Swart hings
Swart sê ek jou, pikgitswart soos donkermaan se donkerte. Glimswart soos wat die son oor die rondinge en die kurwes speel. Net die sit was donkerbruin leer; pasgemaak om die ruiter gemak te gee tydens die rit. Hemels!
Die verkoopsman, sekerlik ‘n Jood, het my eers ‘n koppie koffie aangebied en my verduidelik van die nodige versorging van my nuwe ryding. Tussendeur het hy ‘n papier voor my ingeskuif wat ek moes teken om die koop offisieël te maak. Toe het hy weereens verneem of “Miester De Jongh” nog enige inligting of afrigting verlang voordat die ryding hulle perseel verlaat.
“Nee wat jongman, jou eerste touwysing was baie goed en ek verstaan die hand-voet beheer en ook van die versorging” seg ek hom en skuif die getekende papier en die £ 260 koopsom oor die tafel na hom toe.
“Kom dan saam Miester De Jongh en laat ons die bul by die horings pak” en hy staan op terwyl hy glimlag soos ‘n man wat iets weet waarvan ek niks weet nie.
En daar in die vertoonkamer staan die swart gedaante – my eige Fordjie, die koepee van die Model T van Henry daar oor die water in Amerika. Pragtig blink en ‘n lus vir die oog. Net so terloops loer ek in die aanstap na die agterkant. Darem geen bolle wat die neusvleuels laat kriewel soos wat jy nou sal kry as jy jou ryperd – die van vel en been waarmee ek al die jare van kindsbeen af grootgeword het – hier sou staan maak nie.
Ek kry my sit, hoed op die kop en pyp vasgeklem in my mond, trap die vloerpedaal in terwyl die verkoopsman die enjin lewendig krink. Versigtig verstel ek die hefboom hier by die stuurwiel, lig my voet effe en die Fordjie kruip uit die vertrek. Had ek nie my pyp in my mond nie sou my ore beslis nie my glimlag van plesier kon keer nie!
Met ‘n “Totsiens Miester, en veilige reis” waai die Joodjie (hy is toe waaragtig een; dit het ek toe uitgevind) my ‘n groet toe terwyl ek die hefboom weer verstel en my swart “hings” my stuurmanskap gehoorsaam en die pad vat uit die dorp uit.
Gemaklik en sonder nodigheid vir spore in die lieste drafstap die motorkar die stofpad af en die horison wink al nader, en sommer gou ook. Die oop pad ‘n avontuur wat wag.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2018 projek