
Kersfeesdag op die plaas
Kersfeesdag Op Die Plaas.
Dis die dag voor Kersfees
die yskaspoedings word gemaak en ryk
gebakte poedings staan bottergeurig klaar – – –
Vleispasteie en skaapboude word klaar berei
en die hoenders vroeg kersoggend met
braai – aartappels en die groentes, daar is
baie wat moet eet saam met die plaaswerkers – – –
Ons hou die pad dop bo van die witrandjie af
want teen die middag verwag ons familie van
ver af en as die stof kilometers daarvandaan
by die baken uitslaan weet ons hier kom hulle
oom Chrisjan en tannie Gesie in sy lekker
sessilinder Chevvie two, en dan die blye
oor en weer groet en na almal se welstand vra – – –
Die skaaptrop kom op Kersdag wei-wei werftoe
drink water en lê herkouend en rustig onder
die koelte van ‘n kameeldoringboom – – –
Die werkers luister saam na die erediens
en sing meerstemmig saam met hul pragtige
ryk stemme en na die diens verby is word
hulle eers versorg met heerlike borde kos
en second helpings vir die wat nog wil hê
en poeding soveel as hulle kan eet – – –
Pa en oom Chrisjan maak intussen musiek
en speel Sankies, dis ou hallelujas op die
akkordion en ghitaar, en so neurie die werkers
tussen die lekker eet deur saam, en ons in
die kombuis sing saam en kry die tafel gereed – – –
Nadat almal versadig en versorg is gaan ons
ook aansit en eet aan al die lekker kos en later
kom help hulle om die skottelgoed te was- – –
Laat namiddag drink die skape weer water,
hulle haal oor, word gesê, en is wei – wei weer
terug veldtoe, na die veepostoe waar water is – – –
So was ons jaarlikse pastorale kersfees gevier,
in eenvoud maar met almal tevrede en gelukkig – – –
Janetta – Helena [Babs] ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek