Jongste aktiwiteit:

KAN ‘N MAN DAN NIE

KAN ‘N MAN DAN NIE

 

Geskryf deur Fanus Strydom

1769 woorde

“Laudate…!” kommandeer Dorothy Moolman ons tot orde en timmer verbete met haar stokkie op die podium voor haar, “ek het ʼn belangrike aankondiging…”.

Die gezoem bedaar effens en ons skuifel haastig in ons onderskeie groepies in: basse agter, dan tenore, alte in die middel en, heel voor, die soprane.

“Ek het besluit…” dreig Dorothy ons tot absolute stilte en maak seker elke oog is sekuur op haar gerig. Dan breek sy die nuus: “ dat ons volgende maand aan die Wêreldkoorspele in Pretoria gaan deelneem.”

“Wat?!” snak Saartjie Sopraan in die voorste ry na haar asem en begin naarstigtelik soek na haar asmapompie. Op tagtig het sy maar las gehad van ʼn benoude bors, maar, wanneer sy genoeg lug in haar longe bymekaar geskraap kon kry, kon sy ʼn kanarie laat les opsê as dit kom by sing.

Vanuit die basse in die agterste ry proes oom Ben sinies:

“Jy grap seker, Majoortjie?!” Hy skuif in sy loopraam en verstel sy bril om vir Dorothy beter onder oog te kry.

“Ken jy my as die grapperige soort, Ben…?” kap sy bitsig terug en gluur hom terug tot stilte.

Ons het haar lankal “Sammajoor” gedoop, want dit was duidelik sy het haar eintlike nering as drilsersant in die weermag verpas, die dag toe sy by die Spoorweë aangemeld het as lyninspekteur.

En nou was sy ons koorleidster.

Met vaalgrys hare, amper netso kort as haar humeur en ʼn glimlaglose, platgetrekte mond het sy ons week-na-week meedoënloos en sonder genade, op-en-af tussen die note en akkoorde deur laat marsjeer in haar ononderhandelbare strewe na presisie en perfeksie. Ons was ʼn vrywillige gemeenskapskoor en bykans almal het reeds lank terug al verby die sestigmerk geskuifel. Maar dit het geen duit verskil gemaak aan haar onwrikbare verwagtinge en haas-onbereikbare hoë standaarde nie. Met die uitsondering van die tweeling-tenore,Tobie en Tienie, wat in hulle laat twintigs was, het die res van ons iewers tussen die herfs en die winter van ons lewens rondgedwaal opsoek na sin en dalk ʼn laaste bietjie pret.

“Verskoon my, mevrou Moolman!” wieg Anna Alt ongemaklik op en af in die tweede ry om verby die lastige, lang sopraan voor haar gesien te kry. Sy wuif beskeie met een hand in die lug. Dit het haar só geïrriteer dat die vrou alewig voor haar inbeweeg het en sodoende die bewondering vanuit die gehoor op haarself moontlik kon belemmer! Sy wás onthou, een van die mín professioneel-opgeleide sangeresse in die koor en het amper wêreldroem gesmaak jare gelede, as dit nie was vir die verdomde Gert Griesel op die dorp en hulle onverwagse swangerskap met klein Annatjie nie!

“Juffrou!” bring Sammajoor haar terug aarde toe.

“Dink u régtig ons is gereed vir so ʼn astronomiese uitdaging…?” suggereer Anna hoogdrawend en laat sweef haar oë afkeurend oor die res van die barbare om haar.

“Ag f*k jou, Anna!” brom oom Ben Bas van agter af.

“Oh my láwwd…” rol Tobie Tenoor sy oë vir sy broer Tienie en hou een ringbedruipte hand voor sy mond, “die twee spring nóú weer aanmekaar!” Tienie giggel opgewonde terug en vroetel aan die blink sirkonia in sy linker oorbel.

“Stilte!” blaf Sammajoor. “Ek het ons ingeskryf vir twee liedere:

“ “Kaapse Kanarie” en “Kan ʼn man dan nie” ”.

Sy krap tussen ʼn stapel papiere voor haar en hou dan twee bondels voor haar uit:

“Kom Tienie, Tobie…deel uit vir die mense.”

“Sorg dat julle die woorde volgende week ken. Intussen sal ek en Sarita die onderskeie stemgroepe se wysies opneem op die klavier.” beveel sy verder.

Sy gee vir Sarita, ons klavierbegeleidster, haar bladmusiek aan. Sarita se oë rek wyd by aanskoue van die ooglopend-ingewikkelde en aweregse akkoorde van die deurmekaar musieknote en toonlere op die papiere voor haar! Sy kyk met simpatie na ons van agter haar klavier uit en trek haar skouers verontskuldigend op.

“Klink vir my na ʼn moerse klomp K’s ?” fluister oom Ben stil-stil onder die res van die basse en wonder of dit die slimste klankkeuse was vir die, meestal kunsgebit-gevulde kakebene, van omtrent die ganse koor…

Die res van die maand oefen ons naarstigtelik vir die groot aand en verkoop ons vir ʼn vale dosyne vetkoeke en pannekoeke voor Spar, om geld bymekaar te skraap vir die uittog Pretoria toe. Sammajoor Dorothy bly onbevredig en onvergenoegd en toon min genade. Ons word, in die laaste week voor ons vertrek, opgekommandeer vir twee addisionele oefen-aande in die NG kerk se saal. Sy maak dit onomwonde duidelik aan elkeen dat sy geen mislukking sal duld nie en dat nie net háár naam nie, maar ook díe van die hele koor op die spel is…

Toe ons uiteindelik op die groot aand op die trappe van die Pretoria Stadsaal saamdrom, gereed om ingeroep te word vir ons optrede, is die hoop onder ons maar yl gesaai. Senuwees en omgekrapte mae egter, was omtrent by iedereen teenwoordig. Anna Alt maak dit haar goedbedoelde taak om aan enige-een wat wil luister te verduidelik dat ons (vingerwysend na almal, behalwe haarself),  heel moontlik níe vanaand die mas gaan opkom nie en die hooggeplaaste beoordelaars heel waarskynlik gladnie gaan beïndruk nie…

“Man Anna, hou jou bleddie smoel…!”

Oom Ben Bas hinkepink dreigend nader en wys met sy loopraam in haar rigting.

Anna vlug teen die trappe op en kies ʼn solo-posisie vanwaar sy haar professionele asemhalings-oefeninge alleen en met hygende borste oor haar denkbeeldige aanhangers in kan oefen:

“Ka-ka-ka-ka-kaaaaaa….!”

“Oh my láwwd…” rol Tobie en Tienie Tenoor oë vir mekaar en druk ʼn paar laaste krulle in plek in by mekaar se identies-styfgespuite koorkapsels.

O my genadetjie tog….” hyg Saartjie Sopraan en suig vir oulaas verbete aan haar asmapompie.

Dit is tyd.

Ons stap, waggel, hinkepink, of mince benoud agter Sammajoor Dorothy aan die verhoog op. Dáár skarrel ons verbete om mekaar in een stuk by die stellasie op te kry en op die regte plek staangemaak te kry. Skouer teen skouer, nes Sammajoor ons ingedril het. Uiteindelik word ons stil en staar vir ʼn oomblik geskok oor die volgepakte saal voor ons in die dowwe lig. Dan kyk ons na haar…

“Ladies and gentlemen…” klink die aankondiging oor die luidsprekers. “Please welcome, all the way from Mpumalanga, South Africa….the Laudate Community Choir!”

Gedempte applous…

Sammajoor lig haar arms hoog bo haar kop en begin haar stokkie ritmies swaai:

“Een, twee, drie. Een, twee…” tel sy woordloos met haar mond en dreig ons een laaste maal met haar pikswart oë…

“Kaa…!” spring Tobie Tenoor te vroeg uit die blokke uit en sluk benoud sy tong toe hy besef hy het sopas die onvergeefbare sonde gepleeg!

“Kaaaaaap…!” val oom Ben Bas haastig in om op te vang en nie agter te raak nie.

“Kaa-ha-haap!” besluit Anna Alt om ook nie op haar te laat wag nie en tril uit volle bors saam.

“O genadetjie tô..hô….hôg! begin Saartjie Sopraan onkeerbaar hoes en soek verbete by haar voete na die asmapompie wat sy buite in die gang in haar handsak moes los.

Hier en daar klink ʼn gegiggel uit die donker gehoor op…

Die beoordelaars kyk op van hulle boeke af…

“Dit was jy…!” draai Anna Alt beskuldigend om en swaai haar vinger voor oom Ben Bas se neus.

“Ag k*k, man!” blaf hy terug en stamp haar hard op die toon met sy loopraam.

“Einaaaa…!” gil sy histeries en steier vorentoe. In die val kry sy vir Tienie Tenoor aan die hare beet.

“Hey, cool dit antie!” flap hy verbouereerd met klingelende armbande bo sy kop.

Saam tuimel die twee in stadige versnelling teen die stellasie af en land in ʼn verstrengelde bondel bene, hare en juwele in blou togas voor die geskokte Sammajoor se voete neer.

Sy staar vir ʼn wyle met afgryse na die spartelende paar voor haar. Die stokkie nog steeds bo haar kop gelig…

Agter haar begin die skare meteens skaterlag en luidkeels hande klap.

Dan dop haar oë stadig en bleekwit om in haar kop en val sy flou neer langs die ander twee.

Heelwat later die aand, in die bus oppad terug Nelspruit toe, stap oom Bennie Bas stadig in die gangetjie op en af. Om sy nek hang die silwermedalje wat ons toe uiteindelik gewen het.

Nadat die mediese personeel vir Sammajoor gelawe en hoenderkop van die verhoog af weggelei het, het Sarita plegtig by die beoordelaars gaan pleit of ons asseblief tog maar ons ánder lied kan sing en of hulle ons ʼn tweede kans sal gee. Hulle het ingestem en ons het, onder begeleiding van Sarita op die klavier, ons tweede lied gesing. Foutloos en met een, samehorige stem, soos dit ʼn wêreldklas-gemeenskapskoor van ʼn klein, plattelandse dorpie betaam:

“Kan ʼn man…kááán ʼn man dan nie…!”

Onder dawerende applous het Tienie en Tobie weerskante van oom Ben ingehaak toe ons triomfantelik van die verhoog afstap. Saartjie Sopraan het skoon ʼn tweede asem gekry en ʼn effense rieldans uitgetrippel agter ons aan. Anna Alt het vir oulaas omgedraai in die hoop dat iemand dalk tog, iewers vanuit haar dankbare gehoor, vir haar ʼn ruiker blomme sou gooi….maar toe het sy nederig vooroor gebuig, kop-omhoog regop gekom, weggedraai en kruppel-kruppel agter ons aangedraf agter die gordyn in.

“Ag Majoortjie…!” klap oom Ben Bas vir Sammajoor Dorothy op die rug waar sy peinsend en dikbek by die bus se venster sit en uitstaar die duisternis in.

“Kyk wat het ons gewen!”

Hy hou die medalje voor haar neus en lag uitbundig: “ ʼn Silwer nogal, sê ek jou!”

Sy staar afkeurend na die stuk metaal, asof dit die silwer muntstuk van ʼn verraaier was…

“Dit moes goud gewees het, Ben…góúd sê ek jou!”

Hy trek haar uit haar sitplek uit en begin haar teen haar sin agter hom aantrek die gangetjie af, terwyl ons almal laggend en uit volle bors saamsing en hande klap:

“Kan ʼn man…kááán ʼn man dan nie!”

© Fanus Strydom

 

 

Nota deur die skrywer:

Die verhaal is geskryf met nederige erkenning aan die Laudate Koor van Nelspruit van wie ek self ook ʼn trotse lid was. Langs oom “Bennie Bas”, “Anna Alt”  en al die ander sangers, koorleiers en begeleiers wie se identiteite ek hier verskuilnaam het. Ons het inderdaad in Julie 2018, tydens die Wêreldkoorspele in Tswane, ʼn silwermedalje losgesing in die kategorie: Amateur Senior Kore.

Tot groot satisfaksie en absolute blydskap van almal, want ons het hard gewerk daarvoor en dit deur en deur verdien. Anders as in die verhaal hierbo, was ons optrede egter uiters professioneel, heeltemal foutloos en van hoogstaande gehalte. En uiteraard sonder enige van die bogenoemde, fiktiewe, flaters, foute en floutes…




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed