Jongste aktiwiteit:

Resensie: MY HART DANS, die film

My Hart dans, die film

‘n Seuntjie kom in die winkel om kaas te koop; die winkelier is besig met pryse uitreken met ‘n leweransier. „Hoeveel kos drie-honderd kilogram van dit-en-dit teen soveel-en-soveel ‘n kilo? En twee-duisend liter van dat? En dat…? En dat…? Nou my kind?”

Soos uit ‘n pistool kom die antwoord geskiet, „Twaalf-duisend-agt-honderd-ses-en-dertig…” „Skryf dit op.” Die leweransier is verbaas: „Gaan jy glo wat so ‘n snotneusie vir jou sê?” „Skryf dit op!”

Die seuntjie: „Dit wil sê, jy maak drie-en-sewentig persent wins op al daai goed?” „Pssj, pssj! Bly stil! Niemand moet dit weet nie.”

[Mein Herz tanzt (Dancing Arabs); 2015; r. Eran Riklis, met Yaël Abecassis, Ali Suliman, Tawfeek Barhom, Daniëlle Kitsis, Michaël Moshonov; 104 min.; IL; vanaf 6 jare.]

So ‘n rakker móét eenvoudig in die beste wetenskapshoërskool in Jerusalem opgeneem word. ‘n Oom sê, „Miskien is hy die eerste Arabier wat ‘n atoombom bou!” En Eyad [Barhom] word dan opgeneem. As eerste, enigste, allenigste Palestyn in ‘n joodse skool. Hy is ‘n Moslem, praat arabies. Maar sy nasionaliteit is israels, en hy kan om ‘n israelse paspoort aansoek doen. (In ‘n notatjie aan die begin van die film word verklaar dat twintig persent van Israel se burgers moslems is – Palastyne.) Ons leer hom ken as kleintjie, wat in ‘n „Outonome Gebied” naby Jerusalem grootword: Hoe die onderwyser sy hande met ‘n lineaal stukkendslaan omdat hy volhou met „My vader is ‘n terroris,” wanneer die klas in volsinne op die vraag moet antwoord, „Wat maak jou vader?” „Jou vader is tog ‘n dagloner.”

In sy nuwe skool in die hoofstad van Israel kry hy swaar, en sy klasmaats maak dit nie makliker nie. In geskiedenis moet hy nou dinge leer en in ‘n opstel of referaat weergee wat hy anders geleer het, moet die Tora in Hebreeus hardop voorlees, waarby sy arabiese uitspraak uitgelag word. Maar sy familie – en hy self – wil dat hy die beste opvoeding in een van die beste skole in Israel kry om ‘n puik matrieksertifikaat te kan voorlê.

As deel van sy buitemuurse aktiwiteite moet hy ‘n sosiale taak verrig. So leer hy Jonatan (Israeli-engels: „Yonatan” – sê Jo-na-taan) [Moshonov] ken, ‘n seun in sy ouderdom wat aan die krimp (of verdwyning) van sy spiere ly; hy is vasgeketting aan sy rolstoel en het as ‘n soort panser teen die buitewêreld ‘n skerp sarkasme ontwikkel. Eyad: „Is jy van geboort aan so?” Yonatan: „Is jý van geboort aan Moslem? Is dit dalk aansteeklik?” Die twee word vriende, want albei voel dat hulle buitestaanders in die geselskap is.

Op ‘n goeie dag kom ‘n klassenkameradin waar hy in die biblioteek swat, en stel hom ‘n vraag oor die huiswerk. Naomi [Kitsis] en hy word vriende en beleef saam „die eerste liefde”. Nou moet hierdie liefde geheimgehou word, want altwee families se sosiale agtergronde is so verskillend dat hulle net slegtes oor die ander te sê het.

Romeo en Julia in Jerusalem, en waar is Pater Lorenzo wat hulle kan help?

Jonatan se moeder Edith [Abecassis] beleef hoe haar seun en en hierdie Arabier goed met mekaar klaarkom, sy verstaan Eyad se probleem wanneer Naomi se ouers hul kind van die skool afmeld, nadat hulle ontdek dat sy met ‘n Arabier bevriend is, en sy probeer om op een of ander manier ‘n versoening te bewerkstellig. Sy sê ook dat sy bang is om snags met Jonatan alleen in die huis te bly, en vra Eyad om daar te kom woon. Dan moet hy nie meer in die arabiese krotbuurt woon nie. Later ontdek sy dat hy ‘n bankrekening vir homself in Jonatan se naam ingerig het. . .

Naomi móét terugkom skooltoe, sy is ook ‘n hoogbegaafde skolier; hy word uit sy familie geskors en moet sy eksamen ekstern aflê en ook kyk dat hy geld verdien. En dan sterf Jonatan. . .

Eyad moet ‘n besluit maak wat sy hele lewe gaan omdop, vir altyd kan verander. En ook Edith, Yonatan se moeder, moet kies. . .

Die film berus op ‘n ware gebeurtenis: In 2002 het Sayed Kashua Dancing Arabs geskryf, ‘n half-outobiografiese roman oor hoe hy self in ‘n joodse meisie verlief was en het dit ‘n bietjie „gedramatiseer”, sê hy. Hy het ander boeke geskryf wat almal in tot twaalf tale vertaal is. Sy tema was meestens die alledaagse probleme van die arabiese bevolking in Israel. Hy self was Arabier met Israelse paspoort. En hy was een van die vooraanstaande joernaliste by die groot koerant „Haaretz”. Hy het saam met Riklis aan die draaiboek vir die film gewerk, ofskoon hy reeds in 2014 met sy familie na die Verenigde State geëmigreer het, juis omdat hy nie meer aan die integrasie-eksperiment kon glo nie.

Dis ‘n goeie film, werklik uit die boonste rak wat storie, daarstelling en alles aangaan – geen swak punte nie.

Dis twee dinge tegelyk: ‘n Pleidooi vir vreedsame saamleef en verdraagsaamheid in ‘n polities verskeurde land; tweedens die soektog van ‘n jong mens na die eie identiteit, asook na gelyke beregtiging in ‘n wêreld wat soiets nie ken nie. Dit eindig nie met ‘n Hollywood-happyending, maar ook nie met die Shakespere-tragiek nie. Dis die moeite werd.

Sonder twyfel vyf sterre.

©.2015…………………….◄]:o(…|☼☼☼☼☼|…(o;Þ……………………………….tje

Meer as ’n jaar later kom die film weer, Sondagaand in die program „Kirche und Kino”, en die tema is aktueel soos nog nooit nie! En my geesdrif loop oor soos op die eerste dag.

©.tje……………………..c]:o(٤.☼☼☼☼☼.(o;[>……….16e.Januarie2017




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed