Klong (Hoofstuk Drie) ©Eduard Smith
Hulle sit aan weerskante van die vuur wat helder brand in die koel aandwind.
“Jy het vir amper twaalf jaar nie met ons gepraat nie, Dreyer. Ek weet nie eens waar om te begin om te probeer verduidelik nie. Jy weet, ek treur ook oor Annemarie. Jy kan nie die pyn kaap nie.”
Dreyer breek aan ‘n droë takkie in sy hande. Hy kyk stadig weg en staar verby die ligkol wat die vuur teen die bome maak. Sy oë soek in die donker. Dalk kruip die troos daar weg, en kan hy dit gebied om ook in die lig te kom staan. Hier om die vuur waar Francois se oë op hom brand en sy eie woede groter is as ‘n pleister-plak-gesprek.
“Jy soek troos omdat die dood by jou kom steel het Fransie. Die lewe het by my gesteel, en vir hoeveel jare moes ek loop en herkou aan my pyn. Nou wil jy vir my vertel ek kaap dit?” Dreyer het homself nie eens voel opstaan nie, maar toe hy weer helderheid kry staan hy met sy hand stewig geklem om Francois se keel. Hy verslap sy greep en skuif sy hand tot op Francois se skouer.
“Ek is jammer…”
Francois maak sy keel skoon en praat hees. “Ek verstaan jou beter as wat jy dink, maar nou moet jy vir my ‘n kans gee om te verduidelik. Sit asseblief…wil jy iets drink?”
“Nee…dankie.”
“Sal ek praat of wil jy eers Annemarie se brief lees? Ek moet ‘n draai loop. Is dit reg?”
Francois het weggestap terwyl Dreyer in sy baadjiesak begin vroetel vir die brief. Die groen koevert het dik in sy hande gelê met die woorde: “Vir my boetie, Dee” wat woordloos in sy ore suis. Die knipmes gly onder die tong van die koevert wat ‘n lywige brief onthul. Hy vou stadig daaraan oop en kry die bekende reuk van Oriental Lace. Die parfuum speel nog ‘n paar reuknote in sy neus voor die rook in sy gesig waai. Sy hande bewe toe hy haar handskrif herken.”
“My liefste Boeta,
Ek het hierdie brief seker al ‘n honderd kere begin en opgeskeur. Nou sit ek hier met die wete dat die kanker my van binne-af opvreet en as ek nie nou klaar skryf nie gaan die graf my vir ewig stil maak. Ek wens jy was nie so kwaad al hierdie jare nie, want ek sou graag voor jou wou sit om my gewete skoon te kry. Maar ek wil jou nie verwyt nie, want as daar een persoon in hierdie gemors is wat werklik onskuldig is, is dit jy. Ek is so jammer dat ek jou seergemaak en vervreem het. Ek is jammer dat ek nie eerder die tyd uitgekoop het om met jou te praat nie. Ek het baie kere probeer maar jy was té seer om daaroor te praat. Toe jy London toe getrek het na my en Francois se troue, was dit vir my, en vir hom, die moeilikste tyd. Ons het die baba 4 maande later verloor en ons was nie een opgewasse vir die gevolge nie.
Ek moet vandag met jou eerlik wees my liewe Dreyer. Die baba was nie Francois s’n nie, en hy het nét met my getrou om die Regter, en die naam van die Du Preez’s te beskerm.
Die aand met my 19de verjaarsdag was ek so opgewonde en gelukkig. Onthou jy vir Gustav, Francois se neef, die seun van die Regter se broer? Kan jy onthou hoe mooi ons in die motorhuis gedans het? Kan jy onthou dat ek vir jou gesê het ek is verlief? Die aand was so mooi en ek het so spesiaal gevoel. Van die seuns het bier by die partytjie gedrink en Gustav, wat een van die manne wou wees het ook gedrink. Ek het hom gekonfronteer en hy het baie aggressief opgetree. Boeta, hy het my so seer gemaak en my name toegesnou wat ek nie verdien het nie. Daarna het hy my agter die motorhuis vasgedruk en geforseerd met my seks gehad. Die wat later geweet het, het gesê dis verkragting maar ek wou net aanhou glo hy was kwaad. Ek het daardie aand vir niemand vertel nie. Die volgende dag kon ek nie meer nie en het met Pa gaan praat. Hy het vir oom Soois gaan konfronteer. Jy het daardie Saterdagoggend vroeg vertrek terug Universiteit toe. Ek kan nie mooi onthou nie, maar ek dink dit was eksamentyd vir jou. Ek het nog deur my kamervenster gesit en kyk hoe jy en Francois by jou klein karretjie gestaan en lag het…”
Die kraak van ‘n tak agter hom trek skielik sy aandag. Hy lig sy oë van die brief en draai om. Die trane in sy oë laat Francois soos ‘n skim in die donker nag lyk.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.