentheid na The Red Monkey Inn gegee. Oudste is weer voorin en ons ander agterop. Hier gewaar ons ‘n knaap met ‘n kikoi (omdraailap) en ‘n frokkie wat meer gate is as materiaal. Hy is swarter as swart, blouswart, maar die geel kleur in sy oë gee ons ‘n baie goeie idee op wat se reis hy is of was. Hy stel himself voor as Mister Coconutti en begin dadelik ‘n diep gesprek oor geloof en die rastafariese sieninge met my vrou en my beste vriend, terwyl ek die twee jong seuns beskerm en keer dat oorhangtakke hulle van die vragmotortjie afslaan.
Uiteindelik kom ons toe by die voorafbespreekte blyplek aan. Dis nogal baie aangenaam, met sulke dubbelkamers wat elkeen op n voortuintjie uitloop wat op sy beurt net duskant ‘n muurtjie van die strand af sit. Die sand is spierwit en fyn soos poeier. Die palmbome wieg in die windjie en die seewater is kristalhelder ligblou en net so ‘n rapsie onder 30°. Dis baie naby aan die paradys en ons is al ses dadelik in swembroeke en plakkies met handdoeke en sonbrille op pad om in die water te gaan sit en die skepping te waardeer, weg van stadsrumoer en dieseldampe.
Die sentrale deel van Zanzibar bestaan uit ‘n reënwoud, dieselfde woud waardeur ons nou net agter op ‘n vragmotortjie in die geselskap van Mister Coconutti gery het, dieselfde woud waar die Stomp-Aap woon, en hier sit ons skouerdiep in die water en kyk na die rand van dieselfde woud hier reg langs ons blyplek.
Soggens is die seuns reeds baie vroeg op, vol seesand en sout in die hare kom hul aangehardloop met sommer ‘n hele spul anderskleurige “vriendjies” wat tussen lag en skree die manne nooi om te kom sokker speel op die strand. Die sokkerbal is gemaak van plastieksakke wat styf opgerol is en aanmekaar gebind is, die doelpale is sommer takke wat in die grond gesteek is en die spanne word nie uitgeken aan hul kleredrag nie, want die is maar skraps, maar wel aan name wat luidrugtig uitgeroep word gedurende die spel. Ek hou daarvan dat my seuns hul dag begin met iets in die maag en vermaan die manne om maar af te spoel, want daar gaan nou eers ontbyt genuttig word, dan kan hul verder gaan speel.
Ons word vriendelik na die eetsaal aangestuur terwyl die kamers opgeruim word en ons beddens opgemaak word. Die eetsaal bestaan uit ‘n vertrek, nie veel groter as ‘n motorhuis nie, sonder deurraam of vensterraam, nuut gepleister en wagtend vir die eerste laag verf, wat om een of ander rede laat is. Ek vermoed dis op die aansluitingsvervoer wat nooit opgedaag het nie, maar ek hou my gedagtes vir myself.
Die tafel word ingedra, want die ander tafel is te klein vir ses mense. Dis ‘n plastiek-tuintafel wat al ‘n hele tyd in die son spandeer het, hy was in ‘n stadium wit van kleur, maar nou is dit meer grys, en ja, hy was ook plat, maar nou lyk hy meer soos ‘n branderplank met pote, maar dis ons tafel en ons kla nie. In Afrika is tafelkleur en platgeit nie van veel belang nie. Daar word ook ses stoele ingedra vir ons, en hier ook kan die verweer van tyd en weer gesien word. Ek dink twee van die stoel was familie, maar ek was verbaas oor die verskeidenheid van vorm en kleur, want nog nooit het ek so ‘n verskeidenheid stoele om een amper-tafel gesien nie. Ek en my vriend, albei groot van bou, besluit toe maar om die houtstoele by die ander tafel met ons verkose plastiekstoele te verruil, want ons sou daai goed sommer so met die sit-slag stukkend gesit het.
Nietemin, ons sit en bestel ontbyt vir ses, tesame met vier koffies en dan koeldranke vir die twee jong knape. Koffie in Swahili is “kahawa” en goed of reg is “bora”. Daar is dan ook ‘n Tanzaniese koffie wat onder die handelsnaam Kahawa Bora (seker omdat dit “goeie koffie” is) bemark word. Ons ken die “goeie koffie” en bestel dus maar, melk is opsioneel, want of dit bees, skaap, vark of dalk stomp-aap is wis ons nie en ons weet beter as om sulke kanse te waag. Elke bord ontbyt bestaan uit twee gebakte eiers, rubbereiers, soos ons hul noem, gebakte aartappels (nie skyfies nie), chapatti en aarbeikonfyt. Chapatti is basies meel en olie gemeng waarvan dan ‘n plat pannekoek-tipe brood ding op ‘n warm plaat gebak word. Dit dien as stapelvoedsel by meeste geregte en het sy oorsprong in die Indiese/Arabiese-herkoms van die mense van Zanzibar. (Die gebakte aartappels gaan my nog te bowe) Ons eet darem almal en ons magies is vol en ons bestel sommer nog koffie, want dis lekker koffie, en so met die gesels en gewag gewaar ons die aap.
Op ‘n tak in ‘n boom, net buite die gat in die muur waar die venster iewers in die toekoms nog gaan inpas, sit die Rooi Stomp-Aap vir ons en kyk. Ek besef op daardie oomblik dat ons op die rand van sy woud in ‘n amper-eetsaal, op amper-stoele by ‘n amper-tafel sit en hy, ook op die rand van sy woud, net so nuuskierig soos ons, vir ons deur ‘n toekomsvenster sit en kyk. Vir lang oomblikke staan tyd stil en ons bekyk die rare aap terwyl soortgelyke gedagtes oor ons seker ook in sy kop ronddraai. Sonder om ‘n bohaai te maak en sonder enige verdere gegroet, staan die aap op en verdwyn die bome in, terwyl ons nog stomgeslaan sit en verwonderd staar na die plek waar hy gesit het.
Vandag dink ek terug na die Stomp-Aap en die eetplek, die Red Monkey Inn, waar ons Afrika-kos geniet het, soos James Bond gery het en ‘n rare aap gesien het, en dit alles vir minder as die prys van ‘n toeris se veerboot-onkoste na die eiland en ook sonder enige inspanning van ons kant. Ek wonder steeds of die aap al ooit van James Bond gehoor het.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.