Jongste aktiwiteit:

Jesus se skemerskildery

met die dag wat sy nagklere aantrek

sit ek hier in die geluide van die skemerte

met ‘n glasie wyn afwagtend vir die nag

wat gereed maak vir die nagsimfonie

waar God met sy kwas kwistig in

mengelmoeskleure teen die horison begin verf

 

op sy doek die blou hemelse agtergrond

streep Hy silwer en blink strale na die hemel

verf perfek die silwer randjies om die wolke

wat in lae hulle lêplek kom kry

waar die Kunstenaar die lug doop

in sponswolke

tentakel silwer vingers die hemel in

 

die Bosveld se boom en veld

verkleurmannetjie voor die esel

van God se skemerskildery

groen en bruin silhoeët dit nou

na swart

die son soen die horison saggies

met die naggeluide waar

die leeu na sy maat roep

‘n jakkals tjankend antwoord

 

God voltooi sy skemerskildery

en as Hy sy verfkwas neersit

sluit ek my oë en verbeel my

ek speel op die geel

tapyt van Namakwaland

baljaar in die blou-blou branders

proe wit malvalekkers

ruik die pers laventel in die veld

volrond smaak ek die goue heuning

en vlieg ek op Jesus se liefde

wat skitterwit in my hart kom lê

 

nou wens ek ek is ‘n palet

in God se hand

sodat Hy my lewenskleure meng

selfs al is die kleure daarop

deurmekaar vermeng en sonder sin

weet ek as Hy my lewensskildery voltooi

sal die nag finaal oor my daal

en dit volkome wees soos

nét Hy dit volmaak kan skilder

 

met die nag wat my toekombers

bêre ek my skemerherinnering

in my skatkis van onthou …

 

©Kopiereg Linda du Plessis 6 Januarie 2025

 




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed