Die reën is in die rym
Vanoggend koer die duiwe weer
in kanon in die Kaap.
Die populiere langs die boulevard
se blare
kroon in eindjaargroen.
Maar daar by jou
is dit net sand
en kluit
en klip.
Ek wis jou hande hunker
om oor die halms van lang gras te streel,
jou palms –
om ‘n pluim van saad te stroop.
Maar die velde lê nou immervaal
en waar die vlei eens nog geloop het,
kraak die klei.
Die dam is dor en leeg . . .
Jou oë bly opgeslaan
na die koper koppies in die niet
(dáárvandaan sal die roes stof kom).
Die son verskroei
en die wolk bedrieg.
Die wind waai leë beloftes rond.
Die aarde skreeu om reën.
Jy draai terug . . .
na die warm skadu’s
van jou sinkdak stoep,
na waar die lafefenis so weinig is
dat die hoop jou (soms) beskaam.
Dis byna Kersfees –
en jy wil wúrg aan al die droog.
Maar hier
vanuit die Kaap
bid ek seëngebede
vol donker waterwolke
en ‘n oorloop, blinkblou dam.
Ek vra dat daar sal weiding wees,
genoeg vir al jou skape.
En dat elke ooi van jou
– in die nuwe jaar –
net meerling lammers lam.
© Carma Shaw
22 Desember 2016
2 Kommentare
-
Kiekies
Wat 'n allesomvattende pragtige gebed, oorvloedig in seen, waarmee jy hierdie puik gedig eindig!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek