Jongste aktiwiteit:

Klong (Hoofstuk Twee) ©Eduard Smith

Die motorligte trek lang strepe deur die bome onder op die plaaspad. Dreyer trek homself op in die kampstoel en gooi nog ‘n stapeltjie hout op die vuur. Sy oë volg die ligte wat vinnig nader kom.
“Wie ry hierdie tyd van die aand op die plaas rond?” dink hy.
Hy luister of die dreuning bekend klink. Die motor stop meters van waar hy sit. Die hoofligte skyn in sy oë en hy kan nie sien wie in die kajuit sit nie. Die ligte doof en hy hoor hoe die enjin afgeskakel word. Die deur gaan oop en klap sekondes later weer toe. Die silhouette verskyn uit die donker totdat die lig van die vuur die identiteit openbaar.
“Wat maak jy hier?”
“Ek probeer al die hele dag bel. Jou foon bly af. Ek het geweet jy sal hier kom wegkruip as die wêreld jou druk.”
“En skielik verbeel jy jou jy ken my, Francois? Ek kruip vir niemand weg nie!” Dreyer se stem is krasser as wat hy beplan.
“Wat soek jy hier?”
“Komaan Dreyer. Natuurlik het ek ‘n rede om jou te kom soek. Almal is bekommerd oor jou. Dis nie nét jy wat ‘n geliefde verloor het nie.” Francois praat sag en trek ‘n stomp nader waarop hy homself sit-hurk plattrek. “Jy kan nie alleen wegkruip en treur nie. Jy het jou familie nodig…en hulle vir jou.”
“Ek treur al twaalf jaar…moenie vir een oomblik dink julle weet waardeur ek gaan nie.” Dreyer staan op en sorteer deur die hout wat hy aan die verste kant op ‘n hopie gepak het. “Wie het jou gestuur?”
“Niemand…”
“Bullsh…ek sien my pa se neurose hierin. Het hy weer sy handlanger opdrag gegee want hy kan nie sy eie vuil werk doen nie?”
“Maarten het niks hiermee te doen nie Dreyer. Ek het jou die hele dag gesoek en later besef jy het hierheen gery. Jy het nog altyd op die plaas kom troos soek…op hierdie plek…”
“Hierdie plek ja. Hierdie plek waar ek my binneste uitgeryg het…hierdie plek waar ek myself verneder het. Hierdie is my plek…my plek van troos en jy is nie welkom hier nie…” Hy praat hard. Die speeksel spat nat oor die vuur en sy vinger, wat hy na Francois uithou, voel hoe die vlamme daaraan lek. “Klim in jou kar en gaan vertroos iemand anders.”
“Ek gaan nêrens nie. Ek wag al twaalf jaar om hieroor met jou te praat. Niks keer my meer nie. Ons gaan hierdie saak vanaand uitsorteer…en ek ry nie tot dit gebeur nie.”
“Jy is ‘n dekade té laat Francois. Ek het geen behoefte om oor haar, oor jou, oor my verraderlike ouers of oor jou ouers te praat nie. Annemarie se kanker het nie net haar dood nie, maar ook die verlies aan enige sin veroorsaak. Ek verkies om alleen te wees. Haar dood is nie ‘n kom-uit-die-tronk kaartjie vir jou nie…”
“Ek is jammer…jammer dat jy so seergemaak is…maar ek bly net hier tot jy met my praat…of dan net luister…” Francois kriewel in sy hemp se sak. “Annemarie het vir jou ‘n brief geskryf…ek het dit in haar lessenaar se laai gekry…”
Dreyer kyk skielik om. Die trane teen sy wange is natstrepe wat vrylik op sy hemp drup. Die beeld aan die anderkant van die vuur swem in die nattigheid wat sy oë vul. “Vir my…?” sy stem kraak en opeens is die damwal, wat vir jare waggehou het oor die troebelwaters in sy binneste, stukkend. Die seer skeur oor sy lippe in ‘n ongekende geluid. Hy sak stadig op sy knieë maar voor hy homself op die grond kan bondel is Francois se arms om hom. Hy trek hom op en met sy oop hand rus hy Dreyer se kop op sy skouer. Hy voel hoe die rouheid, in snikke en nattigheid, óók deur sy lyf vibreer.
“Huil die seer uit Klong…” Hy fluister “…ek is hier…dis dalk té laat, maar ek is hier.”
Dreyer se arms trek stywer om sy middellyf en die jare se seer breek soos droë takke in ‘n stormwind.
Dreyer vee met sy bo-arm onder sy neus. “Jy het my jare laas Klong genoem…”
“Ek het baie dinge jare laas gedoen…ek het jare laas die regte ding gedoen. Die tyd het aangebreek.”




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed