Jongste aktiwiteit:

Kinderspeletjies (Goud) 575 Woorde

Onthou u nog speletjies soos wegkruipertjie en tok-tokkie? Ek en my broers het hierdie speletjies nie net in die helder daglig gespeel nie. O nee! Die opwinding was soveel groter om in die pikdonker na die een te gaan soek wat wegkruip of om aan die buurman se deur te gaan klop en dan in sy eie erf, agter sy eie struik vir hom weg te kruip.  Wanneer ons met heimwee hieraan terugdink, besef ons egter gou dat dit nie meer moontlik is vir kinders om so vrylik te speel nie en ons gaan koop sommer dadelik nog ‘n paar rekenaarspeletjies om te sorg dat die kleingoed veilig onder oë in die huis bly.

Ons berokken kinders egter enorme skade deur hulle in die huis te hou uit vrees dat hul sal seerkry.  Sien, nou werk die grootspiere nie soos dit moet nie, die fynspiere bly ook agterweë en ons het kinders wat nie altyd so goed vaar op skool nie. Indien die grootmotoriese ontwikkeling nie op peil is nie, sal die fynspierontwikkeling agterweë bly.  Daarom is dit belangrik dat kinders speel, veral in die peuter en kleuterjare.

Wanneer wegkruipertjie gespeel word, word daar vir ‘n vale gehardloop en gesoek na ‘n geskikte wegkruipplek.  Dan word die lyfies so klein en dun moontlik gemaak om agter bome, plante en mure in te pas.  Soms word die been en armspiere tot die uiterste beproef wanneer daar in bome geklouter word, om tog net nie raakgesien te word nie.  Einde ten laaste volg die inspan van die lyfie in die resies tussen die soeker en die wegkruiper na die blokplek.

Wat van spanspeletjies soos “swingball”, “rounders”, rakertjie, toontjietrap en balspeletjies? Al hierdie aktiwiteite bewerk die spiere sonder dat die kind dit agterkom, omdat hy homself so geniet! Toutrek is nie net vir deelnemers aan Suikerkaskenades nie.  So ook nie sakresies, lepel-en-eierresies en kussinggeveg op ‘n dwarslat nie.  Dit is alles speletjies wat tuis gespeel kan word.

Deur te speel, oefen die meeste spiere in die liggaam, raak die kind goed moeg en laat hom uiteindelik ontspan. Dit bevorder die grootspiere van die liggaam wat weer verseker dat die fynspiere na wense ontwikkel.  Dit bevorder die kind se vermoë om die fyner takies wat hy benodig om ‘n sukses van sy skoolloopbaan te maak, te bemeester.  Hieronder sorteer:

  • Korrekte liggaamshouding (sit en staan) – die liggaam is fiks en soepel
  • Deursettingsvermoë en konsentrasie tydens formele onderrig – die kind word nie gou moeg in ‘n druk akademiese program nie
  • Korrekte potloodgreep – die skouergordel en skouers is sterk en help die fynspiere met fyner take
  • Netheid in skoolwerk – die kind se spiertonus is op peil, daarom sit die kind korrek by sy lessenaar, wat bevorderlik is vir netheid en taakvoltooiing
  • Selfvertroue en waagmoed – die kind neem graag deel aan klasaktiwiteite en met die regte ingesteldheid
  • Selfdissipline – ‘n kind wat nie pap en moeg voel van niksdoen nie,  sal graag sy verpligtinge in ‘n dag nakom, sodat hy kan gaan speel!

Die voordele om vrylik te speel, kan nie genoeg beklemtoon word nie.  Indien daar sekere tye ingestel word waartydens fone neergesit en televisiestelle afgeskakel word, sal kinders maklik gewoond raak daaraan om heerlik buite te baljaar, veral indien daar ‘n veilige plek in die tuin afgestaan word vir hulle.  Dan kan hulle na hartelus hardloop, spring, bollemakiesie slaan en met balle speel.  indien hulle meeste van die tyd so heerlik kan speel én natuurlik deelneem aan sport en atletiek by die skool, word hulle optimaal gestimuleer na liggaam, siel en verstand.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed