Jongste aktiwiteit:

Leef u kind in ‘n warm of koue huis? (Goud) 522 Woorde

Hierdie vraag het niks met fisiese hitte en koue te doen nie.  Die vraag wat u eerlik aan uself moet antwoord is: Is my kind se ouerhuis vir hom ‘n plek van liefde en aanvaarding? Is dit ‘n plek waarvan hy onvoorwaardelik deel is? Is dit vir hom sý plekkie in die (warm) son?”

Jeugmisdaad en onaanvaarbare jeugpraktyke is altyd in die nuus.  Dit is een van daardie dinge wat daagliks om ons gebeur, waarvan ons sê: “Ek hoop en vertrou dat my kind nie tot so iets sal verval nie.”  Dan maak ons ‘n vinnige opname van ons lewenstyl: ons woon in ‘n goeie woonbuurt, my kind se maats is kinders van vriende.  My kind kry genoeg kos, klere en speelgoed en is in ‘n uitstekende skool.  Nee wat, als is nog reg hier by ons.  My kind het nie nodig om te roof of te moor nie.   Hy het genoeg van alles. My kind sal ook nooit ‘n slagoffer van mense met duistere motiewe en dade wees nie, want hierdie dinge gebeur net met kinders uit gebroke of armoedige huise.   Dit is egter waar ons opname stop.  Ons kennersoog gaan nie verder, tot in die diepste wese van ons huisgesin nie.  Daar, waar die deure toegaan ná ‘n harde dag, die son van ‘behoort aan’, nog helder moet skyn.  Daar waar, wanneer die magies versadig is ná ‘n heerlike aandete, die hartjie ook versadig moet voel aan Pappa en Mamma se liefde.  Waar die duur speelgoed tweede viool moet speel vir vertroulike geselsies met Pappa en ‘n halfuurtjie in Mamma se arms.

In baie huise gaan kinders koud slaap, al het hulle baie komberse oor hulle.  Mamma het vir Kleinding bed toe gestuur met die belofte dat sy later ‘n laaste draaitjie sal maak, maar sy was te besig of te moeg.  Kinders dwaal koulik deur goed-gemeubileerde vertrekke, want Pappas en Mammas kyk oor hulle kinders in hulle gejaagna wind.  Pappas en Mammas stry gereeld oor hoe die kinders gedissiplineer behoort te word.  In die proses word dissipline onredelik en onkonsekwent toegepas en is dit maar weer die kinders wat daaroor ly.  Kinders in hierdie huise voel altyd ‘n gemis en hulle het geen naam vir hierdie vreemde, leë gevoel in hulle binneste nie.  Wanneer hulle dan groot is, vind die brullende leeu van misdaad hulle dwalend, soekend na iemand om hulle lief te hê, iemand om hulle te verstaan.  Die misdaadwêreld aanvaar hulle met ope arms en ‘n warm glimlag.  In hierdie vreemde plek is jy iemand, beteken jy iets en vind jy jou plekkie, hoe twyfelagtig ookal.  Wanneer jy egter uitgedien is, word jy uitgewerp na ‘n plek waar daar niks ander is behalwe koue nie.

Laat ons nie veralgemeen nie.  Daar is kinders wat grootword in warm, veilige  huise en steeds die pad byster raak.  Daar is ouers wie se onvoorwaardelike liefde hul kinders nie vrywaar van mense met kwade bedoelings nie.  Ons moet egter altyd aanhou om ‘n warm ouerhuis in stand te hou, ‘n hawe in ‘n somtyds wrede wêreld.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed